Bekende Belgiese joernalis in die sop oor seksistiese opmerkings op die lug

  • 0

De Morgen berig dat die Belgiese nuusdiens VRT die joernalis Eddy Demarez voorlopig geskors het oor sy opmerkings oor die Belgiese vrouebasketbalspan. Demarez het afgelope Saterdag tydens ’n regstreekse uitsending hoorbare neerhalende opmerkings oor lede van die Belgian Cats-basketbalspan gemaak. Omdat die mikrofone sonder sy wete nog aan was, is sy seksistiese en homofobiese kommentaar uitgesaai, en almal kon dit hoor.

Demarez het na sy skorsing verskoning aangebied en sy gedrag verduidelik aan die hand van die heersende euforie met die verering van die Olimpiese span. Die Belgian Cats en Basketball Belgium was egter nie tevrede nie en het daarop aangedring dat Demarez afgedank word.

“De vraag leeft of iemand met zulke meningen nog op een geloofwaardige manier als presentator en boegbeeld van onze openbare omroep kan fungeren. Wij zijn ervan overtuigd dat het antwoord hierop ‘neen’ luidt,” sê die organisasies in ’n verklaring. Die voorsitter van Basketball Belgium, Jan van Lantschoot, het ook laat blyk dat dié organisasie regstappe teen die VRT oorweeg en noem die gebeure tekenend van ’n “diepgeworteld en structureel probleem. Dat los je niet op met excuses of door één statement te maken.”

Intussen sê die voormalige Belgiese basketbalster Ann Wauters in ’n berig in Het Nieuwsblad hierdie tipe uitsprake kom algemeen voor.

“Ik was altijd dat manwijf. En altijd datzelfde grapje: Hé mijnheer, voor u zijn de wc’s die kant op.” Sy sê as vroue net effens te manlik lyk, sal jy dit te hore kry. “Als je lichaam buiten de norm valt – omdat je groot bent, of brede schouders hebt – zal het zéker opgemerkt worden. Wie in een vrouwensport iets te mannelijk is, wordt daarop afgerekend.”

De Morgen berig dat ’n wetenskaplike aan die Universiteit van Rotterdam, Frank Zoethoutmaar, die gebeure toeskryf aan die machokultuur wat op verskeie sportredaksies heers. Zoethoutmaar sê die seksistiese opmerkings wat met hierdie kultuur saamhang, is die direkte gevolg van ’n onderverteenwoordiging van vroue op sportredaksies.

“Mannelijke journalisten vinden zichzelf over het algemeen genderneutraal en zien daardoor niet de noodzaak om erover te reflecteren,” sê Zoethoutmaar.

Of die VRT bereid gaan wees om verandering in hul sportredaksie in te voer, sal ’n mens maar moet sien.

Dit reën medaljes vir Nederland

Nederland het geskitter in die pas afgelope Olimpiese Spele en nie minder nie as 36 medaljes in hul sak gesteek. In terme van medaljes was dit Nederland se suksesvolste spele ooit. Die Nederlandse span het 10 goue, 12 silwer- en 14 bronsmedaljes huis toe gebring. Die atleet Sifan Hassan en baanfietsryer Harrie Lavreysen het elk drie medaljes – twee goud en een brons – gewen. Die atletiekspan het agt medaljes gewen, waarvan twee goue medaljes vir Hassan in die 5 000 en 10 000 meter. Abdi Nageeye het op die laaste dag vir oulaas ’n silwermedalje ingepalm. Die roeispan het vyf medaljes gewen, waarvan een goud, en die swem- en seilspanne het albei drie medaljes gewen. Die Nederlandse span het ook uitgeblink in hokkie, handboogskiet, judo, boks en perdesport.

Koningin Maximá het ook nie op haar laat wag om Hassan geluk te wens nie:

Vet in die vuur vir aanvaller

Die eienares van ’n kitskosrestaurant in Rotterdam het afgelope Sondagaand ’n rower met ’n pan vol kookolie uit die restaurant verwilder. Die rower het volgens die polisie omstreeks middernag by die restaurant opgedaag en geld geëis. “De eigenaresse twijfelde geen moment en gooide het frituurvet in de richting van haar belager,” sê die polisie. Volgens die uitsaaier Rijnmond het van die olie op die aanvaller se rug gespat. Dit is egter nie bekend of hy daardeur beseer is nie. Die polisie het die gebied gefynkam, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Surinaamse skryfster moontlik haar prys kwyt

Die bekroonde Surinaamse skryfster Astrid Roemer is onder skoot nadat sy op die sosialemediaplatform Facebook haar simpatie teenoor die omstrede Desi Bouterse uitgespreek het. Roemers het enkele maande voordat sy die Prijs der Nederlandse Letteren sou ontvang, op haar blad geskryf: “Onze Surinaamse gemeenschap heeft DDB* hard nodig gehad om zelfbewuster te worden. Merci Man.” (*Desi Delano Bouterse)

Bouterse is in 2019 deur die Surinaamse Krygsraad tot 20 jaar tronkstraf veroordeel vir sy rol in die Desembermoorde. Dié sogenaamde Desembermoorde behels die marteling en later moord van 16 prominente kritici van Bouterse se regime. Hulle is in die middel van die nag na Bouterse se kantoor geneem, waar hulle gemartel en later vermoor is. Die Komitee vir die Herdenking van Slagoffers in Suriname het heftig gereageer op Roemer se stelling en ’n beroep op die Nederlandse Taalunie gedoen om standpunt in te neem teen Roemer se “anti-democratische en anti-rechtsstatelijke uitlatingen”. Roemer het vantevore ook in die joernaalprogram Nieuwsuur gesê: “Maar ik ben geneigd om Desi Bouterse te geloven als hij zegt: ik heb geen burgermoorden gewild. Ik geloof hem.”

Roemer het in 2016 die PC Hooft-prys gewen.

Die wolf weer voor die deur

Dit is nie net in Suid-Afrika waar ongediertes soos rooikatte en jakkalse ’n probleem is nie. In Nederland word in toenemende mate melding gemaak van wolwe wat vee doodbyt. Maar dit is nie net plaasvee nie. NU.nl berig verlede week dat ’n wolf die Nationaal Park De Hoge Veluwe binnegedring en ’n aantal moeflons – ’n soort wilde skaap – doodgebyt het. Wat dit opmerklik maak, is dat die park juis omhein is om wolwe of ander roofdiere uit te hou. Maar by nadere ondersoek is vasgestel dat die heining, wat sowat 40 km lank is, op verskeie plekke deurgeknip is. Nou, minder as ’n week later, het wolf se kind opnuut onder die moeflons in die Hoge Veluwe gemaai. Die moeflons is belangrik vir die biodiversiteit van die park, sê beheerder Jakob Leidekker. Hy is bekommerd omdat ervaring in Noord-Duitsland en die Noord-Veluwe geleer het dat daar waar wolwe verskyn, die moeflons verdwyn. Die park is nou op soek na wettige maniere om die wolf, of wolwe, uit die park te hou, ondanks die feit dat wolwe beskerm word en nie deur die park verjaag mag word nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top