Die beweerde boeliegedrag deur lede van die polisie se spesiale beskermingseenheid wat na die veiligheid van onder andere ministers moet omsien, het Suid-Afrikaners nou woedend gemaak.
Die groep polisiemanne wat motoriste in ’n motor op die snelweg na bewering tot stilstand gedwing en aangerand het se optrede is ten sterkste veroordeel deur die publiek, politieke partye en belangegroepe.
Die padveiligheidsorganisasie AriveAlive het op Twitter gesê ’n ondersoek moet ook fokus op die vraag of sulke oormatige geweld en vermeende gebrek aan selfbeheersing en gesonde oordeel voldoen aan die bevoegdheid wat vereis word om met vuurwapens toevertrou te word.
An investigation should also focus on whether such excessive force and perceived lack of self-control and sound judgement meet the competency required to be entrusted with firearms! https://t.co/Sj3E0h0wjQ #ArriveAlive #Crime #RoadRage #VIPProtection #FirearmSafety… pic.twitter.com/tXyHV5oa7h
— Arrive Alive (@_ArriveAlive) July 4, 2023
Talle mense op sosiale media het gesê dit is nie genoeg dat die betrokke BBP-beskermingsbeamptes “interne prosesse” in die gesig staar nie. Hulle eis dat die skuldiges krimineel aangekla word van aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Ian Cameron van die burgerregtegroep Action Society het gesê dit is wat gebeur wanneer belastinggeld op die “gewapende vleuel van die regerende party” vermors word. “Hierdie SAPD-BBP-‘beskermers’ is niks anders as laeklas misdadigers nie. Hulle moet uitgewys en toegesluit word,” het Cameron gesê.
Hy het hierdie “kriminele SAPD-lede van die BBP-beskermingseenheid” as “politieke uitsmyters” bestempel en op Twitter gesê dit is waarom hy sê die ANC is ’n kriminele sindikaat wat hom as ’n politieke party voordoen.
These criminal SAPS members from VIP protection unit are nothing but political bouncers. This is why I say the ANC is a criminal syndicate posing as a political party. pic.twitter.com/wgoVd3vCxc
— Ian Cameron (@IanCameron23) July 3, 2023
Die DA het die voorval na die uitvoerende direkteur van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) verwys vir dringende optrede.
Die polisie het Dinsdag in ’n verklaring gesê die proses om die slagoffers op te spoor wat na bewering deur lede van die SAPD aangerand word, is aan die gang. Volgens mediaberigte is die slagoffers later wel opgespoor.
’n Voorlopige verslag dui aan dat die voertuie wat in die video gesien word, wel aan die SAPD behoort en dat die mans wat in die video gesien word, SAPD-lede is.
This happened on N1 high way 4 ways. pic.twitter.com/7qAIO6GAHX
— Man’s NOT Barry Roux (@AdvoBarryRoux) July 3, 2023
Die nasionale kommissaris van die SAPD, Fannie Masemola, het die gedrag van hierdie lede veroordeel.
“Lede van die SAPD is bedoel om die fundamentele regte van elke persoon te handhaaf en te beskerm en die bevoegdhede wat aan hulle verleen is uit te oefen op ’n verantwoordelike en beheerde wyse. Sulke optrede kan nie goedgekeur word nie, ongeag die omstandighede,” het Masemola gesê.
#sapsHQ The process to trace the victims who are seen to be allegedly assaulted by #SAPS members is underway. After being made aware of the incident captured on a video clip that is currently doing the rounds on various media platforms, the SAPS management has begun the process… pic.twitter.com/RTgdZqUU4l
— SA Police Service ???????? (@SAPoliceService) July 3, 2023
Adjunkpresident Paul Mashatile, wie se BBP-beskermingsdiens na bewering by die voorval betrokke was, het in ’n verklaring ook sy afsku uitgespreek teen enige onnodige gebruik van geweld, veral teen ongewapende burgerlikes.
Mashatile het ’n beroep op die publiek gedoen om die SAPD die nodige ruimte te gee om sy ondersoek na die voorval af te handel en enige regstellende stappe te doen wat nodig geag word.
Die DA sê in ’n verklaring die lede van die BBP-polisiëringseenheid wat by die beweerde aanranding betrokke was, moet onmiddellik in hegtenis geneem word en geregtigheid moet vinnig en onomwonde geskied.
“Hierdie voorval kan nie onder die mat ingevee word nie”, sê Andrew Whitfield, die DA se skaduminister van polisie. “Hierdie blouligboelies het ’n skokkende magsmisbruik geopenbaar.
“Dit is nie genoeg vir hierdie oortreders om interne dissiplinêre prosesse binne die SAPD te trotseer nie. Ons eis dat hulle gearresteer en aan die volle mag van die reg onderwerp word.”
Die videobewyse, tesame met die prima facie-getuienis in die SAPD se besit, identifiseer duidelik die beweerde oortreders. Die SAPD is nou verplig om onmiddellik op te tree en hul aanhouding te verseker, sê die DA in hulle verklaring.