Berugte familie eis nog 'n slagoffer

  • 0

Die familienaam Gupta is algemeen in Indië, maar in Suid-Afrika het dit om ’n ander rede ’n huishoudelike naam geword. Dit staan hier vir korrupsie, en spesifiek die soort waarin private maatskappye die regering nie net probeer beïnvloed nie, maar dit sommer oorneem. Staatskaping (“state capture”) is die woord wat die steeds ongelooflike manier opsom waarop die drie Gupta-broers van Johannesburg die septer begin swaai het met enigiets van nasionale wapenverkope tot die aanstelling van kabinetsministers.

Die skandaal rondom die familie en hul meelopers het ’n groot rol gespeel in die oorwinning van Cyril Ramaphosa in die wedloop om die leierskap van die regerende African National Congress in Desember. In die afgelope week het Ramaphosa die jaarlikse sogenaamde 8 Januarie-toespraak gelewer. (Die naam verwys na die verjaardag van die ANC sedert sy stigting in 1912.) Daarin het hy ’n groot hupstoot gegee aan die pogings om die Guptas en hul agente aan die pen te laat ry deur dit duidelik te stel dat vervolgings so gou dienlik moet begin.

Woensdag het die bekendmaking van nog ’n groot slagoffer gewys dat die Guptas se doppie geklink is,​ toe die internasionale adviseursmaatskappy McKinsey aangekla is van misdrywe wat gepleeg is in samewerking met ’n Gupta-gekoppelde maatskappy,​ Trillian,​ wat kammadienste (dienste wat nie werklik gelewer is nie) aan die staatsbeheerde elektrisiteitsmaatskappy Eskom gelewer het​.

Die Guptas het in 2013 die eerste keer letterlik op die nasionale radar verskyn toe ’n passasierstraler honderde gaste ingevlieg het uit Indië vir die uitspattige bruilof van een van die Gupta-dogters met geld wat bedoel was vir ’n Vrystaatse melkery vir arm swart boere. Nie gediend met die rompslomp van OR Tambo, die gewone man se lughawe, nie, het hulle via hul grootste vriend, president Jacob Zuma, gereël dat hulle sommer by die lugmagbasis te Waterkloof in Pretoria land. Daarna is almal na die Lost City in die platteland, eens die toonbeeld van apartheid-dekadensie.

Hardnekkige ondersoeke hierna deur die media en waghondorganisasies het uiteindelik ’n spits bereik in ’n verslag deur die land se openbare beskermer, die vreeslose Thuli Madonsela. As ’n aanstelling deur die President en die ANC self was sy veronderstel om haarself, soos al die ander in Zuma se patronaatnetwerk, blind te hou vir regeringsvergrype, maar sy het verkies om haar werk korrek te doen.

Teen daardie tyd het die Guptas reeds gesorg dat hul mense oorgeneem het in ’n rits staatsbeheerde instellings, soos Eskom en die wapenprodusent Denel. Maar die Departement van Finansies was die vlieg in hul salf en wou nie saamspeel om Gupta-projekte goed te keur nie, onder andere Zuma se buitensporig duur kernkragprojek wat die land bankrot sal laat speel.

Bo links: die drie Gupta-broers (Foto: YouTube). Onder links: President Jacob Zuma (Foto: YouTube). Regs: Die Suid-Afrikaanse vlag.

Zuma het die destydse minister van finansies, Nhlanhla Nene, afgedank, wat gelei het tot ’n onmiddellike skerp daling in die waarde van die rand en waarskuwings dat Suid-Afrika sy gradering as aanvaarbare bestemming vir beleggings sou verloor. So erg was die furore dat Nene se opvolger vier dae later deur ’n vorige finansminister, Pravin Gordhan, vervang is.

Dit was in Desember 2015, en kort daarna het nog ’n bom gebars. Nene en Gordhan se adjunk, Mcebisi Jonas, het onthul dat die Guptas hom voor Nene se afdanking na hul herehuis in Saxonwold, Johannesburg laat kom het om hom die pos van minister en miljoene rande in sy sak aan te bied.

Verdere onthullings het gevolg, en ook die openbaarmaking van al die Guptas se e-posse deur ’n tans nog onbekende bron. Toe banke begin om hul rekeninge met die familie te sluit na die vrystelling van Madonsela se verslag, was dit die begin van die einde vir die Guptas. Sy het beveel dat Zuma ’n kommissie van ondersoek aanstel, maar hy het die saak met die een regstegniese slenter na die ander uitgestel totdat hy vroeg in Januarie vanjaar ingegee het.

Zuma is nog die president van die land, tegnies tot die verkiesing in 2019, maar almal verwag dat die ANC hom lank voor dan sal herroep. Ramaphosa het dit nou verlede week duidelik gemaak dat die land se vervolgingsgesag nie moet wag tot die kommissie uiteindelik na jare sy verslag uitreik nie, maar dadelik moet wegspring met vervolging. Tronkstraf wink vir Zuma.

Een van die kwessies in die skandaal is of die kommissie sy bepalings moet verbreed om alle pogings tot beïnvloeding deur die private sektor in te sluit. Madonsela se opvolger as openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, wat algemeen gesien word as ’n Zuma-lakei, het haar stem verlede week gevoeg by oproepe om ook staatskaping búite die Guptafamilie in te sluit. Madonsela self het gesê haar opdrag verwys net na die Gupta-geval.

Dit is egter nie ’n slegte idee nie, ook nie ’n tweede kommissie om so ’n gebied te dek nie​. Dit sal die geleentheid bied vir kritici om die regering se beleid van regstellende aksie finaal te onthul vir wat dit is: die fondament vir verdere staatskaping in die toekoms. Daar bestaan konsensus in die land dat die ANC se beleid van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) grootliks misluk het, omdat dit bloot tot die skepping van ’n ryk swart elite, die sogenaamde “black diamonds”, gelei het. Arm mense is in baie opsigte slegter daaraan toe as voor die ANC se bewindsoorname.

Die ANC het dit nog nooit weggesteek dat hy in sy uitdeling van staatsgeld en tenders voorkeur gee aan “kaders”, oftewel lede en volgelinge wat die party se taal van ’n pseudo-Marxistiese revolusie praat nie. Die opkoms van die Guptas, wat eers na die val van apartheid na Suid-Afrika geïmmigreer het, maar desondanks as “swart” beskou is en dus kon voordeel trek uit SEB bo wittes wat hier gebore is, bewys dat SEB in sy huidige toepassing gevaar loop om ’n nuwe rassisme te vestig.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top