Betogers saai verwoesting in Wes-Kaap

  • 0

Betogers het anargie gesaai toe hulle in Kaapstad en Hermanus in die Wes-Kaap miljoene rand se skade aangerig het tydens protesoptredes.

In Kaapstad is ’n brandweerstasie in Guguletu deur oproeriges aan die brand gesteek en in Hermanus is minstens twee polisiemanne en ’n betoger die afgelope week beseer toe oproeriges handuit geruk het.

Die skade aan die brandweerstasie in Gugulethu beloop volgens ’n woordvoerder van die stadsraad sowat ’n miljoen rand. Volgens die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, moes nege van die brandweerstasie se brandweermanne Donderdag in die vroeë oggendure vir hulle lewe na veiligheid vlug en die polisie is ontbied om die betogers uiteen te jaag.

Gugulethu se brandweerstasie
Foto: Twitter

Die voorkant van die stasie is ernstig beskadig en die stadsraad het verskeie foto’s van die skade aan die media beskikbaar gestel wat deur verskeie nuusagentskappe op hulle sosiale platforms gedeel is.

Die brandweerstasie is tot verdere kennisgewing gesluit en die personeel is na Mitchellsplain se brandweerstasie ontplooi. Duisende inwoners van Gugulethu se lewens word bedreig as gevolg van die vandale se optrede aangesien dit veel langer sal duur om op te tree indien daar ’n brand in Gugulethu uitbreek.

Brande kom algemeen gedurende die wintermaande in informele nedersettings soos Gugulethu voor wat talle informele wonings verwoes en honderde inwoners dakloos laat.

Dit is nie duidelik presies wat die griewe van diegene wat die brandweerstasie aan die brand gesteek het is nie. Smith het aan die media gesê dit maak nie saak hoe geregverdig die plunderaars se griewe is nie, die stad kan dit nie bekostig dat ander mense se lewe daardeur in gevaar gestel word  nie.

Hy sê die betogers het eers die brandweerstasie se deure vernietig waarna hulle die dienskamer en ’n sekuriteitshek geplunder het. ’n Veiligheidsvoertuig wat voor die brandweerstasie geparkeer was, is ook aan die brand gesteek.

Op Hermanus moes die polisie Donderdag van rubberkoeëls gebruik maak om die oproerige skare in bedwang te hou. Videomateriaal van die betogings is op Twitter vertoon: 

Betogers het rommel in die strate gestrooi en gedreig om na die dorp se landdroskantoor op te ruk. Inwoners van die informele nedersetting Zwelihle het glo ook probeer om ’n laerskool te beskadig maar is deur die polisie uiteengejaag.

Overstrand-munisipaliteit op Hermanus het inwoners van die dorp deur middel van Twitter op hoogte gehou watter paaie is as gevolg van die betogings gesluit en watter roetes inwoners moet gebruik: 

Die gemeenskapspolisiëringsforum in Hermanus (GPF) het ook inwoners op Twitter op hoogte gehou van die situasie in die dorp.  Christina Pitt het Donderdag getwiet dat Hermanus ’n oorlogsone is en foto’s en videomateriaal van die betogings op Twitter geplaas: 

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top