Bheki Cele slaan weer toe op strande

  • 0

Die minister van polisie, Bheki Cele, het Dinsdag voortgegaan om verskeie strande te besoek om seker te maak die inperkingsregulasies word nie oortree nie. Die besoeke, wat uiteenlopende reaksies onder Suid-Afrikaners uitgelok het, vorm deel van sy roetine-ondersoek om te verseker dat inwoners aan die Wes-Kaap die vlak 3-inperkingsregulasies wat ’n verbod op strande geplaas het, nakom.    

Van die strande wat deur Cele besoek is, sluit Heroldsbaai, Hartenbos, Diasstrand en Santosstrand op Mosselbaai in. Hy het Dinsdag sy besoek  afgesluit op strande in George en Wilderness voordat hy laatmiddag ’n vlug terug na Kaapstad gehaal het.

’n Woordvoerder van die polisie, Lirandzu Themba,  het ook ’n video op Twitter geplaas van ’n branderplankryer wat op Langebaan aan die Weskus deur die polisie in hegtenis geneem is weens ’n oortreding van die rampregulasies omdat hy met sy branderplank in die see was. Alle strande behalwe strande in die Noord-Kaap is ingevolge vlak 3-regulasies vir die publiek gesluit behalwe vir hengeldoeleindes.

Themba het op Twitter gesê die video van die  branderplankryer wat in hegtenis geneem word, is ’n “moet kyk”.      

Die publiek het oor die algemeen woedend reageer op die polisie se optrede en meen daar word nie konsekwent opgetree nie. Die voormalige DA-leier, Mmusi Maimane, het die inhegtenisname van die branderplankryer as ’n oorreaksie beskryf en sê hy weet nie waarom dit volgens die polisiewoordvoerder ’n “moet” is om na te kyk nie. Hy sê dit is ’n oorreaksie op ’n onbenullige oortreding.  

Tydens sy besoek aan die Weskus het Cele gesê dit maak nie saak of ’n strand in privaatbesit is nie, dit bly onwettig om op ’n strand te wees in gebiede wat as brandpunte verklaar is.

Die Minister het die publiek gewaarsku om gehoor te gee aan vlak 3-inperkings of om tronk toe te gaan. Sy besoek aan kleiner dorpe en strande volg glo na klagtes van gemeenskapsleiers dat daar nie genoeg sigbare polisiëring is om toe te sien dat regulasies gehoorsaam word nie.

Cele sê die kleiner dorpe toon die vernietigende invloed wat COVID-19 op alle Suid-Afrikaners het.

Die algemene publiek was egter minder beïndruk met Cele se optrede. Baie mense wou weet waarom die Minister op strande konsentreer waar die mense oor die algemeen gesonde sosiale afstande handhaaf terwyl daar voor verskeie  kantore van die Departement van Binnelandse Sake lang toue mense staan sonder enige sosiale-afstand-houding en geen sigbare polisieteenwoordigheid nie. Foto’s van lang toue mense voor Binnelandse Sake se kantore in Somerset-Wes en Pretoria is wyd op sosiale media gedeel.

Social distancing much? Dept of Home Affairs.

Posted by Carina Avenant on Tuesday, January 5, 2021

 

Jacques Maree het op die SAPD se amptelike Twitterblad gesê  kinders word op die Kaapse Vlakte deur bendes doodgeskiet, mense word in KwaZulu-Natal onthoof en verbrand, boere en hulle families en werkers word gemartel en vermoor, maar die Minister vind dit goed dat ’n paar swemmers en branderplankryers gearresteer word.

Cele het die optrede verdedig en sê die polisie sal voortgaan om mense in hegtenis te neem wat nie die regulasies gehoorsaam nie.

Die drukgroep Liberty Fighters Network (LFN) hou vol dat die sluiting van strande ingevolge die regulasies onwettig is. Die hoof van LFN, Reyno de Beer, het ’n dringende aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien waarin hy vra dat die inperking opgehef moet word, berig Netwerk24.

Hy sê op LFN se webwerf al waaroor mense bekommerd behoort te wees wanneer hulle strand toe gaan, is die weer en nie inperkingsregulasies wat hulle verbied om daar te wees nie.

De Beer grond sy argumente op ’n uitspraak wat die hof op 2 Junie 2020 oor die inperkingsregulasies gemaak het. Volgens ’n bevel wat toe deur regter Norman Davis gemaak is, was  die regulasies ongrondwetlik en ongeldig, en dit het onder meer die sluiting van strande en parke ingesluit, berig Netwerk24.

Volgens Netwerk24 vra De Beer se jongste aansoek dat minister Nkosazana Dlamini-Zuma tronk toe  gestuur word omdat sy die hofbevel volgens hom minag, en dat die hof moet beslis dat die hofbevel van 2 Junie 2020 nie opgeskort moet  word nie. Die aansoek  sal waarskynlik volgende week aangehoor word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top