Dit is vir ’n gewone Suid-Afrikaner moeilik om die situasie in Afganistan te probeer verstaan. Gelukkig is daar storievertellers wat ’n mens toegang gee tot lande waar ons nooit sal kom nie.
Daar is twee toeganklike werke oor die lewe in Afganistan wat ek kan aanbeveel, en dan sou ’n mens ’n interteks met ’n film uit Iran ook kon bespreek.
The breadwinner
Vir diegene wat in die binnekamers van ’n Afgaanse gesin wil kuier, kan ek die tekenprent The breadwinner baie sterk aanbeveel.
Dit is tans op Netflix te sien.
Moenie Disney-prinsesse en pratende reënboogponies verwag nie. Dié film gaan jou in die maag skop, en net soos jy dink daar is uitkomkans, gaan jy die volgende skop kry.
Die hoofkarakter, Parvana, is ’n prepuber wie se pa deur die Taliban in die tronk gesmyt word.
Nou is hulle gesin sonder kos, sonder ’n inkomste en sonder water, want volgens die fundamentalistiese interpretasie van die Koran mag ’n vrou nie sonder ’n manlike familielid op straat verskyn nie.
’n Hongerdood is skynbaar hulle voorland.
Parvana sny haar hare af en trek haar oorlede broer se klere aan. As ’n jong man het sy die reg op vrye beweging en so kan sy haar haar gesin van ’n hongerdood red.
View this post on Instagram
In die film is daar ’n lekkergoedfabriek. Hierdie foto’s van Steve McCurry wys hoe akkuraat die film die besonderhede van die lewe in Afganistan vasvang. Kyk gerus die film om die binnekant van die fabriek te sien.
Die storie is geskep deur Deborah Ellis, wat in 2000 die kinderboek The breadwinner gepubliseer het. Die filmweergawe is vervaardig deur Angelina Jolie; Nora Twomey het die regie behartig.
Saara Chaudry verskaf die stem van Parvana.
Ek moedig die ervaar van The breadwinner heelhartig aan, maar wees gewaarsku, dit is nie ligte vermaak nie.
Die filmweergawe is eers in 2017 uitgereik en eindig, heel ironies, op ’n hoopvolle noot, want Amerikaanse vegvliegtuie is besig om Taliban-basisse te vernietig. Dit speel dus af in 2001, kort voor die VSA die Taliban uit Kaboel en die ander groot stede verdryf het.
The underground girls of Kabul
’n Volgende boek wat ek kan aanbeveel, is The underground girls of Kabul, the hidden lives of Afghan girls disguised as boys. Dié een is niefiksie en is deur Jenny Nordberg geskryf. In Nordberg se eie woorde: “Most of the book’s events take place in 2010 and 2011”. Dit is in 2014 deur Virago uitgegee, lees gerus The New York Times se resensie. Die teks is op Amazon te koop.
Nordberg dra haar boek op aan “every girl who figured out that she can run faster, and climb higher, in trousers”.
Die verset om meisies as mans te vermom, staan bekend as bacha posh.
Die boek gee vir buitestanders die geleentheid om Afgane in hulle eie woorde te hoor, en dit is belangrik, want dit is moeilik om die situasie van gewone mense in brutale omstandighede te verstaan. Soos een ouer sê: “If anybody realised you had a beautiful girl or an educated girl in the house, they would just come and take her to ‘have relationships’ with her.”
Dan verduidelik die persoon: “That is how it happened that I gave my daughter to an uneducated man. He was the best solution at the time of war.” Diegene wat The breadwinner kyk, sal ’n soortgelyk situasie raakloop.
Nordberg is krities oor die lewe in Afganistan, maar ook genuanseerd genoeg om nie die Westerling klakkeloos te laat wegloop sonder selfondersoek nie. Sy sê: “Afghanistan is a story of patriarchy, in a raw form. In that it also is a story of Western history, with elements of the lives our foremothers and forefathers led.”
En ook: “Conservatives and extremists in any society are extremely aware of this fact. Those who control life, and the bodies of women, control the money and hold the power.” Die Taliban mag ’n redelik ekstreme vorm van manlike geweld verteenwoordig, maar enige iemand wat hieroor twyfel, moet gewoon Erika Bornman se boek Mission of malice lees rakende beheer oor vroue in ’n Christelike, Suid-Afrikaanse konteks.
Persepolis en (liberale) vroueregte in Iran
Die geskiedenis van Iran is fassinerend en verdien waarskynlik ’n hele essay op sigself, maar as interteks sou ek graag nog ’n animasiefilm wil noem.
Marjane Satrapi is ’n grafiese kunstenaar wat in Iran grootgeword het. Sy het die weelde van ’n vrydenkende, liberale Islam geken, het die verskrikking van die Islamitiese revolusie beleef, en sou later in Frankryk tereg kom.
Satrapi het ’n aantal biografiese, grafiese romans oor Marji, ’n rabbedoe en rebel, die lig laat sien. Dis nie moeilik om Marji met Marjane se eie lewe te verbind nie.
Uiteindelik het die boek Persepolis ’n nuwe lewe gekry in ’n vollengte-tekenfilm wat in 2007 verskyn het.
Dit is ’n gans ander soort film as The breadwinner. Grafies en visueel is dit heel anders en die klankbaan is punk rock. Marji rook soos ’n skoorsteen en weet hoe mans werk.
Die film beeld die keiharde geweld van die fundamentaliste uit, maar gee ook die kyker ’n blik op die skoonheid van ’n liberale Islam.
Persepolis is ’n fantastiese film. Nie maklik nie, maar beslis die tyd en moeite werd.