Binnegevegte verdeel ANC en DA

  • 0

Binnegevegte in Suid-Afrika se twee grootste politieke partye, die ANC en die DA, is besig om effektiewe regering op nasionale sowel as provinsiale vlak te kniehalter.

Die ANC se topleierskorps stuur op ’n breekspul af as gevolg van botsende uitsprake deur die party se leiers oor president Jacob Zuma se toekoms. In die DA, wat in beheer is van die Wes-Kaap, het die party se nasionale leier, Mmusi Maimane, al sy vertroue verloor in Kaapstad se DA-burgemeester, Patricia de Lille.

Die binnegevegte in die ANC se top-ses het in die openbaar na vore gekom nadat die nuwe president van die ANC (en adjunkpresident van die land), Cyril Ramaphosa, verlede week op die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos die indruk geskep het dat Zuma dalk nie sy ampstermyn as president van Suid-Afrika sal voltooi nie. Zuma se termyn verstryk oor 18 maande, maar die Ramaphosa-kamp wil hê hy moet sy pos so gou as moontlik ontruim sodat Ramaphosa voor volgende jaar se algemene verkiesing kan oorneem.

Twee van Zuma se ondersteuners in die top-ses, die adjunksekretaris-generaal, Jessie Duarte en die sekretaris-generaal, Ace Magashule, het in die openbaar gesê Zuma moet president van die land bly tot sy termyn verstryk.

Die politieke ontleder Theo Venter sê Magashule en Duarte se uitsprake is daarop gemik om die gesprekke oor Zuma in die ANC se werkkomitee te beïnvloed. Volgens Venter stuur die ANC op ’n breekspul af. Hy sê die ANC kan nie die druk van binne en die verwagtings van buite onbepaald verduur nie.

Zuma se toekoms is in die hande van die ANC se ses topleiers. Die afgelope week se uiteenlopende uitsprake deur die top-ses wys dat die eenheid in die party waarvan Ramaphosa praat, nog nie in die praktyk gerealiseer het nie en dat die binnegevegte voortduur.

In die DA, wat hoop om in volgende jaar se verkiesing die regering met behulp van koalisievennote oor te neem, lyk dinge nie veel beter nie.

Daar hang ’n donker wolk oor die toekoms van Kaapstad se burgemeester, Patricia de Lille. Die verhouding tussen haar en die party se hoofleier, Mmusi Maimane, het ’n laagtepunt bereik.

Volgens mediaberigte het Maimane ’n ander pos aan De Lille aangebied in ’n poging om haar te oorreed om as burgemeester te bedank. Maimane het ook vertroue verloor in De Lille se vermoë as burgemeester om Kaapstad se droogtekrisis te hanteer en hy wou haar elders ontplooi.

Sy was glad nie te vinde daarvoor nie. Haar optrede het hom so ontstel dat die aanbod om haar elders in die party te ontplooi, nou ook van die tafel gevee is.

Van die bewerings wat teen De Lille gemaak word, hou verband met tenderprosedures vir Kaapstad se MyCiTi-busdiens en die proses wat gevolg is om veiligheidsmaatreëls by De Lille se huis op te gradeer.

Die terugtrekking van die Kaapstadse metroraad se skoonouditstatus deur die ouditeur-generaal is glo die finale rede waarom sy ook nie meer vir ’n ander pos in die DA oorweeg word nie.

Netwerk24 berig dat mense in De Lille se binnekring bevestig het dat ’n lid van die Wes-Kaapse parlement gestuur is om ’n aanbod aan haar te doen mits sy as burgemeester bedank. Sy het volstrek geweier om die aanbod te aanvaar.

Sy het glo gesê sy stel nie belang in poste nie en wil net haar naam in die hof skoon kry en ’n openbaring verskoning van diegene kry wat haar van onreëlmatigheid beskuldig.  

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top