Blydskap na Ramaphosa ’n stokkie steek voor ATM se naamsverandering

  • 0

Die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, se voorneme om die naam van die Afrikaanse Taalmonument en -museum (ATM) te verander, het, net soos sy idee om ’n 100 meter hoë vlagpaal van R22 miljoen op te rig, die wind van voor gekry deur niemand anders nie as president Cyril Ramaphosa, wat ook ’n stokkie voor die omstrede vlagpaal-idee gesteek het.

Ramaphosa het verlede week die versekering in die parlement gegee dat die ATM nie gedwing sal word om sy naam te verander nie.

Dit volg nadat duisende Suid-Afrikaners by wyse van protesskrifte kapsie gemaak het teen die minister se voorneme om die woord “Afrikaanse” uit die ATM se naam te verwyder.

Mthethwa het op 10 Maart 2022 in Pretoria gesê dat die ATM se naam moet verander. Dit was tydens die jaarlikse ondertekeningseremonie van die aandeelhouerskompak-ooreenkoms tussen die Departement en alle hoofde en voorsitters van die openbare entiteite wat onder sy portefeulje val.

Mthethwa het glo gesê dat dié verandering ononderhandelbaar is. 

Volgens die DA het byna 10 000 mense ’n petisie van die party onderteken waarin beswaar gemaak word teen die voorgestelde naamsverandering, terwyl meer as 30 000 mense ’n soortgelyke petisie deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) onderteken het. Die FAK sê op Facebook hulle wou hulle petisie by sy kantoor aan die minister oorhandig, maar sy kantoor het geweier om op die versoek te antwoord.

Ramaphosa het egter verlede week tydens sy repliek op sy begrotingsdebat in antwoord op ’n vraag van die Vryheidsfront Plus se leier, Pieter Groenewald, gesê daar is geen planne wat die ATM sal dwing om sy naam te verander nie.

Die DA en die Vryheidsfront Plus het albei Ramaphosa se versekering verwelkom. Groenewald het die President genooi  om die monument saam met hom te besoek sodat die simboliese inklusiwiteit daarvan aan hom gewys kan word, waarop Ramaphosa die uitnodiging aanvaar het.

Die Vryheidsfront Plus en die DA waarsku egter steeds teen enige druk wat deur die minister op die ATM geplaas mag word om sy naam te verander.

Die DA se adjunkskaduminister vir sport, kuns en kultuur, Veronica van Dyk, het in ’n verklaring gesê as Mthethwa ooit weer terugloop op sy besluit rakende die naam van die monument, sal die DA dit weer teenstaan. “Ons sal nie toelaat dat enige inheemse tale, insluitend Afrikaans, vertrap word nie,” het sy gesê.

Sy sê dit is goed dat die ANC rede ingesien het en dat hul “ideologiese haat” vir Afrikaans nie in hierdie verband op die ATM en Afrikaanssprekendes afgedwing sal word nie.

Die DA versoek steeds dat Mthethwa onomwonde op ’n openbare platform sy besluit om nie die ATM se naam te verander nie, bekendmaak. “Ons verwag ook ’n verskoning aan die ATM-raad, omdat die minister se manteldraaiery poog om die raad na leuenaars te laat lyk,” het Van Dyk gesê.

Volgens die DA lyk dit of die ANC-regering ’n oorlog voer teen Afrikaans en alle Afrikaanssprekers in ’n poging om goedkoop politieke punte aan te teken.

PEN Afrikaans het vroeër ook in ’n verklaring gesê hulle neem met kommer kennis van Mthethwa se voorneme om die naam van die ATM te verander.

Enigeen wat ag sou slaan op die werksaamhede van die ATM ná die land se demokrasiewording sal volgens PEN Afrikaans weet dat die ATM enorm baie gedoen het om sosiale kohesie en eenheid te bewerkstellig en inklusiwiteit te bevorder.

PEN Afrikaans sê daar is min instansies wat so deeglik herbesin het as juis die Afrikaanse Taalmonument en -museum. “Nie net is dit veelrassig nie, dit is ook een van die min ruimtes wat die slaweherkoms en die wesenlike invloed van die Islam op Afrikaans openlik vier en tentoonstel.”

PEN Afrikaans sê enige misplaaste en ondeurdagte inmenging oor die ATM se naam kan groot skade tot gevolg hê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top