Beurtkragverligting laat steeds duisende Suid-Afrikaners in die donker

  • 0

Terwyl twee weke sonder beurtkrag vir die meeste Suid-Afrikaners ’n baie welkome ontwikkeling is, is die hartseer werklikheid dat daar baie gemeenskappe regoor die land is wat in die donker verkeer, omdat transformators in daardie gemeenskappe óf nie werk nie óf nie vinnig genoeg vervang word nadat hulle gevandaliseer of beskadig is nie.

Dit blyk uit ’n skriftelike antwoord op ’n vraag van die DA in die parlement aan die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan.

Die minister het bevestig dat 1 135 transformators regoor die land nie werk nie. Die provinsies wat die swaarste getref word, is Gauteng, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en die Oos-Kaap.

Intussen het die minister van elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, die afgelope week beweer dat die intensiteit en frekwensie van beurtkrag afneem weens aggressiewe, beplande instandhouding.

Hy het die media Dinsdag ingelig oor die laer frekwensie van beurtkrag aangesien die land byna twee weke sonder kragonderbrekings ondervind het.

Ramokgopa het ook aan die parlement gesê daar was 600 minder ure se beurtkrag vanaf Desember tot Februarie vanjaar vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar. Hy sê dit is die gevolg van verskeie ingrypings.

Intussen het adjunkpresident Paul Mashatile Dinsdag tydens ’n openbare lesing by die Universiteit van Johannesburg (UJ) belowe dat die regering vanjaar beurtkrag sal beëindig.

In sy antwoord aan die DA het Gordhan gesê dat 70% van die niefunksionele transformators in die landelike gebiede is, maar volgens die DA toon die situasie op die grond ’n heel ander prentjie.

Die DA se skaduminister van openbare ondernemings, Mimmy Gondwe, sê in ’n verklaring in Februarie vanjaar was 160 huishoudings in Dobsonville in Soweto al sedert Junie 2023 sonder elektrisiteit, ondanks die betaling van ’n regstellende fooi om hul transformator te laat vervang.

Laat in 2023 het 200 inwoners van Nelson Mandelabaai se wyk 45 geprotesteer teen die versuim om verskeie transformators wat in hul gebied ontplof het, te vervang.

In 2023 het sommige eMalahleni-inwoners die strate ingevaar nadat beloftes van ’n spoedige herstel vir ’n geblaaste transformator ook nie gerealiseer het nie.

Die DA sê hulle keur nie vandalisme aan transformators of enige elektrisiteitsverwante infrastruktuur goed nie, maar die gebruik van kollektiewe straf benadeel wetsgehoorsame inwoners.

“In sy antwoord blyk dit dat die Minister impliseer dat in gevalle waar ’n transformator gevandaliseer of beskadig is, geaffekteerde gemeenskappe die kollektiewe las moet dra om dit te laat vervang,” sê Gondwe.

Dit teiken betalende klante volgens haar onregverdig en vrywaar Eskom en munisipaliteite daarvan om operasionele verantwoordelikheid te aanvaar vir die beskerming van transformators teen skade of vandalisme.

Vroeg vanjaar het die DA onthul dat daar tussen 2018 en 2023 meer as 44 000 gevalle van transformator- en ander elektrisiteitsinfrastruktuurdiefstal aangemeld is. Dit verteenwoordig gemiddeld 24 voorvalle van diefstal en vandalisme per dag oor die afgelope vyf jaar.

Een van die redes waarom die Wes-Kaap een van die land se laagste vlakke van transformatorvandalisme en diefstal het, is volgens die DA dat die DA-geleide regerings in beide sfere ’n proaktiewe benadering gevolg het om hul elektrisiteitsinfrastruktuur te beskerm en vinnig op dade van misdadigheid te reageer.

In 2022 het die Stad Kaapstad aangekondig dat hy R40 miljoen gaan bestee aan die beveiliging van kritieke elektrisiteitsinfrastruktuur deur die bevordering van sekuriteitspatrollies in brandpuntgebiede en die ontplooiing van permanente sekuriteit om strategiese elektrisiteitsinfrastruktuur te beskerm.

Dit lyk asof die ANC-regering die oorlog teen elektrisiteitsinfrastruktuurvandale en misdadigers verloor het, sê die DA in hulle reaksie. Kiesers het volgens die party nou die geleentheid om op 29 Mei 2024 die gety teen kriminaliteit te keer deur te stem vir ’n DA-regering wat homself, waar hy regeer, bewys het dat hy die gety teen infrastruktuurvandalisme en diefstal kan keer.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top