Besoek Suid-Afrika: Darling se blomme

  • 0

Die weste van Suid-Afrika is droog. Vir groot dele van die jaar lyk die veld dor en klipperig. Dan, een maal per jaar, wanneer die lenteblomme verskyn, word die streek ’n malse vermenging van helder kleure. Teen die middel van Augustus begin die veldblomme pronk. Die eerste twee weke van September is die beste tyd om blomme te kyk, maar selfs teen die einde van September is die blomme nog mooi.

’n Mens kan teen die kus opry en byna enige plek langs die pad stop om blomme te sien.

Darling, slegs sowat 80 km van Kaapstad af, is ’n uitstekende begin van ’n blommevakansie weens die groot aantal veldtipes om die dorp. Dit lê op die rand van die Kaapse fynbosbioom, en binne ’n paar kilometer kry ’n mens ook Renosterveld, Rietveld, Sandveld en Strandveld.

Elkeen van hierdie veldtipes het eiesoortige plante, maar hier om Darling is daar ’n vermenging. Meer as 1 200 plantspesies is reeds rondom Darling opgeteken.

Daar is vier bekende blomreservate in en om die dorp.

Die Duckitt-familie, wat bekend is vir hulle kweekhuise, se plase is deel van die bewaringsveldtog. Groot gedeeltes is onaangeraak en slegs die natuur mag daar woeker. Tydens die blomseisoen stel hulle dele van hulle eiendom gratis aan die publiek oop.

In die dorp self, net langs die laerskool, is ’n renosterveldreservaat. Dit is ’n droër deel van die omgewing, dus verskil die blomme. Toegang is nogeens gratis.

Langs die begraafplaas is daar ’n koppie wat blomkykers kan aandurf, maar as ’n mens ’n paar kilometer aanry op die pad na Ysterplaat, kom jy af op die Tienie Versfeld-reservaat. Dié plaas is deur die toenmalige eienaar aan bewaring nagelaat in sy boedel en toegang is ook gratis.

Soos die Duckitt-plase is die Tienie Versveld-reservaat ná die reën plek-plek ’n vleiland, maar aangesien ’n mens nader aan die kus is, verskil die blomme ook weer.

Darling is in 1853 gestig en is vernoem na sir Charles Henry Darling wat in 1851 as luitenant-goewerneur van die Kaap aangestel is.

Vandag is daar verskeie goeie restaurante; dit is natuurlik ook die setel van Evita se Perron, waar Pieter-Dirk Uys gaste vermaak – mits Evita nie in die dorp is nie.

Net buite die dorp is daar ’n wynkelder en ’n baie goeie bierbrouery. Dit is die moeite werd om oor te slaap sodat dit nie nodig is om té min te proe van die plaaslike produkte nie!

Selfs buite blomtyd bied Darling baie – daar is gereeld musiek- en teaterproduksies. Tydens die blomseisoen is Darling egter ’n ware darling om te besoek.

Vir diegene wat ’n blomtoer oorweeg, hier is ’n paar dorpe om te google.

  • Darling, waar hierdie foto’s geneem is, ongeveer 80 km van Kaapstad af. Daar is verskeie geleenthede in en om Darling om blomme te sien. Dié dorp is dus ’n goeie begin.
  • Langebaan is ongeveer 130 km van Kaapstad af. Die Weskus Nasionale Park is reg langs die dorp.
  • Clanwilliam en die Cederberg. Clanwilliam is 230 km van Kaapstad af en is die laaste dorp voor ’n toeris deur ’n smal vallei die Cederberg kan verken. Daar is akkommodasie in die Cederberg, maar wees bewus dat groot dele van die pad nie teer het nie, en dat daar op vele plekke nie ‘n telefoonsein in die vallei is nie.
  • Nieuwoudtville, ongeveer 350 km van Kaapstad af, het ’n botaniese tuin en ’n reservaat waar blomme beskerm word.
  • Kamieskroon, ongeveer 490 km van Kaapstad af, is die dorp naby die Namakwa Nasionale Park.
  • Springbok, ongeveer 560 km van Kaapstad af, is naby die grens van Namibië. Dit is droog daar, maar wanneer die lenteblomme vertoon, is die veld pragtig.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top