Belgiese koninklikes sluit staatsbesoek aan Suid-Afrika in Kaapstad af

  • 0

België se koning en koningin het hul staatsbesoek aan Suid-Afrika Maandag afgesluit na ’n tweedaagse program vol aktiwiteite in Kaapstad.

Koning Filip en koningin Mathilde het Donderdag in Pretoria aangekom op ’n vier dae lange staatsbesoek aan Suid-Afrika. Dit was hul eerste staatsbesoek aan die Afrika-kontinent.

Hulle was vergesel deur die federale minister van buitelandse sake, Europese sake, buitelandse handel en federale kultuurinstellings, Hadja Lahbib, die minister-president van Wallonië, Elio Di Rupo, en die minister-president van die Brussel-Hoofstedelike Gewest, Rudi Vervoort.

Die koning het verlede week onder andere die Gautengse Nywerheidsontwikkelingsone besoek, waar hy aan ’n rondetafelgesprek oor jeugbemagtiging met verskeie jeugverteenwoordigers deelgeneem het. Die doelwit was om die versterking van die plaaslike diamantbedryf te bespreek deur opleiding, kapasiteitsbou en die uitruil van idees. Tydens sy besoek het hy ook met werknemers van die diamantbedryf vergader wat die diamantpoetsproses aan hom verduidelik het.

’n Vennootskap tussen ’n Suid-Afrikaans-gebaseerde diamantpoetser en ’n België-gebaseerde diamantjuwelier sal na verwagting lewe in die bedryf blaas en ekonomiese groei aanwakker.

Die koningin se program het ’n besoek aan die Emuseni Early Childhood Centre in Soweto ingesluit. Sy het die geleentheid gekry om meer te wete te kom oor ’n projek wat deur die Belgiese niewinsgewende organisasie VVOB geïmplementeer is.

Met hul aankoms in Kaapstad Saterdag is die koninklike paar en die afvaardiging vir middagete deur die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, en sy vrou onthaal.

Winde sê die staatsbesoek het ten doel gehad om bilaterale betrekkinge tussen Suid-Afrika en België uit te brei en te versterk met ’n fokus op handel, direkte buitelandse investering en toerisme.

Die Belgiese afvaardiging het ook die Afrigen Biologics-tuiste besoek wat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se mRNA-tegnologie-oordraghub huisves. Hierdie projek is in samewerking met die Suid-Afrikaanse maatskappye Afrigen en Biovax en die Belgiese maatskappye Univercells en ETheRNA gestig, en mik daarna om plaaslike vaksinenavorsing en -produksie te versterk.

Daarna het die koning en koningin die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK) besoek, wat ’n lang noue verbintenis met die universiteite van Gent (Universiteit Gent) en Brussel (Vrije Universiteit Brussel (VUB)) het. Die besoek het gefokus op die akademiese samewerking tussen hierdie instellings op die gebied van digitale insluiting om meer opleiding- en werksgeleenthede aan benadeelde en kwesbare jongmense te bied.

Die Belgiese afvaardiging het die rektor van VUB, professor Jan Danckaert, viserektor van Internasionalisering, professor Karin Vanderkerken, asook akademici van beide VUB- en Gent-universiteite ingesluit.

Saterdag se program is afgesluit met ’n besoek aan die Zeitz Museum van Kontemporêre Afrika-kuns en ’n paneelbespreking wat deur die Federasie van Ondernemings in België (FEB) gereël is om Belgiese ekonomiese en besigheidsuksesse in Suid-Afrika te beklemtoon, asook om Belgiese en Suid-Afrikaanse sakelui byeen te bring.

Sondag het hulle die Philippi Village-sosiale sentrum, in die hart van die Philippi-woonbuurt, besoek met ’n fokus op drie Belgiese projekte: ’n tak van die Belgiese sosiale e-insluitingsmaatskappy Close the Gap; die ASSITEJ-kinderskouburg, ondersteun deur Vlaandere en Wallonië-Bruxelles Internasionaal; en ’n nuwe sokkerbaan, ’n inisiatief van die Belgiese Kamer van Koophandel.

Na ’n middagete by die Belgiese restaurant Den Anker, wat Belgiese en Suid-Afrikaanse gastronomie onder die leiding van sjefs Piet Huysentruyt en Reuben Riffel onderskeidelik kombineer, het die koninklikes en hul afvaardiging Sondag die Kirstenbosch Botaniese Tuin besoek. Hierdie Unesco-wêrelderfenisgebied is die plek waar die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Biodiversiteit (SANBI) gestig is en steeds sy grootste navorsingsentrum het. SANBI, met die ondersteuning van Vlaandere, bestudeer en ontwikkel oplossings om hierdie unieke wêrelderfenis teen die gevolge van klimaatsverandering te beskerm.

Die staatsbesoek is afgesluit by die woning van die Belgiese konsul-generaal in Kaapstad met ’n geselligheid saam met gaste van die Belgiese gemeenskap en plaaslike persoonlikhede. Die hele afvaardiging het Maandag na België teruggekeer.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top