Belgiese Broos maak Bafana minder broos

  • 0

Foto: Pixabay

Hugo Henri Broos, gebore in April 1952 in Humbeek, België, is in Mei vanjaar as die nuwe afrigter van Suid-Afrika se nasionale sokkerspan aangestel. Wie ook al tot nou onbewus was van sy teenwoordigheid in die land, veral as jy nie ’n sokkergeesdriftige is nie, behoort nou van hom te weet.

Broos se aanstelling het menige sokkeraanhanger laat frons. Min was hier oor hom bekend, behalwe dat hy ’n ander Afrika-land, Kameroen, in 2017 tot kampioene in die Afrika-nasies-beker gebrei het. Die jaar daarna is hy egter in die pad gesteek en het hy die rol van sportdirekteur by KV Oostende oorgeneem.

Nou, vyf maande nadat hy hier aan die onderste punt van Afrika aangeland het, wil dit al hoe meer lyk of hy nuwe lewe in die tot nou toe erg wankelrige Bafana Bafana-span blaas. Natuurlik wil ’n mens nie te gou praat nie, maar as jy in ag neem dat die span in die onlangse verlede teen ’n paar “mindere” spanne verloor het, is daar rede om opgewonde te wees oor verlede naweek en Dinsdag se twee agtereenvolgende oorwinnings teen Ethiopië.

Dit was in kwalifiserende wedstryde vir die 2022-Fifa-Wêreldbekertoernooi – en nie ’n enkele Bafana-ondersteuner sou eens naastenby voorgee dat hulle die uitslae verwag het nie. Hulle sou wel nie verbaas gewees het as dit die nasionale vrouespan was nie, want Banyana Banyana (met Desiree Ellis as afrigter) het nou pas, einde September, die land trots gemaak met hul oorwinning in die eindstryd van die 2021-Aisha Buhari-beker in Lagos, Nigerië.

Broos is egter stadigaan besig om aansien te wen, tot so ’n mate dat ’n mens amper nie eens kan onthou wie Bafana se afrigter voor hom was nie. (Dit was Molefi Ntseki, wat Broos nou as hulpafrigter bystaan.) Gerugte het stérk geloop dat ’n voormalige Bafana-ster, Benni McCarthy, die pos aangebied is, maar agterna is berig dat McCarthy se eise vir die aanvaarding van die pos “oordadig” was. Toe word daar asem opgehou oor wie dan as nuwe afrigter aangekondig sou word.

“Wié?!” is hardop gewonder toe Broos se naam uitgelees word.

Hier kan meer oor hom gelees word.

Indien daar voor verlede naweek nog twyfel bestaan het oor of hy wondere met die nasionale span sal kan verrig (nadat die meeste landsburgers seker al versadigingspunt bereik het met Bafana se treurmare), word daar sedertdien ánders na hom gekyk. Maar hier is die punt: Met sy aanstelling het Broos dit baie duidelik gestel dat hy hier is om ’n (nuwe) span te help bou; dat hy nie onrealistiese verwagtinge gaan skep nie. Belowe eerder min en lewer baie as om baie te belowe en weinig resultate te lewer.

Ná die naweek – met Bafana nou boaan Groep G in Afrika – sê hy dat hy steeds “beter spelers” benodig as dié wat vir die twee pas afgelope oorwinnings, ’n 0–0-gelykopuitslag teen Zimbabwe, en ’n oorwinning teen Ghana gesorg het.

“Bietjie vir bietjie sal ek die groep vind met wie ek oor die komende maande, dalk jare, sal werk,” het hy gesê. “Maar ons is steeds op die uitkyk vir beter spelers, omdat ons nog swakhede in die groep het.”

Om te verwag dat hy ná twee maande se intensiewe werk “onmiddellik ’n fantastiese span sal hê, is onmoontlik," keer hy. Die afrigtingspan sal hulle daarop toespits om vorentoe meer wedstryde te gaan kyk om meer goeie spelers te identifiseer “wat meer kwaliteit na die span kan bring”.

Entoesiasties voeg hy dan by: “Maar in die algemeen kan ek sê dat ons darem ook nie te ver weg is van die groep spelers met wie ons vir die volgende klomp maande of jare sal werk nie.”

Jare sal hy wel tot sy beskikking hê mits die Suid-Afrikaanse sokkerowerhede hom die geleentheid bied om die duur van sy kontrak tot 2026 uit te dien.

Die land smag daarna om weer die opwinding van Bafana se 1996-oorwinning in die Afrika-nasies-beker, die herinneringe aan legendes soos McCarthy, André Arendse, Sean Bartlett, Neil Tovey, Matthew Booth, Lucas Radebe en ander, én die Siphiwe Tshabalala-openingsdoel teen Mexiko in die 2010-Wêreldbekertoernooi te smaak.

Soos wat sake nou staan (veral ook omdat toeskouers, hoewel slegs 2 000 op ’n slag, weer wedstryde mag bywoon), is daar genoeg rede om ten minste weer hóóp te mag hê dat 1996 weer ’n moontlikheid is – en dit is alles te danke aan die doelgerigte Belg met die misleidende van Broos.

Slaag hy daarin, sal die klank van die vuvuzela, wat weens Covid-regulasies vir lánk stil was, tot binne-in Brussel gehoor kan word.

  • Suid-Afrika se volgende wedstryd is op 11 November teen buurland Zimbabwe voordat ons Ghana toe reis.
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top