............
“Duisende Suid-Afrikaners, van wie die meeste bejaarde en arm mense is, het al hulle spaargeld tydens die plundery verloor. Die bank is intussen gelikwideer, maar die skuldiges het tot dusver skotvry rondgeloop.”
............
Die inhegtenisneming van die eerste agt beweerde skuldiges van die VBS Mutual Bank-plundery word allerweë verwelkom as ’n deurbraak in die stryd teen korrupsie en staatskaping.
Agt mense is Woensdag in hegtenis geneem vir bedrog van miljarde rand. Die inhegtenisnemings volg bykans twee jaar nadat diefstal by die bank blootgelê is.
Foto: Unsplash
Duisende Suid-Afrikaners, van wie die meeste bejaarde en arm mense is, het al hulle spaargeld tydens die plundery verloor. Die bank is intussen gelikwideer, maar die skuldiges het tot dusver skotvry rondgeloop.
Die hoof van die Valke, Godfrey Lebeya, het Woensdag gesê sewe van die agt verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met die plundering van die bank tussen 2015 en 2018, sal Donderdag in die hof verskyn. Verskeie hooggeplaastes in die VBS-binnekring is onder die verdagtes.
Dit sluit in die voormalige voorsitter van VBS, Tshifhiwa Matodzi, wat na bewering die baasbrein is van die diefstal van beleggers se geld. Direksielede en die hoof-KPMG-ouditeur is ook aangekeer. Die agt wat in hegtenis geneem is, het glo regstreeks of onregstreeks R120 miljoen voordeel uit die bedrog getrek.
Rekeninge van pensioenarisse en stokvelle by die bank is ook geraak.
Die VF Plus was een van verskeie partye wat die inhegtenisneming van agt kernrolspelers in die bedrogsage verwelkom het. Die VF Plus sê in ’n verklaring dit is nou belangrik om ook optrede te sien teen bekende persone en ampsdraers in die ANC en die EFF wat glo voordeel getrek het uit die geld wat deur VBS gestroop is.
“Vrae oor die betrokkenheid van, en optrede teen die EFF se leier en onderleier, Julius Malema en Floyd Shivambu, is vandag gevra ten tyde van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se mediakonferensie oor die aangeleentheid,” sê Michal Groenewald, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van samewerkende regering.
Die EFF het vroeër vanjaar ontken dat hulle enige geld van VBS ontvang het. Malema sê die EFF het ook geen rede om Shivambu te wantrou nie, omdat hy hom van sy broer, Brian Shivambu, gedistansieer het.
Groenewald sê vae ontkennings oor dié twee persone en ANC-ampsdraers se betrokkenheid sal nie die VF Plus of die publiek tevrede stel nie en die party sal daarop aandring om uit te vind presies wat hul betrokkenheid in die aangeleentheid is.
“Die VF Plus dring ook daarop aan dat alle persone wat verantwoordelik was vir beleggings wat die Onafhanklike Beleggingskorporasie (OBK) met geld van die staatsdiens-pensioenfonds by VBS gemaak het, verantwoording doen.
“Alle betrokkenes by die OBK, insluitende direkteure, lede van die beleggingskomitee, die waardering-subkomitee en ander, moet persoonlik aanspreeklik gehou word vir gelde wat deur beleggings by VBS verloor is indien hulle bewus was van ongerymdhede maar dit verswyg het.
“Dit is bekend dat heelwat van die munisipale amptenare wat by die sindikaat geïmpliseer is, vir maande reeds met betaalde verlof is weens dissiplinêre aksies wat nie gefinaliseer word nie.
“Hulle ontvang dus goue handdrukke wat gefinansier word deur dieselfde gemeenskappe wat onder hul beweerde misdadige optrede gely het en optrede teen dié persone moet so as moontlik gefinaliseer word.”
Groenewald sê dit is wel verblydend dat die owerhede reeds beslag gelê het op die bates van sommige van die persone wat in hegtenis geneem is.
“Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) en haar span ondersoekers moet seker maak dat nie een van die beskuldigdes toegelaat word om hul luukse leefwyses voort te sit met geld en bates wat onregmatig van hierdie arm gemeenskappe en munisipaliteite gestroop is nie,” sê Groenewald.
Buro: MvH