België in die Kaap: ’n Fotogalery

  • 0

Die Belgiese Kamer van Koophandel en die Belgiese konsul, Karl Stouthuysen, het Saterdag 14 November die Belgiese residensie in Kaapstad aan die publiek oopgestel. Mense is genooi om iets van België te ervaar.

Slaptjips, ook bekend as “Belgian fries”, aldus die gashere, is by verskeie kraampies en met verskillende souse verkoop.

Die idee was om Belgiese maatskappye wat in Suid-Afrika handel dryf, groter lugtyd te gee onder die sambreelbeskrywing “A taste of Belgium”.

Kraampies is opgeslaan, tafels, stoele en sambrele uitgesit en kos gemaak. Verskeie rooi, geel en swart komberse is aan die publiek uitgedeel om die dag, die kos en die bier te geniet.

’n Aantal Belgiese burgers het opgedaag om hulle steun te verleen. Hierdie gesin het daarop aangedring om afgeneem te word.

Die geleentheid is geborg deur die Belgiese konsulaat en AB-InBev. AB-InBev het gekies om Stella Artois die fokusproduk te maak, die Belgiese bier wat wêreldwyd die heel beste verkoop. AB-InBev se volle naam is Anheuser-Busch InBev SA/NV. Dit is 'n multinasionale maatskappy en is die wêreld se grootste bierprodusent. Hulle hoofkantoor is in Leuven, België. Suid-Afrikaners sal hulle ken as die maatskappy wat SAB kon uitkoop.

Stella Artois is ’n ligte bier met ’n effens soet smaak, maar ’n deeglike droë nasmaak. Dit is in 2019 aangewys as die wêreld se beste lager.

Hoewel AB-InBev die dag geborg het, is verskeie ander biermaatskappye toegelaat om hulle produkte uit te stal.

Dié kersiebier het baie vreugde verskaf en het mooi by haar masker gepas. Die groot gronde het gemaak dat gaste veilig kon eet en drink sonder maskers, maar almal is gevra om COVID-19-protokolle te handhaaf wanneer hulle rondloop.

Aangesien die residensie volgens internasionale reg op Belgiese grond staan, was ons vir ’n paar uur nie op Suid-Afrikaanse grondgebied nie. Die portrette van koning Filip, koning van die Belge, en koningin Mathilde het almal begroet.

Ek het hier ’n lekker donker, bitter ale gekoop wat bekend staan as De Koninck.

Mattentaart is ’n tradisionele gereg wat van suurmelk gemaak word.

Wafels, wafels en wafels. Die Belge weet hoe om wafels te maak.

Brood ook!

Hierdie pragtige gemmerbroodhuisie is deur die aanlyn winkel Belgian Classics gemaak.

Musiek is deur Yana verskaf.

Hier is Yana met haar hoed in die styl van Uilspieël. Haar perkussiespeler is bekend as Mike.

Hergé is natuurlik een van België se bekendste uitvoerprodukte.

Het ek al genoem dat Belge lekker bier maak?

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top