Bekende letterkundige in Afrikaans-Nederlands sterf

  • 0

Die bekende skrywer en letterkundige Ampie Coetzee is in die ouderdom van 81 jaar in die Paarl oorlede aan hartversaking.

Coetzee, wat ’n persoonlike vriend en tydgenoot was van Breyten Breytenbach, was ook  ’n taalstryder en vurige vegter teen sensuur. Hy was  ’n stigterslid van die Breytenbach Sentrum in Wellington en eretrusteelid van die sentrum.

‘N HARTSEERDAG BY SENTRUM NA AMPIE COETZEE STERF Die Breytenbach-Sentrum in Wellington het met diepe hartseer verneem...

Posted by Breytenbach Sentrum on Thursday, October 15, 2020

 

Coetzee was ’n afgetrede professor in Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van die Wes-Kaap. Hy het vir 40 jaar van sy akademiese lewe Afrikaanse poësie doseer. Hy was eers ’n dosent by Wits (Universiteit van die Witwatersrand) en daarna by die Universiteit van Natal in Durban. Hy was ook ’n gasprofessor by die Universiteit van Essen in Duitsland en die Universiteit van Utrecht in Nederland.

Hy het in die tydperk van streng sensuur ’n beduidende rol gespeel. In 1973 kry hy saam met Chris Barnard, John Miles en Bartho Smit beheer van die Johannesburgse tak van die Afrikaanse Skrywerskring. Met die verbod op André P Brink se Kennis van die aand vroeg in 1974 stig hulle ’n fonds vir die verdediging van die boek en reik sterkbewoorde verklarings oor die aangeleentheid uit.

Nadat van die ander lede beswaar aangeteken het teen hulle standpunte, het hulle bedank, wat indirek gelei het tot die stigting van die Afrikaanse Skrywersgilde in 1975.

Saam met Ernst Lindenberg en John Miles stig Ampie in 1975 die onafhanklike uitgewer Taurus. As medestigter van Taurus was hy verantwoordelik vir die publikasie van vele belangrike literêre werke waarvoor meer gevestigde uitgewers weens die vrees vir sensuur nie kans gesien het nie.

Hulle eerste publikasie was ’n Oomblik in die wind van André P Brink en hulle gee ook verskeie van Breytenbach se werke uit. Coetzee was vanaf die stigting tot met die ontbinding daarvan in 1990 met die koms van demokrasie ’n direkteur van Taurus.

Hy was getroud met Anne-Ghrett Erasmus, kurator van die Breytenbach-galery.

"Die Trust, direksie, personeel en vriende van die Breytenbach Sentrum spreek sy hartseer uit teenoor Ampie se vrou Anne-Ghrett Erasmus en hul seun Kobus, asook sy seun Marko uit sy tweede huwelik en Marko se vrou Karen en twee kleinkinders, Etienne en Eloïse," aldus die Breytenbach Sentrum. 

Ampie het sy doktorsgraad in 1971 aan Wits onder leiding van NP Van Wyk Louw ontvang met ’n studie oor ritme en skandering, wat later gepubliseer word. In Poësie en politiek skryf hy oor politieke betrokkenheid in die poësie en die middels wat die politieke vers gebruik, terwyl Marxisme en die Afrikaanse letterkunde die impak van hierdie ideologie op die letterkunde ondersoek.

As samesteller en redakteur lewer hy ook ’n groot bydrae. Hy stel die bundel And death white as words, met Engelse vertalings van Breyten Breytenbach se gedigte, saam en skryf vir hierdie bundel ook ’n insiggewende inleiding.

In 1981 is hy redakteur van Hulsels van kristal, ’n huldigingsbundel aan Ernst van Heerden vir sy 65ste verjaarsdag, en Woorde teen die wolke, ’n bundel opstelle opgedra aan Breyten Breytenbach.

Met Ernst Lindenberg se 60ste verjaarsdag is Ampie in 1988 redakteur van die huldigingsbundel Woorde open die beskouing. Saam met Hein Willemse stel hy in 1989 die bloemlesing van protespoësie, I qabane labantu. Poësie in die noodtoestand, saam en in 1990 is hy saam met James Polley die samesteller van Crossing borders, wat die referate bevat wat gelewer is tydens die historiese samekoms van die toe nog verbode ANC en Suid-Afrikaanse skrywers by die Victoria-waterval in 1989.

Sedert 1962 het hy 12 boeke gepubliseer, as redakteur en as skrywer, onder andere twee bloemlesings, met inleidings, van die poësie van Breyten Breytenbach, waarvan die jongste Die hand vol vere (Human & Rousseau) is. Sy mees onlangse publikasie is ’n Hele os vir ’n ou broodmens. Grond en die plaasnarratief sedert 1595 (Human & Rousseau, Van Schaik, 2000).

Sy belangstelling het hoofsaaklik by die verhouding tussen letterkunde en samelewing, en letterkunde en politiek gelê. Op daardie gebiede het hy baie in geakkrediteerde tydskrifte gepubliseer.

  • Bykomende bronne: LitNet en Wikipedia
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top