Gewoonlik is dit dié tyd van die jaar komkommertyd aan die nuusfront, wanneer stories oor rooiwyn as verweer teen hartaanvalle, of duiwe wat stadspleine oorneem, hersirkuleer word. Maar genugtig, baie het al hierdie dekade gebeur: ’n komplot teen die President, voortslepende moleste met water en krag, verbyryskieterye, kommissiegriep wat toeslaan …
En die geskiedenis daaragter: die staat wat skynbaar sy greep op omtrent al sy funksies verloor het. Vanoggend word ek wakker met ’n gevoel wat ek sukkel om af te skud en ’n vraag wat bly hang: Bestaan Suid-Afrika nog?
Dit het nie gehelp toe ek sien hoe ’n erewag van polisiekolonelle wat soos ’n klomp rofietroepe optree, ’n bespotting maak van die begrafnis van ’n held van swart selfbemagtiging nie (dis nou Richard Maponya s’n), en dit boonop voor president Cyril Ramaphosa en verskeie oudpresidente. Soos ’n trol opgemerk het, as ons polisiehoofde nie eens weet watter kant toe links of regs is nie, hoe kan hulle die land beveilig?
’n Belgiese sendeling word vermoor, ’n polisieman se lyk dryf in ’n dam, belhamels brand kluise by laerskole oop sodat dit lyk soos Iraanse missiele wat hul teikens gemis het. Ons lees van die lugmag wat net een werkende Hercules-vliegtuig gehad het, tot nou die dag toe dit in die Kongo neerstort. Van enige gewaande sosiale kontrak à la Jean-Jacques Rousseau is min sprake – die staat is nie meer in staat tot die monopolie oor geweld wat nodig is vir ’n transaksie met die volk nie.
Natuurlik betaal ons nog belasting, en mense kry hul karige pensioentjies, maar as die regering sou wegbly, vir ses maande in Dubai of Kuba sou gaan vakansie hou, sou enigiets verander? Dit is nie eens meer seker of hy homsélf kan regeer nie, as ’n mense die situasie oor die boeg van soewereiniteit benader.
Tot dusver het die simpatie in die stryd tussen die openbare beskermer (OB) en Ramaphosa oor die aksies wat sy hom beveel het, grootliks by die President gelê. Maar laasweek was ’n sterk ondersteuner van hom, Barney Mthombothi, die eerste wat daarop gewys het dat hy ’n reputasie vir kluitjies bak begin kry. Hoewel Busisiwe Mkhwebane duidelik nie haar werk verstaan nie en volgens baie waarnemers ’n agent vir die kommissiegrieplyer Jacob Zuma is, begin ’n mens wonder of sy ons nie ’n guns bewys het deur aan Ramaphosa se geldsake te krap nie.
Aan die kern van die saak is ’n grondwetlike kwessie: Wat is die openbare beskermer se magte? Wie is die soewerein? Dis skielik nie meer duidelik nie. Thuli Madonsela, die vorige OB, het ’n nasionale heldin geword deur opdragte aan Zuma te gee. Presies waarom moet ons Mkhwebane nie ook ’n bietjie help om ’n jokkende nuwe president te help fact-check nie?
En is die regbank van die Konstitusionele Hof bevoeg om uitspraak in die saak tussen die twee te lewer? In watter mate het hoofregter Mogoeng Mogoeng se oorhandiging van ’n Bybel aan Ramaphosa tydens sy inhuldiging sy onpartydigheid gekompromitteer? Daar is ’n nog dieper probleem: Die voormalige regter Edwin Cameron het uitspraak gelewer in ’n saak oor ’n instansie ten spyte van gelyktydige gesprekke oor sy bekleding van die hoogste pos by daardie instansie. Mogoeng het die klagtes hieroor met minagting van die tafel gevee. Hy verlaat hom skynbaar op ’n skynondersoek deur ’n afgetredene wat sterk herinner aan die Zuma-era van skynkommissies om Cameron se onskuld te ondersteun. Die hantering van die saak tussen die Universiteit Stellenbosch en Gelyke Kanse oor Afrikaans stel ’n mens nie gerus dat ons ’n onafhanklike regbank het nie.
Maties is die slagoffer van ’n wêreldwye verskynsel: die neoliberalistiese oorname van universiteite deur korporatiewe belange en strukture waardeur belastingbetalers se geld aangewend word om duur produkte en dienste te ontwikkel vir die gebruik van ’n internasionale Anglosentriese elite. Die geleidelike anglisering van Maties, wat waarskynlik reeds teen 2005 of so onomkeerbaar geword het, staan in die teken van hierdie verskraling van demokratiese soewereiniteite. Universiteite, die sentrums van ’n land se denke, word al minder tot diens van die plaaslike gestel.
Ook dié week kom die nuus oor die flagrante ontduiking van behoorlike omgewingsimpakstudies by ’n nuwe nywerheidspark in Limpopo. Die provinsiale regering verdedig dit as ’n bron vir nuwe werksgeleenthede. Maar die gevaarligte flikker: Die park is op die grens met Zimbabwe en ’n groot belegger is China. Dit is ’n tipiese spesiale ekonomiese sone waarheen werkers in diens van die Chinese weermag via ’n gefaalde staat na fabrieke gesmokkel kan word. Dit is niks anders as ’n grensnywerheid op die model van die voormalige Nasionale Party se tuislandnetwerk nie. Die werkers is gewoonlik onwettige migrante, mense wie se Chinese paspoorte nie in orde is nie. Zimbabwiers wie se paspoorte nie in orde is nie, gaan die vereiste kwota swart werkers aanvul. Hongerlone en ekologiese skade gaan die winste dryf.
Die groter kwessie is soewereiniteit: Wie gaan die sweep klap? Waar gaan die grens tussen Zimbabwe en Suid-Afrika wees? Al wat ons weet, is dat die Chinese die sweep gaan maak.
Die vakansie kuier ek by ’n boer. Hy vertel van ’n Zimbabwiese groepie wat besig is om ’n vakbond te organiseer onder sy werkers en gesprekke hou oor grondgrype. Hy reken hulle is net desperaat: Hulle sal enigiets doen om hul teenwoordigheid as werkers teenoor hul xenofobiese kollegas te regverdig. Die Suid-Afrikaanse werkers laat hul dit welgeval.
Maar hoe affekteer dit die soewereiniteit van die plaaslike politieke diskoers?
Dan is daar die komplot teen Ramaphosa, wat byna in soveel woorde bevestig is deur ’n verklaring van die “ANC Elders”. Treffend is die redelike onverwagsheid daarvan. Roger Southall van Wits het navorsing gedoen oor die land se werklike politieke magsbasisse en tot die gevolgtrekking gekom dat ons die provinsiale formasies van die ANC erg onderskat het.
Die voorste deelnemers aan die komplot is almal provinsiale potentate. Hul mag is verstrengel met plaaslike netwerke van patronaatskap wat nooit in der ewigheid ontrafel sal word nie, om die eenvoudige rede dat geen sentrale instansie ooit sal kan verstaan hoe dit werk nie. Suid-Afrikaners praat nie genoeg van mekaar se tale onderling om ’n omvattende en behoorlike insig in hierdie ondergrondse politiek te hê nie.
Internasionale korporatiewe instansies dryf nie net grotendeels ontwikkeling in Suid-Afrika nie, hulle huisves ook die nou veelrassige Anglosentriese elite op fisiese vlak, in die groeiende web van veiligheidsparke en winkelsentrums, en op die vlak van die nog groter globale digitale ruimtes waarin soveel van ons energie en tyd bestee word.
Waar is die land met die naam Republiek van Suid-Afrika in hierdie opset?
Buro: MvH