Bela-wetsontwerp: Die stryd duur voort

  • 0

Opposisiepartye in die parlement het die afgelope week hulle stryd teen die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die Bela-wetsontwerp) voortgesit.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys word daarvan beskuldig dat die parlement dit probeer wegsteek dat die meerderheid voorleggings wat tydens die openbare deelnameproses ontvang is, die wetsontwerp verwerp.

Volgens AfriForum is daar steeds geen aanduiding dat die besware oor veral klousules 5 en 6 van die konsepwet, wat oor beheerliggame se finale besluitnemingsreg oor taal- en toelatingsbeleide handel, werklik in ag geneem word nie.

Die DA en ander opposisiepartye het voortgegaan om kommer te opper, nie net oor die inhoud en klousules van die wetsontwerp nie, maar ook die oënskynlike verontagsaming van parlementêre prosesse en ware openbare deelname.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, beweer lede van die komitee en woordvoerders van die Departement vir Basiese Onderwys dat daar geen agenda teen Afrikaans is nie. Hulle sê dat beheerliggame steeds kan appelleer na die provinsiale onderwyshoofde as hulle nie tevrede is met beslissings oor taal- en toelatingsbeleide nie.

Bailey sê egter in ’n verklaring al word prosesse vir die goedkeuring van dié beleide aangepas, sal die regering steeds die finale besluitnemingsmag daaroor hê – anders as wat tans die geval is, waar beheerliggame uit die gemeenskap hieroor mag beslis.

“Daar was al te veel uitsprake van amptenare en politici oor die onwenslikheid van eentalige Afrikaanse skole en die departement se voorneme om dié skole na parallel- of dubbelmedium instellings te transformeer. Die gerusstellings kan nie ernstig opgeneem word nie,” sê Bailey.

Sy het na Reginah Mhaule, adjunkminister van basiese onderwys, se uitsprake verlede week as ’n voorbeeld verwys. Die minister het gesê dat leerders nie op grond van taal deur skole weggewys kan word nie.

Bailey sê die voortbestaan van eentalige onderriginstellings is die hoeksteen van moedertaalonderrig in enige taal en is veral noodsaaklik wanneer ’n kleiner taal soos Afrikaans teenoor ’n groot wêreldtaal soos Engels te staan kom. Oplaas verdring die groot taal die kleineres, ’n scenario wat hom die afgelope dekade by vele skole en universiteite afgespeel het.

“Die klousules in die Bela-wetsontwerp is ’n berekende aanslag teen enige instelling wat moedertaalonderrig volhoubaar wil aanbied, tensy dit Engelse moedertaalonderrig is. Op grond hiervan is AfriForum steeds met voorbereiding vir regsaksie daarteen besig, tensy die klousules as geheel geskrap en die huidige status quo behou word,” sê sy.

Bax Nodada, die DA-skaduminister van basiese onderwys, sê die DA sal voortgaan om die Bela-wetsontwerp te opponeer, aangesien dit poog om mag te sentraliseer ten koste van gemeenskappe en skoolbeheerliggame wat wil voortgaan om toelatings- en taalbeleide te implementeer wat hul leerders sal bevoordeel. Sy sê die wetsontwerp versuim ook om aanlyn en gemengde leer te reguleer en het versuim om die “oorweldigende” aantal voorleggings wat die tuisonderrigklousule verwerp, in ag te neem.

Nodada sê in ’n verklaring die wet spreek ook nie die ernstige sistemiese kwessies aan wat gehalte-onderwys in die land kniehalter nie: oorvol klasse, gevaarlike en onhigiëniese infrastruktuur, uitsakkers, kurrikulumoorlading, versuim om sterk geletterdheid- en syfervaardigheidsgrondslae te verseker, en gehalte-onderrig.

In Mei vanjaar is dit tydens ’n vergadering van ’n gesamentlike staande komitee oor finansiële bestuur van die parlement onthul dat die gemiddelde koste van openbare verhore R300 000 per openbare verhoor per distrik is – ’n allemintige R900 000 per provinsie.

Nodada sê dit is skokkend dat die komitee hierdie geld so wil mors deur openbare voorleggings te verontagsaam.

Die DA sê hulle sal voortgaan om alles in hulle vermoë te doen om te verseker dat openbare deelname meer is as net ’n duur, belastingbetalergefinansierde oefening wat niks beteken nie. Die party sê hulle sal nie deel vorm van die vrugtelose en verkwistende uitgawes van ’n regerende party wat nie omgee vir die publiek wat hulle veronderstel is om te dien nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top