Boek oor Bird Island was "karaktermoord" en "web van leuens"

  • 0

....

Lees die jongste verwikkelinge (Augustus 2020):

Verklarings van Media24:

Media24 het verskoning aangebied vir die publikasie van lasterlike stellings aangaande Mnr Barend du Plessis in die boeke "The Lost Boys of Bird Island" en "Die Seuns van Bird Island" asook die emosionele skade wat die publikasie van die boeke vir die Malan- en Wiley-families kon veroorsaak het. Volg hierdie skakel na die relevante verskoning.

....

Regs: Magnus Malan

Die omstrede boek Die seuns van Bird Island waarin drie voormalige ministers van die ou Nasionale Party as pedofiele uitgebeeld word, is volgens ’n verklaring (uitgereik deur Johan Victor, oudminister Barend du Plessis se prokureur) die ergste vorm van karaktermoord in die geskiedenis van Suid-Afrika se uitgewersbedryf.

So lui die verklaring nadat die boek die afgelope week aan die mark onttrek is. Die sogenaamde onthullings in die boek wat in 2018 deur NB Uitgewers uitgegee is, was volgens Victor niks anders as ’n web van leuens nie.

Die boek het in 2018 ’n beroering in die land veroorsaak. Twee oud-NP-ministers, wyle genl Magnus Malan en Johan Whiley, word by name in die boek daarvan beskuldig dat hulle minderjarige seuns op Bird Island gemolesteer en verkrag het. ’n Derde oudminister, Barend du Plessis, wie se naam nie direk in die boek genoem word nie, is ook by die voorvalle betrek (volgens Victor se verklaring). NB-Uitgewers sê in ’n verklaring wat Dinsdag uitgereik is dat hoewel pogings aangewend is om Du Plessis se identiteit in die boek te verbloem, hulle aanvaar dat daar voldoende inligting in die boek was wat hom as een van die betrokke ministers geïdentifiseer het.

Die uitgewer het onvoorwaardelik vir Du Plessis verskoning gevra omdat hy in die boek betrek word, asook vir die skade wat dit sy reputasie en menswaardigheid berokken het. Alle onverkoopte eksemplare van beide die Afrikaanse as Engelse weergawes van die boek is summier aan die handel onttrek.

Die onvoorwaardelike verskoning gaan egter slegs oor Du Plessis. Daar word geen verskoning teenoor Malan of Whiley aangebied nie. Victor tree ook namens Malan en Wiley se families op. Hy het op verdere navraag aan Netwerk24 gesê sy kliënte se gevoel is dat NB Uitgewers se apologie meer vrae as antwoorde laat. Hy sê die boek is ’n hoax en moet in sy totaliteit verwerp word. Volgens Victor hou sy kliënte hulle opsies oop vir die moontlike eis van skadevergoeding.  

Volgens die uitgewer is die verskoning geensins van toepassing op enige ander persoon wat in die boek na bewering ’n rol gespeel het in die verkragting of molestering van die kinders nie. NB Uitgewers sê hulle sal enige poging om die boek en die inhoud daarvan te diskrediteer, in die toepaslike forum verdedig. 

NB Uitgewers se volledige verklaring kan hier gelees word.

Volgens korrespondensie wat aan die lig gekom het (luidens Victor se verklaring), het een van die skrywers, Mark Minnie, drie dae voor die boek se publikasie ’n e-pos aan die uitgewer en sy medeskrywer, Chris Steyn, gestuur. Daarin waarsku hy pertinent dat hulle geen stawende getuienis het dat enige van die drie oudministers seuns op die eiland gemolesteer het nie.

Minnie het enkele dae na die boek se verskyning sy eie lewe geneem. In ’n onderhoud met Marianne Thamm hou Chris Steyn vol dat die boek op feite berus. Volgens ’n Facebook-inskrywing op haar persoonlike profiel het sy verlede jaar selfs ’n leuenverklikkertoets ondergaan oor die bewerings dat sy inligting in die boek gefabriseer het. Volgens die uitslag, wat sy op Facebook geplaas het, het sy glo die toets met vlieënde vaandels geslaag. Alle ander inskrywings en publisiteit oor die boek is intussen deur haar van haar Facebook-profiel verwyder.

Steyn het destyds gesê daar het soveel nuwe inligting aan die lig gekom sedert die boek se verskyning dat dit ’n opvolgboek regverdig. Daar is selfs bespiegel dat daar ’n film van die boek gemaak gaan word en dat die rolprentregte reeds verkoop was. Die leserspubliek wag steeds in spanning om te sien wat hierdie nuwe inligting behels.

Die Sondagkoerant Rapport, wat na die verskyning van die boek ’n prominente berig oor die bewerings geplaas het, het verlede jaar gesê dit was ’n fout om die berig te plaas, omdat van die sleutelbewerings op hoorsê getuienis berus het.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top