Opposisiepartye en belangegroepe in die onderwys gaan vandag (Donderdag) hulle stryd voortsit teen die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela-wetsontwerp) tydens ’n betoging voor die parlement.
Die betoging sal gelei word deur die DA se skaduminister van basiese onderwys, Bax Nodada, die DA se Federaleraadsvoorsitter, Helen Zille, en die DA se nasionale woordvoerder, Solly Malatsi.
???? On Thursday the DA will lead a protest against the School Capture Bill (BELA Bill). The ANC wants to rob SGBs of the right to determine the admissions and language policies of schools in their communities.
Join us at 12h15 outside Parliament, Cape Town.#StopSchoolCapture pic.twitter.com/eT22zDilSD
— Democratic Alliance (@Our_DA) October 24, 2023
Ander belangegroepe en partye wat by die DA-geleide protes gaan aansluit, sluit in die uitvoerende hoof van Fedsas, Jaco Deacon, die voorsitter van die Pestalozzi Trust, Bouwe van der Eems, die stigter van LearnFree, Christopher Cordeiro, Marie Sukers, parlementslid van die ACDP, en Wynand Boshoff, parlementslid van die Vryheidsfront Plus.
Die Bela-wetsontwerp is vroeër ná ’n uitgebreide veldtog vir openbare deelname waarin die portefeuljekomitee van basiese onderwys verhore regoor die land gehou het, deur die komitee aanvaar.
Deacon het op Fedsas se webwerf geskryf die portefeuljekomitee se aanvaarding van die wetsontwerp is beslis ’n groot skoot, maar nie noodwendig ’n doodskoot nie.
Hy sê daar moet nog baie water in die see loop voordat die voorgestelde wysigings wet word. Tot dan het skoolbeheerliggame steeds ooreenkomstig die bepalings van die Skolewet die verantwoordelikheid om die taal- en toelatingsbeleid van skole te bepaal. Dit sal die geval bly totdat die President die wysigingswet onderteken, maar die termyn van die huidige parlement loop nou vinnig ten einde.
Die DA sê in ’n verklaring hulle staan bankvas daarteen gekant dat die ANC skole en skooltaalbeleid oorneem.
“Ingevolge die diskriminerende Bela-wetsontwerp sal die hoof van provinsiale onderwysdepartemente en LUR'e uiteindelik besluit watter taal in jou kind se skool onderrig word en wie tot die skool toegelaat word,” sê die party in hulle verklaring.
Dit beteken dat ouers, en skoolbeheerliggame hierdie magte sal verloor.
Volgens die DA is die ANC die “trotse borg van hierdie diskriminerende stap wat moedertaalonderrig aanval”. Hulle sê met hierdie wetsontwerp sal hulle die skole verder vernietig.
Die twee grootste geskilpunte vir openbare skole is die bepalings oor taal en toelating en die voorstel dat die finale besluit by die departementshoof van onderwys in elke provinsie berus. Bepalings oor tuisonderrig het ook dié gemeenskap erg ontstoke gelaat.
Die ANC huldig die standpunt dat “sekere gemeenskappe” taal en toelating gebruik om leerders uit te sluit en dus diskriminerend van aard is.
Volgens Deacon word taal en toelating egter die sondebokke gemaak vir onbeholpe amptenare en politici. Hy sê sistemiese gebreke soos te min skole, swak onderrig en powere bestuur word nie aangespreek nie.
Hy sê met ’n algemene verkiesing om die draai, gaan Bela nou oor politiek en nie oor onderwys nie. “Skole en kinders is die pionne in die magspel om swak bestuur en goedkoop politieke skuiwe te verdoesel deur die reëls van die spel oor te neem.”
Volgens die jongste data (School Realities 2022) is daar 22 589 openbare skole in Suid-Afrika. Gauteng het byvoorbeeld 2 056 openbare skole teenoor die 2 045 skole van 2012. ’n Skamele 12 bykomende skole ná ’n hele dekade.
Deacon sê daar het eenvoudig niks gekom van die huidige premier, Panyaza Lesufi, se “160 nuwe skole in drie jaar” nie. Hy sê die “flaters” moet nou met politieke vlugvoetigheid reggestel word deur Afrikaanse skole die skuld te gee dat daar nie plek is nie. Al word al die Afrikaanse skole oornag Engels, gaan dit volgens hom nie die oplossing wees nie.
Deacon sê die mense van Suid-Afrika sal moet opstaan vir openbare skole en baie harder baklei vir gehalte-onderwys vir elke kind in die land. “Ons moet besluitnemers aanspreeklik hou vir die nakoming van hul verantwoordelikhede.”
Hy sê goeie ouers moet hand opsteek en staan as kandidate in volgende jaar se beheerliggaamverkiesing, en elke ouer moet gaan stem. “Raak betrokke by jou plaaslike skool en gee finansiële ondersteuning vir organisasies wat die geldigheid van Bela in die hof gaan toets. Gewone burgers van die land moet hul stem in die algemene verkiesing gaan uitbring en politici aanspreeklik hou vir die stand van openbare onderwys. Die bal is wel in ons hande,” het Deacon gesê.