Die afgelope weke se beurtkrag het ’n verwoestende invloed op die land se ekonomie. Sommige maatskappye moes reeds van hulle werkers aflê omdat hulle nie hul deure kon oopmaak nie.
Diegene met kragopwekkers kon nie diesel kry om hulle vinnig genoeg vol te maak nie, en dié wat van batterykrag gebruik maak, se batterye het heeltemal afgeloop.
Busi Mavuso, uitvoerende hoof van Business Leadership South Africa (BLSA), sê in ’n nuusbrief daar is net een manier om te verseker dat die land nie weer sulke gebeurtenisse in die gesig staar nie en dit is om die bronne van elektrisiteit in Suid-Afrika te diversifiseer.
“Ons kan nie meer staatmaak op ’n enkele staatsagentskap vir elektrisiteit nie. Ons weet dit al ’n geruime tyd en as ons gouer kragtiger opgetree het, kon ervarings soos verlede week vermy gewees het. Ons het die regte bestanddele – die privaat sektor kan nou sonder ’n lisensie aanlegte van tot 100 MW bou. Die onafhanklikekragprodusente-program vir hernubare energie kan veel groter kragproduksie verkry. Binne ’n kwessie van jare kan ons die produsente van elektrisiteit in Suid-Afrika aansienlik diversifiseer.”
Mavuso sê dit was ook ’n krisis vir Eskom, met die verlies aan opwekkingskapasiteit wat direk gekoppel was aan onwettige arbeidsoptrede wat met sabotasie en geweld gepaard gegaan het.
Sy het op BLSA se webwerf gesê dit lyk of dit ernstige fase 6-beurtkrag geverg het vir die regering om uiteindelik te besef dat hy nie bloot by sy verouderde geïntegreerde hulpbronplan kan hou om die energiekrisis aan te spreek nie.
“Dit is intens frustrerend dat daar vir so lank herhaalde waarskuwings van alle sektore van die samelewing was, insluitend sake-, arbeids- en burgerlike gemeenskapsgroepe – en selfs van binne die regering self – voordat daar opgetree word.”
It has taken severe stage 6 load shedding for the government to finally realise that it can’t simply keep sticking to its outdated Integrated Resource Plan to address the energy crisis, writes @BusiMavuso2 in @BDLiveSA. https://t.co/GNlsE4pniN
— Business Leadership South Africa (@BLSA_Official) July 5, 2022
Sy sê André de Ruyter, Eskom se uitvoerende hoof, was aan die voorpunt om aan die land en sakeondernemings te verduidelik wat aan die gebeur is. “Hy het homself beskikbaar gestel om die BLSA-raad toe te spreek om die situasie te verduidelik en die land via die media op hoogte te hou.” Mavuso sê De Ruyter se openheid moet verwelkom word.
Sy sê daar word wel vordering gemaak, maar dit is te stadig. Een van die goeie ingrepe wat gemaak is, is volgens haar Eskom se besluit om die groot stukke grond wat hy in Mpumalanga besit, aan onafhanklike kragprodusente beskikbaar te stel.
Baie van hierdie grond het reeds die regulatoriese goedkeurings wat nodig is om elektrisiteit te produseer en is naby netwerkverbindingspunte. Twee weke gelede het De Ruyter die eerste 18 suksesvolle bieërs vir huurkontrakte op dié grond aangekondig. Hulle sal elk 100 MW-aanlegte oprig, wat 1,8 GW in kapasiteit sal byvoeg. Slegs 11% van die beskikbare 36 000 hektaar sal deur die eerste huurders gebruik word, wat beteken daar is nog baie meer potensiaal daar.
Daar is ook ’n versnelling in toename in ander privaat produsente wat nuwe aanlegte by die Nasionale Elektrisiteitsreguleerder van Suid-Afrika registreer. Die reguleerder het tot dusver 18 goedgekeur te midde van ’n "stortvloed" van aansoeke. Die laaste goedkeurings is binne 19 dae vanaf ontvangs van die aansoek gedoen. Dit is ’n positiewe teken dat rompslomp uit die proses van private opwekking verwyder is, sê Mvuso.
Sy sê die tekens is duidelik dat die toekomstige elektrisiteitsmark ’n diverse een sal wees. “En in daardie scenario lei nywerheidsoptrede by een produsent nie noodwendig tot beurtkrag nie. Ek vermoed dat diegene wat staak, daardie toekoms voorsien, en die poging om hoër loontoegewings te onttrek word gedryf deur die wete dat dit eendag onmoontlik sal wees om die land gyselaar te hou met voortdurende looneise.”
Daar is volgens haar egter nog ’n lang pad om te loop na ’n volhoubare energietoekoms. Eskom moet die ontbondeling van ’n aparte stelseloperateur voltooi, een wat elektrisiteit vir die netwerk van die goedkoopste bronne sal kan koop. “Ons moet duidelike regulasies en prosesse instel om deur die netwerk te beweeg – die proses waardeur ’n elektrisiteitsprodusent op een plek aan kliënte op ander plekke krag deur die netwerk kan verkoop.”
Sy sê die gebeure van verlede week wys hoe dringend dit is dat daar opgetree word om die nodige hervormings deur te voer. “Regering en besigheid moet op een lyn gebring word om die visie te vervul. Daar was suksesse – maar ons moet nie rus voordat ons met selfvertroue kan sê dat beurtkrag iets van die verlede is nie”, sê Mavuso.