Bernard Haitink is oorlede – en nog nuus uit die Lae Lande

  • 0

Gevierde dirigent groet

Een van Nederland se bekendste dirigente, Bernard Haitink, is Donderdag in die ouderdom van 92 jaar in Londen oorlede.

Haitink word beskou as een van die wêreld se voorste dirigente en het veral naam gemaak as dirigent van die Concertgebouw-orkes wat hy tussen 1961 en 1988 gelei het. Hy het ook bekendheid verwerf as gevierde dirigent in onder andere Londen, Dresden en Chicago.

Haitink het in Amsterdam grootgeword en as kind met vioollesse begin. Sy ambisie was egter om dirigent te word en op 26-jarige leeftyd doen hy dit ook toe hy aangestel word as hoofdirigent van die Radio Filharmoniese Orkes. Ses jaar later was hy aan die stuur van die Concertgebouw-orkes. Onder sy leiding het hy die naam van die orkes nog verder vergroot met internasionale toere en uitvoerings van grootse werke van Mahler en Bruckner.

Hy het onder meer ridderordes in Brittanje en Frankryk ontvang en is in Nederland tot Commandeur in de Orde van de Nederlandse Leeuw benoem.

Haitink het in 2017 sy uittrede aangekondig en in Junie 2019 die laaste keer in die Concertgebouw opgetree. De Volkskrant beskryf Haitink as ’n dirigent met “een ongeëvenaard vermogen om met muziek gevoelens op te wekken”. Suid-Afrikaners kan op BVN op die program Podium Witteman na ’n huldeblyk van Haitink kyk.

Ook die Koningshuis het op Haitink se afsterwe gereageer:

Man dreig treinpassasiers met kapmes

Die polisie het Maandagnag ’n 31-jarige man op Heemstede-Aerdenhout-stasie, naby Haarlem, in hegtenis geneem. Die man het ’n kapmes by hom gedra en was aggressief teenoor medereisigers en ’n vroulike kondukteur. Passasiers het teen ongeveer middernag gemeld dat ’n man in die trein van Vlissingen na Amsterdam met ’n kapmes sit. Die kondukteur het die man gewaar waar hy besig was om sy mes te poets en op banke te slaan. Hy het ook die kondukteur gedreig.

Die kondukteur het alle passasiers na die voorste deel van die trein gestuur. Toe die trein op die stasie stilhou, het die man probeer vlug, maar is kort daarna vasgetrek.

Verskeie passasiers het aanklagte van bedreiging by die polisie aanhangig gemaak.

Stygende korona-infeksies wek kommer

Premier De Croo van België het Maandag ’n vergadering met sy visepremiers belê om maniere te vind om die vierde golf COVID-19-besmettings te probeer keer.

In die stadium lyk dit nie of Belge hulle moet bekommer oor nog ’n volskaalse inperking nie, maar sommige inperkingsmaatreëls sal na alle waarskynlikheid binnekort terugkeer, berig nieuwsblad.be.

VRT berig dat die Vlaamse regering aan sorginstellings soos hospitale en versorgingstehuise die opsie sal gee om die koronapas van besoekers te vra en in Wemmel is opdrag gegee dat organiseerders van binnenshuise geleenthede waar meer as 100 mense byeenkom, ’n sogenaamde Covid Safe Ticket van besoekers moet vra.

In die res van Vlaandere geld dit slegs vir geleenthede van 500 besoekers of meer.

In Nederland het demissionêre minister van volksgesondheid Hugo de Jonge laat blyk dat nuwe maatreëls spesifiek vir mense wat nie ingeënt is nie, moontlik mag ingestel word, juis omdat dit veral mense is wat nie ingeënt is nie, wat in hospitale opgeneem word. ’n Lid van die span wat die uitbraak moet bestuur, Marc Bonten, sê egter hy twyfel of sulke maatreëls uitvoerbaar is. “Ik begrijp de vraag. Heel veel mensen zijn gevaccineerd. En heel veel mensen die in het ziekenhuis liggen zijn dat niet. Dat creëert veel vragen, ook bij mensen die in het ziekenhuis werken met ongevaccineerde patiënten. Dat is al een tijd lang een belangrijk discussiepunt,” sê Bonten.

Die getal COVID-19-besmettings het die afgelope week in Nederland met 48% gestyg. In België het besmettings met 75% teenoor ’n week vantevore gestyg.

Sterk warrelwind rig groot skade aan

Vier mense is beseer toe ’n sterk warrelwind, of windhoos, verlede Woensdagnag deur Barendrecht naby Rotterdam getrek het. Die brandweer is om 02:30 ontbied na waar groot skade aangerig is.

Verskeie strate het deurgeloop. Talle huise se vensters is stukkend geslaan en bome het op motors geval.

Die weer het ook ’n invloed op treinverkeer gehad. Treine tussen Utrecht en Amersfoort kon nie ry nie weens ’n ontwortelde boom wat op die spoor geval het. Ontwortelde bome het ook veroorsaak dat die trein uit Roosendaal na België nie kon ry nie.

Op die dyk tussen Lely-stad en Enkhuizen is windsnelhede van 100 km/h gemeet en die pad is vir verkeer met sleepvoertuie gesluit, berig Omroep Flevoland.

Hoop vir oseane met minder plastiek

Ná jare se eksperimente en proewe om op groot skaal plastiek uit die see te verwyder kan dit nou gedoen word, aldus The Ocean Cleanup, ’n organisasie wat gestig is deur die Nederlander Boyan Slat wat agt jaar gelede met eksperimente begin het om plastiek uit die see op te ruim.

Die NOS berig Slat se jongste tegniek het daarin geslaag om deur middel van twee skepe wat ’n drywende arm sleep, 28 659 kg plastiek uit die Stille Oseaan te verwyder. “Hoewel dit slechts het topje van de ijsberg is, zijn deze kilo's de belangrijkste die we ooit zullen verzamelen,” sê Slat in ’n verklaring. “Want deze kilo's bewijzen dat dit allemaal mogelijk is.”

Slat se eerste pogings was minder suksesvol. Die eerste prototipes het gebreek en nouliks enige plastiek verwyder, maar met die toetsfase van die jongste tegniek genaamd System 002 kan dit dadelik ingespan word. Die maatskappy werk ook aan ’n nuwe tegniek met nog groter arms van 2,5 km wat na verwagting drie keer soveel plastiek sal verwyder. Van die plastiekvoorwerpe wat met dié metode verwyder is, sluit in toiletbrille, tandeborsels, wasgoedmandjies en skoene.

Volpunte vir sterrekundestudent

’n Meestersgraadstudent aan die Universiteit van Leiden, Arend Moerman, het ’n 10 gekry vir sy navorsing waarin hy die interaksies van drie gravitasiekolke simuleer, berig nu.nl.

Om op hierdie vlak ’n 10 vir ’n navorsingsprojek te kry kom maar een keer in 10 jaar voor, sê Simon Portegies Zwart, dosent in numeriese sterredinamika.

Moerman het deur middel van sy berekeninge bewys dat ligter gravitasiekolke mekaar afstoot en swaarder gravitasiekolke mekaar aantrek.

Die student was op soek na ’n afstudeeronderwerp met sterrekunde, wiskunde en rekenaarwetenskap as raakvlakke, en dit is presies wat Zwart se belangstellingsveld is.

“Het programmeren trok mij aan,” sê Moerman op die universiteit se webwerf. “In het begin was het nog niet helemaal duidelijk wat ik moest doen. Ik moest de relativiteitstheorie in een bestaande code inbouwen, maar hoe en wat stond nog niet vast. Maar dat maakte het juist leuk: Ik had daardoor de vrijheid om te zoeken wat ik interessant vond en datgene te simuleren.”

Sokkerkonfrontasie in Rotterdam

Die polisie in Rotterdam het verlede Donderdag 75 ondersteuners in hegtenis geneem in verband met die sokkerwedstryd tussen Feyenoord en Union Berlin. Volgens die polisie is 59 van die mense wat gearresteer is, ondersteuners van die Duitse klub wat daarop uit was om skoor te soek met ondersteuners van Feyenoord.

Die polisie het juis probeer om die groepe uit mekaar te hou deur ’n gebied af te sonder vir die Union Berlin-ondersteuners. Toe hulle onder polisiebegeleiding na die Feyenoord-stadion loop, ontstaan daar toe ’n konfrontasie tussen die Duitse ondersteuners en die polisie, berig die NOS. Die konfrontasie is voorafgegaan deur ’n insident die vorige dag toe ’n groep Feyenoord-ondersteuners tafels en stoele na bestuurders van die Duitse klub gegooi het terwyl hulle besig was om in ’n restaurant aandete te geniet. Een persoon is in verband met dié voorval in hegtenis geneem.

Feyenoord het sy ontsteltenis oor die voorval uitgespreek.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top