Beurtkrag lok duisende na slimfoontoepassing

  • 0

Dan Wells en Herman Maritz tydens die MTN App of the Year Awards in 2015. (Foto: Facebook)

Suid-Afrikaners stroom in hulle duisende na EskomSePush om uit te vind wanneer Eskom hulle krag gaan afskakel.

Hoewel baie mense nog in die duister is oor wat EskomSePush is, maak minstens 400 000 Suid-Afrikaners reeds van hierdie gewilde toepassing op hul slimfone gebruik. Die app met die dubbelsinnige naam se gebruikers het die hoogte ingeskiet sedert beurtkrag weer toegepas word.

Die aantal gebruikers het in ’n week gestyg van 2 500 aktiewe gebruikers tot meer as 400 000. Die toepassing stuur kennisgewings of “push notifications” uit na die gebruikers wat daarop geregistreer het om hulle in kennis te stel hoe laat ’n spesifieke buurt sonder krag gaan wees.

Dit is tans die gewildste selfoontoepassing in Suid-Afrika op die Suid-Afrikaanse iOS App-winkel. Naas WhatsApp is dit ook die toepassing wat die meeste afgelaai word op die Suid-Afrikaanse Google Play Store.

Die ontwikkelaars van die toepassing, Dan Wells en Herman Maritz, het reeds verskeie eerbewyse met hulle toepassing gewen, onder andere MTN se App van die jaar-toekenning in 2015 toe Suid-Afrikaners die eerste keer met beurtkrag gekonfronteer is.

Die twee vriende het dit in 2014 saam ontwerp toe hulle saam met talle Suid-Afrikaners gefrustreerd was omdat hulle gesukkel het om op Eskom se rooster te sien wanneer gaan die krag af. “Ons wou weet wanneer gaan daar beurtkrag wees sodat ons ons planne vir die Desembervakansie daardie jaar daarvolgens kon beplan,” het Maritz aan Business Insider gesê.

Hy sê hulle het baie gelag tydens die maak van hierdie eenvoudige kennisgewingsdiens met die stuitige naam. Hulle het aanvanklik ’n toepassing met die naam PushBullet begin om kennisgewings uit te stuur. In 2015, ses weke nadat hulle daarmee begin het, was daar reeds meer as 100 000 gebruikers.

Toe beurtkrag later daardie jaar opgeskort is, was daar sowat 250 000 aktiewe gebruikers wat van hulle toepassing se diens gebruik gemaak het.

Wells het op Twitter goedig gespog met hulle prestasie en geskryf “ons is weer heel bo”.  Gewilde toepassings soos WhatsApp, Uber en Capitec moes almal die knie buig voor EskomSePush nadat die kragvoorsiener Maandag Fase Vier beurtkrag aangekondig het.

Die toepassing dek onder meer Johannesburg, Kaapstad, Pretoria, Polokwane, Durban, Port Elizabeth, Oos-Londen, die Oos-Rand, Heidelberg in Gauteng, Bloemfontein, Pietermaritzburg, Richardsbaai, Vanderbijlpark en Kimberley.

Nadat Eskom dié week vir die eerste keer in die land se geskiedenis Fase Vier-beurtkrag ingestel het, het die aantal gebruikers van dié toepassing oornag die hoogte ingeskiet.

Maritz het aan Business Insider gesê die toepassing sal na verwagting teen die einde van die week ’n halfmiljoen gebruikers hê. Hy sê hulle word ook oorval met e-posse en het sedert Maandag meer as 1 400 e-posboodskappe van die publiek gekry oor hulle gewilde toepassing, vergeleke met drie die vorige week.

Hulle is so oorval met e-posnavrae dat hulle nie meer op almal kan reageer nie, het ’n ingenome Maritz aan die koerant gesê. Daar was so ’n toeloop van verkeer op hulle diensverskaffer dat die verkeer geblokkeer is en dat die toepassing inderhaas aangepas moes word om die duisende nuwe gebruikers te akkommodeer.

Sowat 20% van die land was Maandag sonder elektrisiteit toe Eskom begin het om Fase Vier-beurtkrag toe te pas en ongeveer ’n derde van Eskom se 45 000MW-kapasiteit was af.

Die toepassing spoor outomaties die gebruikers op en stel hulle in kennis wanneer daar enige veranderings is aan die beurtkragskedules. Dit verskaf gedetailleerde inligting van meer as 50 000 plekke in Suid-Afrika.

“Die stelsel is 100% outomaties in terme van beurtkragveranderings en kennisgewings,” sê Maritz.

Hy werk tans as ingenieur vir aanlyn Classifieds OLX in Duitsland en sê die toepassing was tot onlangs deur hulself befonds, maar hulle het nou ’n paar advertensies daar geplaas “om die ligte aan te hou”.

“Ek haat advertensies en ons dink aan ander oplossings, maar benodig kontantvloei om die toepassing aan die gang te hou.” Hy sê hulle geniet dit om die toepassing te bedryf en dit verskaf hulle groot genot. Die twee vindingryke mense moedig ervare mobiele of JavaScript-ontwikkelaars aan wat daarvan hou om met ekstra vryskutprojekte te werk en wil help om hulle te kontak by iwanttohelp@sepush.co.za.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top