Bekende letterkundige ontruim sy pos na omstrede rubriek

  • 0

Die storm wat in die Afrikaanse letterkunde losgebars het oor ’n omstrede rubriek deur een van die land se bekende letterkundiges, Hennie van Coller, het gelei tot sy bedanking as voorsitter van die Letterkundekommissie én as raadslid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Van Coller het sy bedanking Maandag aangekondig nadat al hoe meer mense geëis het dat hy nie net verskoning vra vir sy omstrede rubriek nie, maar dat hy ook moet bedank.

Sy bedanking hou verband met die debatte wat ontstaan het oor ’n rubriek van hom, “‘Gewone mense’ word al hoe meer randfigure”, wat 7 Mei op Netwerk24 verskyn het. In sy rubriek besin hy oor die verskynsel van “randfigure” in kinderboeke, maar hy is uit verskeie oorde van homofobie beskuldig.

In reaksie op die debat het die Akademie op 19 Junie 2022 ’n verklaring uitgereik waarin hulle daarop gewys het dat die rubriek die siening van die rubriekskrywer is en nie dié van die Akademie nie.

Die Akademie sê in ’n verklaring Van Coller se bedanking beteken vir die Akademie ’n enorme verlies aan intellektualiteit en ervaring. “Ons onderskryf oop gesprek en debat oor enige aangeleentheid omdat dit aan die wese van intellektuele diskoers lê.”

Van Coller sê in sy bedanking hy wil graag ongekwalifiseerd verskoning aanbied as hy  deur sy woordkeuses enige persoon (of groepering) te na gekom het of onsensitief oorgekom het. Hy sê dit was werklik nie sy bedoeling nie. 

Gemoedere het die afgelope naweek verder opgevlam nadat Rapport berig het dat Van Coller drie van sy kollegas met ’n lastereis gedreig het omdat hulle kritiek uitgespreek het oor sy rubriek.

In sy bedanking sê Van Coller hy wil dit duidelik stel dat hy nie gevra is om te bedank nie, maar dat hy dit self besluit het; óók omdat die voortslepende polemiek gelei het tot groot emosionele spanning by hom én sy gesin. 

Die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands het ook in ’n ope brief ’n versoek aan die Akademie gerig  dat Van Coller onvoorwaardelik om verskoning vra vir die dreigemente wat volgens mediaberigte aan kollegas gerig is of, indien hy weier om dit te doen, dat die Akademie as oorhoofse liggaam dit namens hom doen.

In sy rubriek het Van Coller onder andere aangevoer daar sluip te veel politieke korrektheid by kinderboeke in. Volgens hom word te veel voorkeur gegee aan kwessies soos “molestering, verkragting, owerspel, siekte, dood, geestesprobleme, die verlies van ledemate, sintuie, homoseksualiteit, rasseprobleme en dergelike”.

Twee lede van die Akademie se Letterkundekommissie, onder Van Coller se voorsitterskap, Marius Crous en Andries Visagie, het verlede maand uit dié liggaam bedank weens die onaangenaamheid rondom die menings wat Van Coller in die reeds genoemde Netwerk24-rubriek oor randfigure in kinder- en jeugverhale gelug het.

Nog ’n lid van die Akademie en ook vorige lid van die Letterkundekommissie, Susan Smit, het die afgelope naweek op Facebook geskryf sy is geskok oor Van Coller se dreigemente van regstappe teen sy kollegas. Sy sê sulke optrede strook nie met die gees en gesindheid van die Akademie nie.

“As prof Van Coller nie self uittree as voorsitter van die Letterkundekommissie, of gevra word om uit te tree nie, doen dit die kommissie en Afrikaans in die breë se reputasie geweldig skade,” sê Smit in haar Facebook-inskrywing.

Sy sê in ’n tyd waarin Afrikaans op soveel fronte onder beleg is, is hierdie uitsprake van Van Coller eenvoudig onaanvaarbaar. “As vorige lid van die Letterkundekommissie en lid van die SA Akademie skaar ek my heelhartig by my kollegas, Visagie en Crous.”

Die digter Johann Lodewyk Marais het op sy Facebook-blad geskryf Van Coller se posisie is ná sy rubriek en die verdere verwikkeling onhoudbaar in die Letterkundekommissie. Marais sê andersins kan die prosesse van “kanonisering” (een van Van Coller se akademiese fokuspunte) deur die Akademie bevraagteken word.

Verlede Vrydag het die bestuursraad van Sasnev (Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere) ook eenparig ’n mosie aanvaar waarin Van Coller gevra word om verskoning aan te bied vir sy rubriek.

Sasnev se bestuursraad sê in ’n verklaring hulle onderskryf hul mederaadslid Andries Visagie se onlangse beslissing om uit die Letterkundekommissie van die Akademie te bedank.

“Ons standpunt is dat ’n verskoning deur professor Hennie van Coller aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gepas sou wees. Dit is ons eenparige mening dat een individu se standpunte nie die pogings van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns om relevant in die breë Suid-Afrikaanse gemeenskap te wees op hierdie manier in die wiele mag ry nie.”

Sasnev sê hulle is ’n voorstander van diversiteit op alle vlakke. “Volgens die insig van Sasnev se raad is die samestelling van talle redaksies, departemente, besture en rade in Suid-Afrika dan ook ’n aanduiding van die ‘normaliteit’ van ook homoseksuele mense se deelname aan die Afrikaanstalige kulturele lewe. Ook van die ruimdenkendheid in dié verband van die breë Afrikaanstalige publiek wat by kuns, kultuur en die letterkunde betrokke is.”

Lees ook op LitNet:

Persverklaring: Hennie van Coller bedank as voorsitter van die SA Akademie se Letterkundekommissie

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top