Die omstrede Bela-wetsontwerp is op die randjie van aanvaarding nadat agt van die nege provinsies in die land in hulle finale standpunt oor die wet aangedui het hulle steun die wetsontwerp in sy gewysigde vorm.
Die enigste provinsie wat nie die wetsontwerp steun nie, is die Wes-Kaap.
Die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) se gekose komitee oor onderwys het die omstrede wetsontwerp met nuwe wysigings aanvaar ná die afsluiting van die openbare konsultasieproses in alle provinsies nadat die wetsontwerp in Oktober 2023 deur die Nasionale Vergadering (NV) goedgekeur is.
Die NRP het gister (Donderdag) ook die finale verslag oor die wetsontwerp oorweeg. Die teks wat die NRP aanvaar, sal nou na die NV terugverwys word voor die President dit kan teken.
Die FW de Klerk-Stigting het vroeër die week sy ernstige kommer oor die Bela-wet uitgespreek.
Die stigting sê in ’n verklaring hy is uiters bekommerd oor die wetsontwerp se naderende aanvaarding, met verwysing na kommer oor die befondsingsimplikasies daarvan en potensiële impak wat dit op die gehalte van onderwys sal hê.
“Die Nasionale Tesourie se openbaarmaking dat geen voorsiening gemaak is om die wetsontwerp se implementering te finansier nie, wek ernstige kommer oor praktiese implikasies vir ons kinders se skoolopleiding,” sê Ismail Joosub, regsbeampte van grondwetlike programme by die stigting.
Daniela Ellerbeck, bestuurder van grondwetlike programme, sê die stigting is gekant teen die Bela-wetsontwerp se voorgestelde uitbreiding van verpligte skoolopleiding sonder gepaardgaande befondsingstoewysings, wat in stryd is met grondwetlike beginsels.
Sy verwys na artikel 29(1)(a) van die Grondwet, wat almal die reg op basiese onderwys waarborg, en artikel 195, wat die omsigtige en doeltreffende gebruik van openbare hulpbronne vereis.
Verder waarsku Ellerbeck dat versuim om hierdie fundamentele bekommernisse aan te spreek, die risiko skep om die grondwetlike regte van Suid-Afrika se leerders in gevaar te stel en om sistemiese ongelykhede in onderwys voort te sit en nie te verlig nie.
Die DA het verlede week in ’n verklaring gesê die DA handhaaf sy onwrikbare teenkanting teen die Bela-wet ten spyte van ’n paar welkome wysigings.
Die DA sê hulle bly diep bekommerd oor die potensiële impak van die wetsontwerp op skole en gemeenskappe, asook die versuim daarvan om sistemiese uitdagings binne Suid-Afrika se onderwysstelsel aan te spreek.
Die DA het verskeie voorgestelde wysigings aan die komitee voorgelê en gepleit vir groter outonomie en bemagtiging vir skoolbeheerliggame en plaaslike gemeenskappe.
Hoewel die gekose komitee wel ’n paar aanpassings gemaak het, ondermyn die algehele rigting van die wetsontwerp steeds ’n aantal sleutelbeginsels, sê die DA.
Dit sluit in:
- Die outonomie van skole se plaaslike bestuur wat steeds in gedrang is rakende taal- en toelatingsbeleide ondanks die veranderinge wat aangebring is.
- Die praktiese aspekte en potensiële uitbuiting van hierdie veranderinge, aangesien die klousule steeds provinsiale departemente bemagtig met die gesag om ’n skool te beveel om meer as een onderrigtaal aan te neem.
- Die sentralisering van verkryging vir onderrig- en leerondersteuningsmateriaal. Ten spyte van sommige wysigings word skole se outonomie en die kwaliteit en kostedoeltreffendheid van materiaal steeds in die betrokke klousule in sy huidige vorm beperk.
- Die DA ondersteun die voorneme om graad R verpligtend te maak, maar is bekommerd oor die implementering, befondsing en impak op ander noodsaaklike programme soos die Nasionale Skoolvoedingsprogram en leerdervervoer.
- Die DA vind die gekose komitee se benadering oor verhoogde regulatoriese vereistes vir tuisonderrig wat moontlik ouerkeuse en outonomie in hul kinders se opvoeding beperk, buitensporig lastig.
Diegene wat teen die wet gekant is, is ook diep ontsteld oor die gebrek aan betekenisvolle openbare deelname aan die wetgewende proses, soos blyk uit duisende ongeanaliseerde e-pos-voorleggings wat die ANC-meerderheid- portefeuljekomitee verontagsaam het.
Die ACDP sê hulle het die Bela-wetsontwerp beveg en hulle parlementslede het aangedring dat dit landwyd verwerp word.
We have been fighting the BELA bill and our MPs have been pushing for it to be rejected country wide. https://t.co/fT11Fz6bOw
— Tlotliso Mphuthi ???????????????????????? (@TlotlisoM_) April 30, 2024
Die omstrede Bela-wetsontwerp is op die randjie van aanvaarding nadat agt van die nege provinsies in die land in hulle finale standpunt oor die wet aangedui het hulle steun die wetsontwerp in sy gewysigde vorm.
“Die Bela-wetsontwerp se fokus op die sentralisering van mag hou te veel risiko van misbruik in en versuim om kritieke kwessies soos oorbevolking, kurrikulummislukkings en die voorsiening van veilige en voldoende onderwysfasiliteite aan te spreek,” sê Delmaine Christians, die DA se woordvoerder oor onderwys in die NRP.
Sy sê die DA sal voortgaan om te pleit vir onderwyshervorming wat werklik hierdie uitdagings aanspreek en skole en gemeenskappe bemagtig om gehalte-onderwys aan alle Suid-Afrikaners te verskaf.