Beswaardes in NG Kerk wil treur maar nie skeur

  • 0

...........

“Skeuring lyk egter na die laaste opsie wat tans oorweeg word. Die skeurmakers kan kaal anderkant uitstap as hulle amptelik wegbreek van die NG Kerk.”

...........

Beswaarde predikante en lidmate van die NG Kerk wat gekant is teen ’n besluit dat mense van dieselfde geslag mag trou, wil die kerk nou “toegooi” onder besware.

Dit was een van die voorstelle tydens die afgelope week se kerkberaad by die Moreletapark-gemeente in Pretoria. Sowat 450 beswaardes van verskeie gemeentes het die beraad bygewoon.

Grafika: Pixabay.com

Altesaam nege opsies is deur die beswaardes oorweeg om oor te besin op die pad vorentoe.

Die opsies is kortliks die volgende:

  • Doen niks 
  • Aanvaar sinode se besluit (vermoedelik die 2019-besluit oor selfdegeslagverbintenisse) 
  • Word ’n “kerkbreker” 
  • Verlaat die kerk 
  • Gaan hof toe 
  • Doleer (vaktaal vir “beswaar aanteken” of “treur”) 
  • Maak die bande los met die algemene sinode (Art 37) 
  • Verklaar leergeskil 
  • Verken nuwe kerkverbande/netwerke wat strek oor die grense van huidige ringe en sinodes.

Een van die opsies wat die grootse byval gevind het onder die afgevaardigdes is om te doleer. Dit is kerktaal vir treur oor die rigting wat die kerk inslaan. Onder die treurendes is ’n voormalige aktuarius van die kerk, Johann (Tokkie) Ernst, en Norma Rossouw, van die Goudland-sinode, wat ook besluit het om die kerk met geld te straf en geen verdere bydraes aan die algemene sinode te betaal nie.

Daar is nie veel meer as trane stort en beursies toehou wat die beswaardes kan doen nie, tensy hulle besluit om die kerk te verlaat en ’n skeuring af te dwing. Skeuring lyk egter na die laaste opsie wat tans oorweeg word. Die skeurmakers kan kaal anderkant uitstap as hulle amptelik wegbreek van die NG Kerk.

Indien slegs een of twee lidmate van ’n gemeente nie saam met die res wegbreek nie, verloor die wegbrekers al die geboue en bates wat dan deel bly van die NG Kerk. Om te skeur kan dus ’n duur opsie wees vir die beswaardes.

...........

“Carel Jansen het op Netwerk24 se kommentaarafdeling gesê Ernst se raad om die algemene sinode met besware toe te gooi is dwase raad. Hy sê die NG Kerk het homself lankal in ’n hoek vasgeverf.”

...........

Deur die doleer- of treuropsie te volg kan gemeentes steeds deel van die kerk bly, al “huil” hulle oor die kerk se besluite. Ten minste verloor hulle dan geen werklike voordele of eiendom nie. Om te doleer verander egter niks aan die toedrag van sake in die breër kerk of sy besluite nie.

Daarom word daar voorgestel dat die algemene sinode ook met besware “toegegooi” word met die hoop dat dit kan aanleiding gee tot ’n spesiale sinode waar 2019 se besluit dat gays in die NG Kerk mag trou, wéér omgekeer kan word.

Die kerk se moderator, Nelis Janse van Rensburg, het egter reeds koue water op dié idee gegooi en die gedagte van ’n spesiale sinode afgeskiet. Die kerk se mondstuk, Kerkbode, berig daar is nie juis opgewondenheid by die kerkleiding oor enige van die nege opsies wat tydens die beraad op die tafel was nie.

Gustav Claassen, die algemene sekretaris van die NG Kerk, het by navraag oor die lys opsies aan Kerkbode gesê: “Ek kyk na die verskillende opsies en die feit dat gesprek oor verskille nie as ’n moontlike opsie oorweeg word nie is teleurstellend.

“Hier word na radikale moontlike opsies gekyk sonder om verhelderend ruimtes te benut om dit wat ons nog steeds aan mekaar bind en waaroor ons saamstem as basis te gebruik om verskille aan te spreek. Hoe kan ons mekaar hoor as ons nie met mekaar praat nie?”

Carel Jansen het op Netwerk24 se kommentaarafdeling gesê Ernst se raad om die algemene sinode met besware toe te gooi is dwase raad. Hy sê die NG Kerk het homself lankal in ’n hoek vasgeverf. Aan die een kant wil hy so inklusief wees dat hy soos ’n Santam Multiplex-polis alles wil dek, en daarvoor skep hy ruimte vir verskillende Skrifbeskouings, wat mekaar wesenlik weerspreek.

“Wat in 2015, 2016 en 2019 in die NG Kerk gebeur het, en wat nou in Moreletapark gebeur, is ongelukkig getuienis van swak leierskap. Die NG Kerk aanvaar twee onversoenbare fondamente en rigtings. Wat dan aangebied word as inklusiwiteit, is ten diepste ’n de facto-skeuring. En die kerkleiding sien dit nie raak nie. Die NG Kerk het klaar geskeur.”

Buro: MvH
  • 0
Top