Die Bela-wetsontwerp herinner aan die verengelsingsbeleid wat Britse owerhede kort ná die Anglo-Boereoorlog in skole toegepas het.
So sê die jeugorganisasie AfriForum Jeug in ’n memorandum wat hulle vroeër die week aan die regering oorhandig het.
AfriForum Jeug voer in die memorandum aan dat die Bela-wetsontwerp ’n direkte aanval op moedertaalonderrig in die algemeen is, en ’n indirekte aanval op Afrikaans as onderrigtaal.
“Die wetsontwerp bevat klousules wat beheerliggame van die mag stroop om self ’n skool se taalbeleid te kan bepaal en wat dit vir ouers onmoontlik sal maak om hul kinders tuis te onderrig indien die provinsiale onderwysdepartement nie vooraf toestemming verleen het nie,” sê die organisasie.
Ons gaan nie terugsit en kyk hoe die ANC ons Afrikaanse skole vernietig nie. ???????????????????? ???????????????? ???????????? ???????????????????????????????????? ???????? ???????????? ???????????? ???????????????????????????????????????? ????????????????????.
Gee aan ons jou mandaat: https://t.co/sufXnERauC. pic.twitter.com/VzpV9ExCri— AfriForum (@afriforum) April 16, 2024
Terwyl verskeie organisasies en politieke partye dreig om hof toe gaan indien die wetsontwerp goedgekeur word, is die parlementêre regsadviseur, Phumelele Ngema, van mening dat die omstrede wetgewing wel die grondwetlike toets in die hof sal slaag. Dit blyk volgens haar uit ’n regsmening wat ingewin is oor die grondwetlikheid van die wet.
AfriForum Jeug sê indien die wetsontwerp in sy huidige vorm aanvaar sou word, die toepassing daarvan sou neerkom op kulturele etniese suiwering.
Die Departement van Basiese Onderwys (DBO) het die afgelope week se betoging by die Uniegebou in Pretoria deur lede van AfriForum Jeug oor die Bela-wetsontwerp as betekenisloos afgemaak.
Elijah Mhlanga, woordvoerder van die DBO, sê dit is onvermydelik dat die Wetsontwerp, wat poog om die speelveld gelyk te maak deur te verseker dat alle leerders toegang tot enige skole het, aanvaar sal word.
“As hulle gekant is teen diversiteit, as hulle teen veelrassigheid gekant is, dan het hulle ’n probleem. Want dit is onvermydelik dat dit gaan gebeur, of hulle nou hof toe gaan of nie. Dit sal nie ’n verskil aan ons maak nie.”
Volgens Louis Boshoff, woordvoerder van AfriForum Jeug, laat die wetsontwerp Afrikaanse jongmense warm onder die kraag.
’n Groot aantal organisasies en individue het al hul teenkanting teen die wetsontwerp uitgespreek, maar vandeesweek se protesaksie toon volgens AfriForum dat die vernietigende wetsontwerp nie bloot anonieme of gesiglose mense sal raak nie, maar die jeug van die huidige en komende generasies.
Die jeug se stem sal nie gedemp word nie, daarom moet die President nou ag slaan daarop, het Boshoff gesê.
Intussen sê die DA sê in ’n verklaring terwyl die ANC-geleide regering vasberade aan die Bela-wetsontwerp bly vasklou, daar duisende vakatures in openbare skole is wat nie gevul is nie.
“Dit toon duidelik die ANC se minagting van basiese onderwys, en dit is ongelukkig nie verbasend dat ons werklike matriekslaagsyfer op 55,3% staan nie,” sê die DA se skaduminister van basies onderwys, Bax Nodada.
Nodada sê ongevulde vakatures lei tot oorbevolking in klaskamers, wat verklaar waarom sommige skole 70 leerlinge het wat een onderwyser moet deel.
“Ongevulde vakatures is egter net die punt van die seekoei se oortjies, aangesien openbare skole ’n aansienlike tekort aan infrastruktuur het. Leerlinge word gedwing om in onveilige klaskamers te sit, putlatrines te gebruik, asook om meubels, handboeke en skryfbehoeftes te deel. Dit lei tot verskriklike opvoedkundige uitkomste vir kinders, aangesien 81% van graad 4-leerders nie met begrip kan lees nie.”
Die DA sê hierdie 31 462 ongevulde vakatures is gekonsentreer in armer, meer landelike provinsies, met KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap wat die hoogste getalle het, onderskeidelik 7 044 en 6 111. Ander provinsies kan ook nie hul vakatures vul nie, aangesien hul begrotings gesny is. Die Wes-Kaap se begroting is byvoorbeeld deur die nasionale regering met byna R900 miljoen gesny.
Die DA in die Wes-Kaap sê ná oorweging van meer as 5 000 voorleggings van die publiek wat by ’n uitgebreide openbare deelnameproses betrokke was, het die Wes-Kaapse Staande Komitee oor Onderwys dié week sy onderhandelingsmandaat oor die Bela-wetsontwerp aan die Nasionale Raad van Provinsies afgehandel. Die komitee het gestem om die wetsontwerp teen te staan en aanbeveel dat dit teruggetrek word.