Bheki Cele het polisie se reserwemag “uitgewis”

  • 0

Die minister van polisie, Bheki Cele, is opnuut uit verskeie oorde onder skoot oor die misdaadsituasie in die land. Hy word daarvan beskuldig dat hy die Suid-Afrikaanse polisie in die afgrond in bestuur.

Dit volg na die onlangse bendeverkragting van agt vroue by ’n ongebruikte myn in Krugersdorp en verskeie skietvoorvalle by tavernes in die land se townships.

Hy word verder daarvan beskuldig dat hy die afgelope dekade voortdurend gefaal het om te sorg dat wet en orde gehandhaaf word en dat hy “bloed aan sy hande” het.

Intussen het dit ook aan die lig gekom dat die reservisteprogram van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) effektief deur Cele uitgewis is – die SAPD het sedert 2011/12 90% van sy reserviste verloor.

Hierdie skokkende syfers, wat die DA uit ’n antwoord op ’n parlementêre vraag ontvang het, bewys volgens die amptelike opposisie dat Cele sentraal was in die uitwissing van die reservisteprogram, wat die veiligheid van wetsgehoorsame Suid-Afrikaners in gevaar gestel het.

In 2011/12 was daar 52 054 SAPD-reserviste regoor die land. Tien jaar later sit die SAPD nou met net 4 393 reserviste. Die DA sê dit is ’n verwoestende slag vir die bekamping van misdaad, aangesien reserviste ’n kritieke rol speel in die ondersteuning van die SAPD met sy dalende getal personeel.

“Dit is duidelik uit die syfers dat minister Cele die reservisteprogram tien jaar gelede as sy laaste optrede as nasionale polisiekommissaris geteiken het. Getalle het skerp afgeneem vanaf 2011/12 (52 054), toe Cele die nasionale polisiekommissaris was, tot 2012/13 (19 129), toe hy afgedank is. Dit is ’n afname van 63% in reservistegetalle in net een boekjaar,” sê die DA se skaduminister van polisie, Andrew Whitfield, in ’n verklaring.

Die minister het die afgelope paar weke verskeie openbare verskynings gemaak en veiligheidskwessies aangespreek nadat tientalle mense die afgelope tyd tydens skietery en geweld mishandel, beseer of gedood is.

Hy het Maandag tydens ’n inligtingsessie in Pretoria oor die stand van Suid-Afrikaanse polisiëring gepraat en die tekort aan polisie uiteengesit. Hy het belowe agterstande by die forensiese-patologie-laboratoriums is hanteer. Hy het ook die onlangse bendeverkragting van agt vroue by ’n ongebruikte myn in Krugersdorp "die skande van die nasie" genoem.

Die DA beskuldig Cele daarvan dat hy vir die kameras speel in plaas daarvan om werklike ingrypings aan te kondig om die geweldskrisis in die land aan te spreek.

Cele hou egter vol dat diegene wat sy kop eis, nie ingelig is oor hoeveel hy gedoen het om misdaad te bekamp nie.

Die DA sê elke dag word 67 mense vermoor en 153 mense verkrag en vind 364 gewelddadige rooftogte plaas. Die party het Suid-Afrikaners aangemoedig om ’n petisie te teken wat vra dat president Ramaphosa Bheki Cele as minister van polisie afdank en iemand aanstel wat in staat is om die SAPD te lei

Ramaphosa het Maandag in sy weeklikse nuusbrief erken dat geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord ’n "diepgewortelde maatskaplike probleem" is. Hy het die samelewing aangemoedig om saam met die regering te werk om die oorsake van die probleem aan te spreek – insluitend patriargie.

Verskeie politieke partye het die afgelope Maandag voor die Krugersdorp-landdroshof saamgekom as deel van ’n protesaksie teen onwettige immigrante, mynbedrywighede en misdaad.

Die protesaksie het plaasgevind tydens die verskyning van meer as 80 onwettige immigrante wat na bewering die Immigrasiewet oortree het.

Die VF Plus het ook met ’n griefskrif begin om die onwettige mynbedrywighede in Mogale City plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) te laat stopsit.

Die VF Plus sê in ’n verklaring hulle het by verskeie geleenthede die polisie gevra om te help met misdaadvoorkoming in West Village buite Krugersdorp, waar onwettige mynbedrywighede plaasvind en verskeie mense reeds in skietvoorvalle gewond is.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top