Die beweerde ontdekking by ’n private woning in Pretoria van vermeende stembriewe en verkiesingsmateriaal van die ANC se omstrede Groter Johannesburgse streekskonferensie het die party se interne verdeeldheid tussen die verskillende faksies verder verdiep. Dit het nuwe vrae laat ontstaan oor die integriteit van sy interne demokratiese prosesse.
Die materiaal is op 25 Januarie ontdek nadat klagtes ontvang is oor moontlike onreëlmatighede tydens die konferensie wat in Desember 2025 plaasgevind het. Die konferensie het geëindig met ’n nederlaag van die huidige Johannesburgse burgemeester, Dada Morero, en die verkiesing van Loyiso Masuku as nuwe streeksvoorsitter.
BREAKING NEWS [THREAD]: ANC Ballot Boxes Found in Pretoria House
ANC Greater Johannesburg Regional Conference ballot boxes discovered in private house in Pretoria. Linked to disputed 2025 conference where Loyiso Masuku elected regional chair, defeating Dada Morero. 🔗:… pic.twitter.com/aXh8Nlt4to
— ツ Lord Ori (@Lord_Ori_) January 25, 2026
Volgens berigte is die stembriewe na bewering in swart plastieksakke in ’n groentetuin agter die huis gevind. Die dokumente het onder meer uitslagstrokies vir sogenaamde “regional additional members” en stembriewe met ANC-handelsmerke ingesluit. Polisielede, asook amptenare uit die kantoor van die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het die toneel besoek, maar min inligting is amptelik bekendgemaak.
Morero, die voormalige streeksvoorsitter, het reeds op 21 Januarie ’n formele klagte aan Mbalula gerig waarin hy ernstige vrae opper oor die aanstelling en optrede van die Election Management Consulting Agency of Africa (EMCA). In sy brief beweer hy dat die geloofwaardigheid van hierdie verkiesingsagentskap “ernstig gekompromitteer” is en dat die proses gelyk het of dit “met ’n voorafbepaalde uitkoms georkestreer is”.
Die ontdekking van die materiaal staan in skrille kontras met Mbalula se vroeëre openbare uitsprake dat daar “geen krisis” in die Johannesburg-streek is nie en dat geen ondersoek aan die gang is nie. Intussen hou ANC-verteenwoordigers vol dat interne prosesse eers afgehandel moet word voordat enige verdere kommentaar gelewer kan word. Die streeksekretaris het volgehou dat die konferensie “regverdig en regmatig” verloop het – ’n siening wat ook deur EMCA ondersteun word.
Die huis waar die materiaal na bewering gevind is, behoort na bewering aan die eienaar van EMCA.
DEVELOPING | Ballot boxes believed to be of the ANC Greater Johannesburg Regional Conference have been found in a house in Pretoria. Officials from the office of the Secretary General and the police are on the scene. SABC News Politics reporter Samkele Maseko has the details. pic.twitter.com/O3bRvPYJvb
— SABC News (@SABCNews) January 25, 2026
ANC-amptenare op die toneel het aan SABC News gesê dat die party streng kontraktuele reëls het oor waar stemmateriaal bewaar moet word, en dat dit beslis nie by ’n individu se woning hoort nie.
Cyril Ramaphosa het as ANC-leier bevestig dat hy wag op ’n volledige verslag oor die voorval. Sy kommentaar kom teen die agtergrond van toenemende spanning binne die party, veral in Gauteng, waar beheer oor Johannesburg as strategies van groot politieke belang beskou word. In sy afsluitingsrede by die ANC se lekgotla het hy gewaarsku dat “onbevoegdheid van ANC-kaders” nie geduld sal word nie.
President Cyril Ramaphosa delivered the closing address at the #ANCNECLekgotla, affirming that the gathering was about execution, accountability, and action. He emphasised that the Lekgotla resolved on clear implementation plans with targets and consequences, committing the… pic.twitter.com/mn3sDfvkQ4
— ANC - African National Congress (@MYANC) January 25, 2026
Die konferensie-uitslag self was reeds omstrede. Masuku het Morero met 184 stemme teen 149 geklop, en haar faksie het ook ander sleutelposisies ingepalm. Sy is die eerste vrou wat as voorsitter van die Groter Johannesburg-streek verkies is, maar die omstredenheid rondom die proses dreig om haar mandaat te verswak.
Vir Johannesburg hou die ANC se interne stryd ernstige gevolge in. Politieke onsekerheid en interne verdeeldheid kan besluitneming in die metro verlam en dienslewering verder onder druk plaas. Breër gesien, ondermyn die jongste gebeure die ANC se beeld as ’n party wat hom verbind tot goeie regering en deursigtige prosesse, ’n reputasiekrisis wat die party se verkiesingsvooruitsigte in ’n reeds brose politieke landskap verder kan skaad.
ANC to submit report after discovery of ballot papers linked to Joburg regional conference https://t.co/QHEMc9hx3P
— Eyewitness News (@ewnupdates) January 26, 2026
Vir die ANC in sy geheel is die implikasies ernstig. Die party worstel reeds met ’n beeld van interne verdeeldheid, korrupsie en wanbestuur. Hierdie beweerde ontdekking van stembriewe in ’n privaat tuin versterk die persepsie van ’n organisasie wat sukkel om sy eie prosesse te bestuur. Dit kan die ANC se geloofwaardigheid by kiesers verder ondermyn, veral met die naderende plaaslike verkiesings.
Terwyl Ramaphosa en die nasionale leierskap wag op ’n verslag, bly die vraag of die party sy faksiegevegte kan bestuur sonder om sy openbare beeld verder te beskadig. Wat in Johannesburg gebeur, is ’n mikrokosmos van die breër uitdagings wat die ANC in die gesig staar: ’n stryd om integriteit, eenheid en relevansie in ’n tyd van toenemende politieke mededinging.
