Beurtkrag pootjie nou ook ID-dokumente en paspoorte

  • 0

Beurtkrag veroorsaak nou ook dat belangrike inligting by staatsdepartemente verlore gaan as gevolg van rekenaarstelsels wat van lyn is weens die voortdurende kragonderbrekings.

Dit volg te midde van beloftes die afgelope naweek deur president Cyril Ramaphosa aan die ANC-leiers tydens die party se lekgotla om die fases beurtkrag te verlaag, terwyl Eskom ’n instandhoudingsagterstand hanteer.

Ramaphosa het gesê die land se energiekrisis beïnvloed die ekonomie en investering en in baie gevalle veroorsaak dit ook ’n toename in misdaad.

Die DA sê in ’n verklaring hulle het ontdek dat aansoeke vir ID-dokumente en paspoorte by binnelandse sake uitgevee word weens beurtkrag. Die moontlikheid dat dit ook in ander staatsdepartemente die geval is, is uiters kommerwekkend en die DA sê hulle sal in die komende weke toesig hou om vas te stel of dit wel die geval is.

Die party se skadu-adjunkminister van binnelandse sake, Adrian Roos, sê hy het aan die minister van binnelandse sake, Aaron Motsoaledi, geskryf om hierdie kwessie dringend aan te spreek.

By besoeke aan die Bronkhorstspruit se binnelandse sake-kantoor saam met ’n raadslid, Lida Erasmus, is glo gevind dat daar gevalle is waar mense aansoek doen vir ’n ID-dokument of paspoort, die aansoek voltooi en ’n geldige kwitansie ontvang. ’n Paar weke later wanneer hulle na die kantoor terugkeer om uit te vind hoekom die dokumente nie gereed is nie, vind hulle dat die aansoek heeltemal uitgevee is as gevolg van beurtkrag wat veroorsaak dat die stelsel van lyn gaan.

Hierdie mense moet dan weer van voor af aansoek doen. “Dit is ’n heeltemal onaanvaarbare tydmors vir hierdie inwoners. Daar kan geen kompromie wees vir betroubare databasisinligting wat sulke sensitiewe inligting bevat nie,” sê Roos.

Die minister het tot op hede versuim om ’n DA-parlementêre vraag wat in Oktober 2022 gestel is, te beantwoord waarin daar ’n lys van die kantore van binnelandse sake verskaf word met geen funksionerende kragopwekker of ononderbroke kragtoevoerstelsel nie. Die minister kon ook nie sê teen wanneer noodkragtoevoerstelsels in elk van hierdie kantore geïnstalleer sal word nie.

’n Gedetailleerde verslag wat so ver terug as 2019 aan binnelandse sake voorgelê is, het elektrisiteit- en omgewingskwessies reeds uitgelig as die hoofoorsake van stelselstilstand, insluitend kragtoevoertoestelle wat nie inskop wanneer dit beurtkrag is nie, geen kragrugsteun of geen brandstof in kragopwekkers wanneer die krag onderbreek word nie.

Die DA sê die lusteloosheid om hierdie kwessies aan te spreek, is moeilik om te verstaan, gegewe die erns van hul impak. “Ministers geniet kragopwekkers by hul amptelike huise op belastingbetalerskoste en is heeltemal gevrywaar van die gevolge van beurtkrag.”

Die DA sê hulle sal die saak opvolg om te verseker dat aansoeke vir dokumente wat weens beurtkrag geskrap word, sonder versuim aangespreek word.

Ramaphosa het op die ANC se lekgotla gesê die energieplan wat in Julie 2022 saamgestel is, is besig om in werking gestel te word, maar sal ’n rukkie neem voordat die uitwerking daarvan realiseer.

“Ons doelwit is om die stadiums van beurtkrag na die laer vlakke te verlaag, terwyl ons die algehele uitdaging aanspreek om die sekuriteit van energievoorsiening te verseker.”

Hy sê benewens die historiese redes vir beurtkrag is nog ’n faktor wat tot die huidige vlakke van beurtkrag bydra, Eskom se poging om vorige foute reg te stel.

“Eskom het sy instandhoudingsprogram verskerp om onbeplande onklaarrakings te verminder en die lewensduur van kragsentrales te verleng,” het Ramaphosa gesê.

Terwyl Eskom daarin geslaag het om beurtkrag oor die naweek tot so laag as fase 2 te verminder, noodsaak voortgesette verliese aan opwekkingseenhede by sy kragstasies hoër stadiums gedurende die week.

 

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top