’n Piepklein Kaapse restaurant met ’n personeel van slegs sewe mense het stof in die oë geskop van talle groot en bekende restaurante regoor die wêreld toe dit aangewys is as restaurant van die jaar.
Die klein eetplekkie met die naam Wolfgat is tydens ’n internasionale kompetisie in Parys Frankryk aangewys as die beste “Off-Map” bestemming – wat een van die elf kategorieë is waarin die wenners kwalifiseer vir die groot prys van restaurant van die jaar. Maar dit was maar net die begin van ’n veel groter prestasie.
Die restaurant met plek vir slegs 24 mense het by die World Restaurant Awards korte mette gemaak met groot en bekende restaurante in lande soos Frankryk, Italië, Amerika en Japan toe dit ook die groot prys as Restaurant van die Jaar ingepalm het.
Hierdie versteekte diamant, waarvan min mense weet, is sowat twee uur se ry van Kaapstad af aan die Weskus in Paternoster. Dis bokant die Wolfgat-grot geleë waarvan die naam dan ook kom. Wolfgat behoort aan die sjef Kobus van der Merwe en het sy deure so onlangs soos 2017 oopgemaak.
Wolfgat het vroeg in sy bestaan reeds die verbeelding van buitelandse toeriste sowel as Suid-Afrikaners aangegryp. Verlede jaar is dit aangewys as die vierde beste restaurant in Suid-Afrika tydens die Eat Out Mercedes-Benz-restaurantkompetisie. Tydens die geleentheid is Kobus ook aangewys as sjef van die jaar.
Hy is in die Kalahari gebore en het in Stellenbosch grootgeword. Hy het vroeër in ’n onderhoud aan The Insider guide gesê sy filosofie oor kos is eenvoud, seisoenaal, plaaslik en divers (https://insideguide.co.za/cape-town/kobus-van-der-merwe/?fbclid=IwAR1KghOQGqvVOfud9dP_2brLvZIqgTk1YWUZlrlun3sle72itODa5dx-joU).
Gelukwense met sy prestasie het van heinde en ver op sy se Facebook-blad ingestroom.
“Ons is sprakeloos, dankie dit is ’n groot eer,” het Kobus op Wolfgat se Facebook-muur geskryf.
Ander koerante soos die Mail & Guardian het ook met Wolfgat se prestasie gespog.
Wolfgat, a tiny South African restaurant, was named world’s restaurant of the year. https://t.co/ZOSjp8n8uH
— Mail & Guardian (@mailandguardian) February 19, 2019
Ons het ’n wenner, het Food24 dit uitbasuin.
We have a winner!!!!!!!!!!
Wolfgat in Paternoster won Restaurant of the Year last night at the World Restaurant Awards - https://t.co/VNdrAtohL9 @worldrestawards pic.twitter.com/SXWhsdOxXO
— food24.com (@food24) February 19, 2019
Tydens die oorhandiging van die prys het Kobus gesê hy is trots daarop om hierdie eerbewys terug na Afrika en die pragtige land Suid-Afrika te bring. “Ek is ook baie trots om saam met my span te werk wat meestal uit vroue bestaan. Dit is fantasties dat ons in Afrika op ’n klein vissersdorpie is en steeds hierdie wonderlike eer kan kry.”
Foto’s van die klein beskeie, maar nou wêreldberoemde restaurant, is oral op sosiale media gedeel.
Paternoster restaurant Wolfgat has been declared Restaurant of the Year in the World Restaurant Awards, having already won the Off-Map Destination category. Read about chef Kobus van der Merwe's philosophy https://t.co/wBHu0UoVPk pic.twitter.com/x3sqglFVco
— Roxanne Reid (@RoxanneReidSA) February 19, 2019
Kobus se ma, Sanita, het aan Netwerk24 gesê hulle is almal oorstelp deur die nuus oor die eerbewys wat die Wolfgat-restaurant in Parys ontvang het.
“Dit is absoluut merkwaardig dat Kobus met twee eerbewyse kan huis toe kom. Ons het eintlik net geweet dat hy benoem is vir die Off-Map-bestemming-eerbewys en was eintlik tevrede daarmee dat hy net benoem is. Dat hy sou wen was totaal ondenkbaar,” het sy ma aan Netwerk24 gesê.
Buro: NB