Die bierbedryf wil keer dat daar weer ’n verbod op die verkoop van alkohol geplaas word wanneer die verwagte vierde golf van die koronavirus die land tref.
Die minister van handel nywerheid en mededinging, Ebrahim Patel, is deur die Biervereniging van Suid-Afrika (Basa) gevra om dringend op kabinetsvlak in te gryp sodat daar nie weer ’n irrasionele alkoholverbod opgelê word ingevolge die rampregulasies nie. Basa sê in ’n verklaring veral nie gedurende die feestyd nie, wat ’n kritieke tyd is vir die plaaslike bierbedryf en die duisende werksgeleenthede wat dit ondersteun.
Hulle het ’n beroep op die Minister gedoen om werksgeleenthede te beskerm en te voorkom dat die Nasionale Bevelsraad in die toekoms weer ’n “onwetenskaplike” alkoholverbod aanbeveel.
The beer industry has repeatedly requested government to provide the scientific data and evidence on which they have based their decision to enforce the previous alcohol bans.
Read our full statement here:https://t.co/r4Kgcfph7V pic.twitter.com/Dk3UCpVR9T
— BASA (@BeerSA_org) October 20, 2021
“Met die onlangse aankondiging deur die minister van polisie, Bheki Cele, dat alkoholverkope op 1 November – die datum van die plaaslike verkiesing – verbied sal word, bly Basa bekommerd dat daar ’n werklike risiko bestaan dat die regering weer arbitrêre alkoholbeperkings sal afdwing wanneer die verwagte vierde golf van Covid-19-infeksies in Desember die land tref.”
Hierdie jongste beroep op Patel om betekenisvol met die bedryf te konsulteer, volg op vorige briewe wat die afgelope paar maande aan hom gestuur is. Daarin is hy versoek om met die bedryf te vergader oor die verwoestende impak van die vorige vier keer toe daar ’n alkoholverbod was. Hulle sê daar was tot dusver geen reaksie op hulle versoek nie.
Die bierbedryf het as gevolg van die vorige kere se verbod sedert Maart verlede jaar 161 handelsdae verloor, wat net meer as 240 000 werksgeleenthede in gevaar stel, met ’n verlies aan belastinginkomste van R34,2 miljard en R10,2 miljard in aksynsinkomste. Daar was geen staatsfinansiering of enige ander verligting om die sektor tydens hierdie krisis by te staan nie.
Basa sê dit het daartoe gelei dat baie klein ondernemings gedwing is om hul deure permanent te sluit, waaronder 27 mikrobrouerye. Suid-Afrika het tans die hoogste werkloosheidsyfer ter wêreld. Enige verdere werksverliese in die alkoholbedryf sal ’n verwoestende impak op die ekonomie hê, waarsku Basa se uitvoerende hoof, Patricia Pillay.
Sy sê die bierbedryf het die regering herhaaldelik versoek om die wetenskaplike gegewens en bewyse te verskaf op grond waarvan hulle besluit het om die vorige alkoholverbod af te dwing. Toe die land op Maandag 21 September 2021 na vlak 2-inperking verskuif is, is drankwinkels toegelaat om slegs een ekstra dag per week, naamlik Vrydae, oop te wees.
“Dit is nie verbasend dat die wetenskaplike adviseurs van die regering dit nie aanbeveel het nie. Trouens, ’n memorandum van die Ministeriële Advieskomitee (MAK) het aangedui dat alle pogings om die verbod op die verkoop van alkohol vir buitenshuise gebruik op Saterdae te behou, moeilik is om te regverdig."
Dit bewys volgens Pillay dat die regering se beperkings op alkohol nie die gevolg was van bewysbare feite nie.
Dit is nie die eerste keer dat die nasionale regering die alkoholbedryf as ’n sondebok gebruik nie. In ’n memorandum wat op 23 Desember 2020 deur die nasionale Departement van Gesondheid gepubliseer is, is daar ’n vlak 2-inperking aanbeveel wat ’n ’n aandklokreël en beperkings op byeenkomste insluit. Volgens Basa was daar geen melding gemaak van ’n verbod op drankverkope nie.
“Ongeag hierdie feit en aanbeveling, is ’n verbod op die verkoop van alkohol wel ingestel van 28 Desember 2020 tot 1 Februarie 2021. Dit het verwoestende gevolge gehad vir ons plaaslike mikrobrouerye wat steeds sukkel om te herstel van die verlies aan inkomste van die eerste twee keer toe daar ’n alkoholverbod was.”
Basa sê gegewe sulke arbitrêre besluitneming, vrees die bedryf dat die plaaslike bierbedryf in die aanloop tot die somer weer die gevolge van die regering se beperkings kan ervaar.
“Ons bedryf en die meer as 450 000 huishoudings wat daardeur ondersteun word, kan dit eenvoudig nie bekostig dat die President weer ’n onmiddellike verbod op die wettige handel van alkohol afkondig sonder enige vooraf waarskuwing of ’n geleentheid om behoorlik met die regering te skakel nie.”