Blomme en blou see.
Ons land se weskus is mooi, maar vir ongeveer ses weke per jaar is dit fabelagtig.
Wanneer dit blomtyd is, sien ’n mens skoonheid vanaf Worcester tot in Springbok – jy kan gewoon maar kuslangs ry; iewers gaan jy plate blomme sien.
Dit is moeilik om die kleure in woorde vas te vang. Selfs foto's help net ten dele.
Vir diegene wat nie dae lank kan reis nie, sou ek die Weskus Nasionale Park aanbeveel. Dié park, ongeveer twee uur se ry van die Kaap af, is die moeite werd om enige tyd van die jaar te besoek, maar in Augustus en September is daar ’n gedeelte, op ’n klein skiereiland, wat die mooiste blommeprag bevat wat ’n mens jou kan indink. Daardie gedeelte, bekend as Postberg, word afgesper en is vir die grootste deel van die jaar nie toeganklik nie.
Vir Postberg is vroeg opstaan die moeite werd!
Wanneer dit blomtyd is, word Postberg vir ’n beperkte aantal motors per dag oopgestel. Toelatings tot daardie deel van die park gebeur reg deur die dag, maar dit is veiliger om vroeg op te staan en seker te maak dat jy nie té laat opdaag en weggewys word, of baie lank moet wag nie.
Hoe naby sal jy dit aan ’n elandbul waag?
Daar is goeie nuus vir diegene wat fiks is: Die park laat stappers en fietsryers toe. ’n Mens kan dus ure lank daar stap of fietsry, ook op plekke waar motors nie mag kom nie. Met dapper en stapper is dit ook maklik om redelik naby sebras, elande en rooihartebeeste te kom. Fotograwe, neem kennis. Jy sien ook makliker die kleiner wildsoorte soos duikers en vaalribbokke raak as jy nie in ’n staalkokon is nie.
Ook blomme is makliker om af te neem buite ’n motor.
Selfs al is jy nie fiks genoeg vir stap of fietsry nie, bied die park baie. Neem jou tyd. Pak ’n mandjie eetgoed en word rustig.
Langebaan, die dorp aan die noordekant van die park, is langs ’n natuurlike strandmeer geleë. Die strandmeer strek noord tot by Saldanha se natuurlike hawe, en suid lê ’n groot gedeelte daarvan in die Weskus Nasionale Park.
Die strandmeer is baie groot.
Besoekers wat die park vanuit Langebaan binnegaan, ry dus om die strandmeer om by Postberg uit te kom.
Die strand aan die binnelandse water pragtig.
’n Mens kan ver stap op die stil, wit strande van die meer. Daar is huisbote wat ’n gesin kan huur, en op verskeie plekke is braaigeriewe aangebring vir dagbesoekers om ’n vleisie op die kole te kry. Oorkant die duin is die see rof en die water koud. Hier sien ’n mens soms walvisse en dolfyne.
Voëlkykers het baie om oor opgewonde te raak. Duisende flaminke kom soms saam in die vlak water.
Voëlkykers moet ook tyd maak om die vele skuilings te besoek, want daar is verskeie waadvoëlspesies wat in en om die strandmeer voorkom. In September begin die trekvoëls uit die noorde opdaag; Maart sal hulle weer terugvlieg Europa toe. Neem ’n verkyker en ’n lang kameralens, raak rustig en geniet die geveerdes.
Die vleilandgebied.
Die suidelike deel van die meer vorm ’n natuurlike soutwatervleiland wat ander voëls lok, en in die strandveld om die water, ’n belangrike ekosisteem vir plante, sien ’n mens talle ander voëlspesies, soos bokmakieries, korhane en volstruise. Die park se voëllys is 282 inskrywings lank.
Pelikane.
Die veelheid voëls, die plante en die vleilande word fyn bestuur en internasionaal erken. In 1973 is die gebied as ’n mariene bewaringsgebied verklaar en in 1985 het dit ’n nasionale park geword. Op 25 April 1988 is dit onder die Ramsarkonvensie as ’n wêreldbewaringsgebied verklaar.
Aan die suidpunt van die strandmeer is die Geelbek Restaurant. Hulle kos is keurig. Gaste kan tradisionele disse eie aan die Kaap verwag. Hulle wynlys is besonders en het al groot pryse gewen.
Die huisies in die park wat gehuur kan word.
Sou ’n mens die blomme en die voëls ten beste wou geniet, is dit die moeite en geld werd om oor te slaap in die park, of in een van die talle gastehuise in Langebaan.
Enige tyd van die jaar kan ’n mens dae om verwyl in die Weskus Nasionale Park, maar om dit tydens blomtyd te ervaar, is ’n belewenis.