Beweerde seksskandaal in Wes-Kaap se regering onder vergrootglas

  • 0

’n Beweerde seksskandaal waarby ’n provinsiale minister van die Wes-Kaapse regering betrek word, is besig om al hoe wyer uit te kring.

Die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, het sy minister van gemeenskapsveiligheid, Albert Fritz, verlede maand geskors hangende ernstige bewerings wat later geblyk het verband te hou met seksuele verhoudings.

Winde wou aanvanklik nie sê waarom hy Fritz tydelik geskors het nie. Hy het egter  Sondag bevestig dat die aanklagte van ’n seksuele aard is. Volgens Winde is dit belangrik dat die klaers ’n onafhanklike ondersteuningstelsel het, wat insluit om die saak by die polisie aan te meld. Winde sê hy wag nou vir die uitslag van die onafhanklike ondersoek na Fritz voordat hy ’n besluit neem oor sy toekomstige rol in die provinsiale kabinet.

Hy het alle vermeende slagoffers wat na bewering deur Fritz mishandel is, aangemoedig om na vore te kom.

’n Onafhanklike ondersoek onder leiding van ’n advokaat is reeds aangestel om al die bewerings te ondersoek. Fritz het nog nie ’n woord gerep oor die ernstige bewerings nie. Sy familie staan volgens berigte in die media egter by hom en sê hulle is verpletter deur die bewerings van seksuele wangedrag wat teen hom gemaak word.

Sy broer, Robbie Fritz, het in ’n onderhoud aan die TV-kanaal eNCA gesê sy eie gesondheid het ook verswak weens “die skokkende nuus”.

Fritz se broer sê die bewerings is alles deel van ’n politieke komplot binne die DA om van leiers wat nie wit is nie, ontslae te raak en is deel van “vuil politiek” in die party.

Die Sunday Times het Sondag berig dat Fritz na bewering jong vroue met laataandboodskappe gebombardeer het waarin hulle glo tydens reise saam uit die stad gevra word om na sy kamer te kom .

Dit blyk volgens die koerant uit ’n rits boodskappe wat deur die Sunday Times gesien is dat Fritz en een van sy beweerde slagoffers, wat blykbaar in sy departement gewerk het, op ’n werkreis was.

Die DA-leier, John Steenhuisen, het die party daartoe verbind om kriminele klagte teen Fritz  in te dien indien ’n onafhanklike ondersoek dit regverdig.

Winde sê in sy jongste verklaring hy is vasbeslote om te verseker dat ’n slagoffergesentreerde, regverdige proses gevolg word wat die toets van ’n hof sal deurstaan.

Hy sê hy het die onafhanklike ondersoekliggaam versoek om die beëdigde verklarings van die beweerde slagoffers sowel as Fritz se eie reaksie daarop in ag te neem. Na ontvangs van die verslag binne die volgende twee weke sal hy daarop reageer en besluit of Fritz permanent van sy pos in die Wes-Kaap se provinsiale kabinet onthef sal word.

Die provinsiale DA Vrouenetwerk (Dawn) het gesê hulle ondersteun die "vinnige optrede" met betrekking tot die skorsing en het ’n beroep gedoen dat die proses ongehinderd voortgaan.

Dawn se voorsitter, Wendy Kaizer-Philander, sê hulle het kennis geneem van die verklarings wat uitgereik is en stappe wat deur Winde gedoen is.

Winde sê hy het groot respek vir die mense wat na vore gekom het en die dapperheid wat hulle aan die dag gelê het. Hy sê dit is nie gepas om verder uit te brei oor die aard van die klagtes terwyl die ondersoek aan die gang is nie. Hy doen ’n beroep op ander om dit ook so te hanteer.

Winde het alle klaers ten sterkste aangemoedig om klagtes by die SAPD te lê, sodat hulle saam met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ’n besluit kan neem oor stappe wat hulle volgens die wet moet doen.

Hy sê vir enige persoon wat seksuele wangedrag ervaar het, bestaan die volgende kanale om dit aan te meld, en hy doen ’n beroep op alle slagoffers om daarvan gebruik te maak sodat geweld teen vroue beëindig kan word:

  • Stop Geslagsgeweld-hulplyn: 0800 150 150.
  • SAPS: 08600 10111.
  • Kinderlyn: 116.
  • Die provinsiale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling: 0800 220 250; GBV365DAYS@westerncape.gov.za / SD.CustomerCare@westerncape.gov.za.
  • Geslagsgebaseerde Geweld-opdragsentrum: 0800 428 428.
  • LifeLine 24-uur-krisishulplyn: 021 461 1111.
  • Rape Crisis Cape Town Trust se beradinglyne:
    • Sterrewag: 021 447 9762
    • Athlone: 021 633 9229
    • Khayelitsha: 021 361 9085.
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top