Beurtkrag kan voedselsekerheid op die rotse laat beland

  • 0

Die impak van die voortdurende kragonderbrekings het katastrofiese gevolge vir die landbousektor en die breër ekonomie wat uiteindelik die verbruiker se sak gaan ruk namate voedselpryse styg.

Die land was die afgelope week geskok oor ’n video wat op sosiale media versprei is van ’n bekroonde boer van die Coligny-omgewing in Noordwes wat R1,6 miljoen se skade gely het toe tussen 40 000 en 50 000 van sy hoenders gevrek het omdat Eskom glo langer as ’n maand sloer om ’n stukkende substasie te herstel.

Op die video kan gesien word hoe ontslae geraak moet word van letterlik duisende dooie hoenders.

Volgens ’n berig in Landbouweekblad het Herman du Preez, wenner van Noordwes se Jong boer van die jaar 2022, van Frangipani-boerdery in Lichtenburg ongeveer 40 000 hoenders en kuikens van ongeveer R1,6 miljoen verloor.

Die boer sukkel glo al sedert 14 Desember 2022 met Eskom.

Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging het ’n waarskuwing uitgereik oor die nadelige uitwerking wat beurtkrag op die hoender- en hoendereierbedryf het. Hulle sê die bedryf word finansieel versmoor omdat produsente groot bedrae geld aan buitensporig duur diesel moet bestee.

Hoendertekorte waarmee sommige kitskoswinkels te kampe het, kan vanjaar na die kleinhandel- en groothandelmarkte oorspoel as die fase 6-beurtkrag voortduur, het die Pluimveevereniging gewaarsku.

Die leier van ActionSA, Herman Mashaba, het op Twitter gesê wanneer ons R300 plus vir ’n hoender begin betaal, sal ons ten minste weet hoekom. “Ek is kwaad vir ons regering wat ons tot hier gebring het,” sê Mashaba

Die prys van sommige ander stapelvoedselgroepe sal na verwagting ook styg namate beurtkrag sy tol op die landbousektor eis, het Christo van der Rheede, ’n uitvoerende direkteur by Agri SA, aan die radiostasie 702 gesê.

Van der Rheede het in gesprek met 702 gesê dat beurtkrag ’n diepgaande uitwerking het op alle soorte landboubesighede, insluitend dié wat met vee en gewasse te doen het. Hy het bygevoeg dat Suid-Afrika se voedselsekerheid binnekort op die rotse kan wees as die situasie voortduur.

Die kragonderbrekings veroorsaak ook vermorsing en finansiële verliese weens die impak op voedselberging. Kleinhandelaars begin varsprodukte, hoofsaaklik groente, terugstuur weens vertragings in aflewering en ontwrigting in die koueketting. In die somer neem hierdie uitdaging eksponensieel toe. Dit sal die hoeveelheid voedsel wat beskikbaar is, verminder en die koste daarvan vir die verbruiker verhoog.

Die landbou-ekonoom Wandile Sihlobo sê daar is waarskynlik geen kwessie wat dringender is as die toenemende energiekrisis vir Suid-Afrika se landbou en landboubesighede nie.

Sihlobo is die hoofekonoom van die Landboubesigheidskamer van Suid-Afrika (Agbiz) en die skrywer van Finding common ground: land, equity and agriculture.

Sihlobo het in ’n artikel op die blog Agricultural economics today gesê die finansiële impak op landboubesighede of op voedselsekuriteit in die breë is nog nie duidelik nie en sal moeilik wees om te kwantifiseer.

Daar is ook kommer oor voedselsekerheid omdat die effek van beurtkrag ’n direkte invloed het op die volumes produkte wat in die komende maande geoes of geproduseer moet word as gevolg van die tydsvertraging in die landbouproduksiestadia.

Agri SA het reeds verlede jaar in ’n verklaring gewaarsku dat die impak van die voortdurende kragonderbrekings op die landbousektor en die breër ekonomie ernstige implikasies vir voedselsekerheid en maatskaplike stabiliteit inhou.

Elektrisiteit is sentraal tot moderne boerderypraktyke en die toename in beurtkrag het boerderybedrywighede ernstig ontwrig. Pompstasies, besproeiing, verkoeling en ander stelsels is almal afhanklik van kragtoevoer. Terwyl sommige boere die middele het om weg te beweeg van die kragnetwerk, is die meeste nie in staat om dit te doen nie. Dit geld veral vir die mees kwesbare kleinskaalse boere. Boere verbeur hul waterkwotas vir besproeiingsdoeleindes wanneer die krag af is – ’n oninbare verlies wat plase lamlê, sê Agri SA.

Beurtkrag dra ook by tot inflasie en kan daartoe lei dat boere minder plant as gevolg van stygende koste en ontwrigting in plantskedules. Agri SA sê beurtkrag verhoog die koste van produksie vir boere in ’n tyd wanneer Suid-Afrikaners verdere voedselprysstygings in die gesig staar en onder ongekende ekonomiese druk verkeer.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top