Bewerings van rassisme by Universiteit Kaapstad

  • 0

AfriForum se jeugvleuel beskuldig die Universiteit van Kaapstad (UK) van voortgesette rassisme op die kampus. Hulle eis onder andere die afdanking van een van die universiteit se dosente.

AfriForum Jeug het Dinsdag (20 April) ’n dringende skrywe aan die bestuur van die UK gerig in reaksie op onlangse voorvalle op die universiteit se kampus. Volgens AfriForum was die voorvalle van ’n rassistiese aard. Drie eise word in die skrywe aan die universiteitsbestuur gestel.

In die eerste plek word geëis dat die UK-dosent Lwazi Lushaba afgedank word. Lushaba is ’n senior lektor in politieke wetenskap aan die universiteit. Hy was onlangs in ’n kontroversie betrokke nadat hy na bewering die stelling gemaak het dat die uitwissing van ’n minderheid deur ’n sosialistiese maghebbende meerderheid (Hitler se Nazi-party) nie verkeerd was nie.

Sy opmerking tydens ’n aanlyn lesing het hoofopskrifte in die media gehaal en is deur sommige mense as aanstootlik ervaar. Hy sou na bewering onder andere gesê het al wat Hitler gedoen het, was om te doen wat wit mense normaalweg aan swart mense doen.

Die DA het ’n klag daaroor by die Menseregtekommissie ingedien en die universiteit het gesê die saak sal ondersoek word. Verskeie kommentators meen egter die media het Lushaba se opmerking buite konteks aangehaal. Hulle sê die media het slegs enkele sinne van sy lesing aangehaal en dat sy volledige lesing in konteks gelees moet word om te snap wat hy probeer sê het.

Die DA het vroeër die maand in ’n verklaring gesê sy opmerkings was nie net rassisties en aanstootlik nie, maar ook onsensitief teenoor die slagoffers en oorlewendes van die Holocaust en die Joodse gemeenskap in die geheel.

AfriForum Jeug hou in ’n verklaring vol daar word op die kampus gediskrimineer teen minderhede wat nie ideologies met die universiteit se studenteraad (SR) saamstem nie. Hulle sê die universiteit moet sy SR tot orde roep. Dit volg nadat die SR na bewering ’n oproep gerig het ten gunste van die gebruik van geweld teen minderhede wat nie ideologies met hulle saamstem nie.

Die eerste oproep van dié aard is volgens AfriForum reeds op 19 November 2020 teen wit en bruin Afrikaanssprekendes gemaak. Hulle sê sover bekend is geen stappe in dié verband teen die lede gedoen nie.

Op 7 April 2021 het die SR na bewering wéér ’n kennisgewing uitgestuur waarvolgens hulle hul magsposisie en status as ’n meerderheid gebruik om iemand van ’n minderheidsgroep – gebaseer op sy ras, geslag en seksuele voorkeur – te probeer diskrediteer en te eis dat sy tydelike aanstelling beëindig word. Volgens AfriForum se verklaring het dit geskied selfs nog voordat die persoon sy pligte aanvaar het. “Die SR se kritiek kan dus nie aan wangedrag of ’n tekort aan kundigheid toegeskryf word nie, maar wel aan ’n rassistiese, seksistiese en heterofobiese houding aan die kant van die SR.”

In die derde plek vra AfriForum inligting aan in verband met ’n video wat volgens hulle versprei is waar studente van ’n meerderheidsgroep ’n oproep tot geweld teen ’n minderheid doen. “Na bewering het die voorval ook op die UK-kampus plaasgevind en was die teenwoordiges studente van die universiteit.” AfriForum Jeug sê hulle het reeds op 19 Maart 2021 ’n e-pos in verband met hierdie video aan die UK-bestuur gestuur met ’n versoek om meer inligting oor die voorval, maar wag steeds op ’n antwoord.

“Die patroon van voorvalle wat deur UK-verwante persone gepleeg word en die gebrek aan optrede deur die UK-bestuur skep die indruk dat die UK sulke gedrag goedkeur,” sê Bernard Pieters, bestuurder van AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug eis ’n antwoord in verband met al drie hulle eise teen 30 April 2021, anders dreig hulle om die saak te laat eskaleer, “omdat die UK dan steeds hierdie onaanvaarbare gedrag en uitlatings beskerm en toelaat,” het Pieters gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top