Ek onthou so vaagweg die aanloop tot die 2010-sokkerwêreldbeker. Maar oor al die verkeerde redes: die verontwaardiging oor die bou van peperduur stadions wat later wit olifante sou word, die irritasie met bouwerk om elke hoek en draai om voorsiening te maak vir die res van die wêreldbevolking wat sou kom om hulle spanne te ondersteun, die vrese dat die bouwerk nie betyds gaan klaar wees nie en die stakings vir hoër lone soos die W-dag al hoe nader gekom het. Ek onthou ook hoe mense planne gemaak het om munt te slaan uit die storie ‒ deur hulle huise of ekstra kamers uit te verhuur aan sokkerondersteuners, en hoe hierdie drome soos mis voor die son verdwyn het toe die hele wêreld nié opgeruk het na die suidpunt van Afrika nie. En dan was daar die vuvuzelas ... van sokker self, weet ek byna niks nie. Ongeveer net soveel soos van rugby, al woon daar twee vurige rugbyondersteuners onder ons dak.
Maar dis weer tyd vir wêreldbekerkoors en hierdie keer sit ons pens en pootjies in ’n sokkerland wat tot die kwarteindronde deurgedring het en vandag teen Brasilië te staan kom. Ter voorbereiding vir ons jaar in België, het ons 10-jarige kannetjie verlede jaar by ’n sokkerklub aangesluit. Ek moes ook vir hom ’n Belgiese sokkerhemp kry terwyl ek ’n somerskool in Antwerpen bygewoon het ‒ om die Duitse een wat ons in 2014 op München Hauptbahnhof aangeskaf het en wat al lekker knap sit, te kon aanvul. So het ons darem probeer dat een persoon in die huis die voetbal sal kan geniet en waardeer.
As iemand wat die fenomeen tot ’n groot mate as ’n onbetrokke buitestaander beleef, het ek tot die gevolgtrekking gekom die geesvang vóór die reeks én voor elke wedstryd, en dan natuurlik die samesyn tydens elke wedstryd, is die belangrikste elemente van hierdie gebeure (of dalk selfs die sport as sulks). Want in die weke (máánde) voor die spanne en ondersteuners uit al die windrigtings op Rusland toegesak het, het die koors al begin broei. Wanneer ek my inkopies by Carrefour gaan doen, vra die student by die kasregister of ek zakjes wil hê. Afhangend van hoeveel euro’s die inkopietog ons teruggesit het, het ek dan meer of minder pakkies met plakkers van Belgiese sokkerspelers gekry. Ons knapie was aanvanklik heeltemal ongeërg daaroor, maar mettertyd het hy daarop aangedring dat ek nét by Carrefour inkopies doen (want by Delhaize kon ek net plakkers kry vir kosblikke of koffieflesse as ek reg onthou), later het hy gesorg dat ek onder sy wakende oog genóég inkopies doen (wat hy dan ook moedig help terugdra het), en uiteindelik my arm gedraai om die plakkerboek van die Belgiese Rode Duivels aan te skaf. Nou kort hy nog iets soos 40 plakkers (van seker 400!) om sy versameling te voltooi, en word ons gepes om dit aanlyn te bestel. Blykbaar kry ons 10% afslag so. Hoe nader aan Junie, hoe meer ondersteunersware vir #redtogether het in swart, geel en rooi op die winkelrakke verskyn ‒ pruike, oortreksels vir motors se kantspieëltjies, bekers, baniere, duiwelhorinkies, vlaggies, mantels, pennesakkies en selfs Rode Duivels deodorant. Maar hier het ek ’n duidelike en finale streep getrek. Ek neem wel foto’s van die vrolike ondersteuners wat die geld daarvoor uitgevurk het en dit verskaf my eindelose plesier.
Toe die Rode Duivels hulle eerste wedstryd teen Panama speel, was ons jong ondersteuner van sy Belgiese sokkerhemp tot by sy Adidas sokkerstewels reg vir die storie. Maar ’n entjie die wedstryd in het hy buitentoe verdwyn waar hy saam met ons buurvrou en haar suster en ’n vriend hulle eie sokkerwedstryd in ons klein Groot Begijnhoftuintjie aan die gang gekry het. Elke kwartier het hy vinnig die trappe opgebons om te kyk of die Rode Duivels darem al ge-score het of nog voorloop. Toe die Rode Duivels hulle tweede wedstryd teen Tunisië gespeel het, moes ons my sussie en haar man op Leuven se stasie gaan haal, en besluit om deur die Oude Markt te stap waar duisende geesdriftiges voor etlike groot skerms saamgepak het om hulle span en die Belgiese biermark te ondersteun. Die gees was so aansteeklik dat ons dieselfde byna onbegaanbare roete met die moeë reisigers weer aangedurf het sodat hulle dit ook as deel van hulle vakansie-ervarings kon inpak. Die Donderdag toe die Rode Duivels teen Engeland gespeel het, het Steyn op pad huis toe van die skool af ’n groot geluk getref toe hy hom in ’n groep Spaanse sokkergeesdriftiges vasgeloop het. Hulle was besig om voorbrand te maak vir Spanje se wedstryd teen Rusland die Sondag, en Steyn is nou die trotse eienaar van ’n Ramos-sokkerhemp, al was dit toe ook Spanje se adiós in 2018 se Wêreldbeker.
Intussen het ons die Engelse kanaal oorgesteek vir ’n bietjie vakansie, en beleef ons ook hoe die Engelse hulle span ondersteun. Daar hang natuurlik oral Engelse vlae uit vensters en wapper aan karre. Dinsdagoggend voor hulle teen Colombië te staan sou kom, het ons vinnig in Ely by ’n boekwinkel gestop. ’n Wildvreemde kêrel was daardie tyd van die dag al so vrolik, dapper en hoopvol genoeg vir sy span, dat ons tienerdogter ’n hibiskusblom aangebied is. As opkomende feminis het sy dit trots van die hand gewys, maar ons was vir sy onthalwe later bly dat die Engelse gewen het, want ek kan my net die dronkverdriet indink wat op ’n nederlaag sou volg ná so ’n uitgebreide aanloop tot die wedstryd.
Soos reeds genoem, speel die Rode Duivels vandag in die kwarteindronde teen Brasilië in Kazan. As ek die bookies reg verstaan, is laasgenoemde by verre die gunstelinge om vandag te wen. Maar in ’n reeks wat deur verskeie verrassings gekenmerk word, en omdat ons nog vir vier maande saam met vrolike Belge wil saamleef, is my geld op die Rode Duivels.
Buro: NM