Die uitbraak van bek-en-klouseer (BKS) in Suid-Afrika het ontwikkel tot een van die ernstigste veeartsenykundige en landboukrisisse in dekades. Terwyl produsente regoor die land worstel met kwarantyn, verlore inkomste en onsekere marktoegang, het ’n bitter politieke woordewisseling tussen die DA en die ANC daaroor uitgebreek
Die twis tussen die land se twee grootste politieke partye handel oor wie die eer verdien vir die hervatting van plaaslike produksie van BKS-entstowwe ná ’n onderbreking van 21 jaar.
For the first time in over 20 years the first locally produced FMD vaccines are being produced by the ARC. This historic breakthrough marks another crucial chapter in our war against FMD. pic.twitter.com/PAKWT95Fe6
— John Steenhuisen MP (@jsteenhuisen) February 6, 2026
Die aanloop tot die stryery was ’n aankondiging op 6 Februarie deur die minister van landbou, John Steenhuisen, dat Suid-Afrika weer plaaslik vervaardigde BKS-entstowwe by die Landbounavorsingsraad (LNR) produseer. Die eerste proefgroep van sowat 12 900 dosisse is reeds vervaardig met behulp van moderne bioreaktortegnologie wat aangepas is vir die SAT 1-, 2- en 3-serotipes wat in Suider-Afrika voorkom. Volgens die departement is die doel om produksie teen Maart tot 20 000 dosisse per week te verhoog, met ’n langtermyndoelwit van 200 000 dosisse per week teen 2027.
Steenhuisen en die DA het die ontwikkeling as ’n deurbraak en ’n stap na “entstofsoewereiniteit” beskryf – ’n poging om Suid-Afrika minder afhanklik van duur en onbetroubare invoere te maak, en uiteindelik sy BKS-vrye status by die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) te herwin.
Die aankondiging het egter met ’n skerp eskalasie van die siekte saamgeval. Bevestigde gevalle is reeds in agt van die nege provinsies aangemeld. KwaZulu-Natal bly die nasionale episentrum, met meer as 200 aangetekende uitbrake, waarvan die meerderheid steeds aktief is. In die Wes-Kaap is BKS op 6 Februarie amptelik in Mbekweni by Wellington bevestig, met verdagte gevalle in onder meer George, Mosselbaai en dele van Kaapstad. Gauteng en die Vrystaat het intussen nuwe gevalle by groot voerkrale en suiwelbedrywighede gerapporteer.
Die Wes-Kaapse regering het op die krisis gereageer deur R100 miljoen toe te wys vir entstowwe en beheermaatreëls. ’n Omvattende 21-punt-plan is in werking gestel, wat streng bewegingsbeheer, 24-uur-grensposte, verskerpte monitering en onmiddellike inenting in besmette en omliggende gebiede insluit. Premier Alan Winde het gewaarsku dat die fokus nou is om ’n multimiljardrandbedryf en duisende werksgeleenthede te beskerm.
The Western Cape government says roadblocks have been set up across the province to restrict animal movement and further prevent infections. More than 320 cases of foot-and-mouth disease have been reported nationwide. A vaccine rollout is underway to contain the outbreak. Tune in… pic.twitter.com/E8Y46SDqvo
— eNCA (@eNCA) February 8, 2026
Teen hierdie agtergrond het die politieke geskil oor die krediet vir die entstofproduksie vinnig vererger. Die ANC se parlementêre studiegroep oor landbou het Maandag ’n verklaring uitgereik waarin hulle die DA se aanspraak dat Steenhuisen “alleen verantwoordelik” was vir die hervatting van plaaslike produksie as “feitelik onakkuraat” bestempel. Volgens die ANC is die grondslae reeds jare gelede gelê, met LNR-wetenskaplikes wat sedert 2010 aan nuwe entstofvariante en moderne produksiemetodes gewerk het. Hulle wys ook daarop dat ’n plaaslik ontwikkelde BKS-entstof reeds in 2023 geregistreer en aangekondig is – vóór Steenhuisen se aanstelling as minister.
STATEMENT ON SETTING THE RECORD STRAIGHT ON FMD VACCINE PRODUCTION AND DEBUNKING THE DA’S MISLEADING CLAIM pic.twitter.com/ajRY4bs6Le
— ANC Parliament (@ANCParliament) February 9, 2026
Landboukundiges en produsente-organisasies kyk intussen met toenemende frustrasie na die debat. Kenners waarsku dat die huidige produksieskaal, hoe belangrik ook al op lang termyn, op kort termyn weinig sal doen om die aktiewe uitbrake te stuit. Met ’n nasionale kudde van miljoene diere word die beskikbare dosisse as ’n “druppel in die emmer” beskryf. Daar is ook kommer oor logistiek: Onder bestaande regulasies bly BKS-inenting hoofsaaklik ’n staatsfunksie, en daar is twyfel of die staat die kapasiteit het om entstowwe vinnig en wyd genoeg toe te dien.
Bek-en-klouseer versprei vinnig en stel boere onder druk.
Vul hierdie vorm in om jou steun te gee. Bennie van Zyl neem dit direk na die Bek-en-klouseer Koördineringsraad: https://t.co/bdJmYPLQUo pic.twitter.com/qqVdo0wMJb
— TLU SA (@sa_tlu) February 9, 2026
Ekonomies raak die druk al hoe swaarder. Beperkte uitvoermarkte, sluiting van melkerye en streng bewegingsbeperkings kos die rooivleis- en suiwelbedryf daagliks miljoene rande. Organisasies soos Saai en TLU SA dring daarop aan dat BKS as ’n nasionale ramp verklaar moet word, en ook dat die private sektor ’n groter rol sal mag speel.
Terwyl die DA en ANC stry oor wie die politieke eer verdien, bly die realiteit op plase onveranderd: BKS is ’n groeiende nasionale krisis. Die hervatting van plaaslike entstofproduksie kan uiteindelik ’n strategiese oorwinning wees, maar vir boere wat vandag onder kwarantyn sit, bly dit ’n belofte wat nie die onmiddellike nood verlig nie.
