Boere sê Land Bank is deel van hulle ondergang

  • 0

Honderde boere oor die hele Suid-Afrika is die afgelope paar maande onder verdagte omstandighede gelikwideer vir skuld wat net ’n breukdeel van die waarde van hulle plase, oeste, losgoed en boedel bedra.

So sê die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai), ’n landboubelangenetwerk vir boere wat omsien na die belange van familieboere.

Land Bank word die afgelope tyd uit verskeie oorde van wanbestuur beskuldig en ook daarvan beskuldig dat hulle boere links en regs likwideer om hulle eie bas te probeer red. Die bank word ook op sosiale media daarvan beskuldig dat hy die boere se vertroue verloor het.

Saai sê in ’n verklaring daar word oral soortgelyke stories vertel van hoe skokkend veral Land Bank se agente op plase optree, hoe boedels en die lewensbestaan van honderde families op plase geplunder en verwoes word, en hoe onreëlmatig die regsproses is wat gevolg word.

Land Bank ontken bewerings dat hy aggressiewe en hardhandige taktiek gebruik om kliënte te likwideer wat hul terugbetalingsverpligtinge versuim.

Saai dring egter aan op ’n onafhanklike ondersoek.

Land Bank het vroeër in ’n verklaring gesê ’n ondersoek wat in Julie onderneem is met betrekking tot aansprake in die media oor sulke optrede, het getoon dat daar geen bewyse is om bewerings te ondersteun dat die bank en/of sy regsverteenwoordigers moontlik onwettig en oneties opgetree het of onvanpaste optrede geïmplementeer of gebruik het nie.

Luidens die verklaring was die bank se skuldinvorderingsmetodes gebaseer op risikoversagtende strategieë wat bedoel was om saam met sy kliënte oplossings te vind wat risiko vir hul sakebedrywighede sou versag.

Die bank sê hulle voorneme is om "geteikende oplossings te verskaf in gevalle waar boere nood ervaar en wanbetaling het op hul [krediet]fasiliteite as gevolg van risikofaktore".

Saai het nou ’n vennootskapsooreenkoms met AfriForum, advokaat Gerrie Nel se privaatvervolgingseenheid, en die forensiese ondersoekers André Pretorius en Dekker Naudé van Farm Rescue gesluit om Land Bank, landboubesighede en handelsbanke se grootskaalse likwidasie van boere te probeer stuit.

Hulle beoog om spesifieke gevalle van beweerde misdrywe en misbruik van likwidasieprosesse te ondersoek en aan die kaak te stel.

Die vennootskap beoog om ’n omvattende verslag oor die misbruik van likwidasieprosesse saam te stel. Daaruit sal strafregtelike klagtes en dissiplinêre aksies deur professionele liggame soos die Regspraktisynsraad voortspruit, sê Saai in hulle verklaring.

Saai beveel aan dat finansiëledienste-instellings en banke hulle skakel oor boere en families wat moontlik slagoffers van die misbruik van likwidasieprosedures was sodat Saai die skade en risiko’s kan help bestuur. Saai samel ook inligting in oor boere en families wat in die proses alles verloor het of die gevaar loop om gelikwideer te word.

Land Bank het nog nie gereageer op Saai se uitnodiging om met die ondersoekspan saam te werk nie. Volgens die voorsitter van Land Bank se direksie, Thabi Nkosi, het die bank self ondersoek ingestel en geen ongerymdhede gevind nie.

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê hulle het die mees gedugte span ondersoekers bymekaar gekry wat in die land beskikbaar is. Die span het glo reeds onreëlmatighede geïdentifiseer wat ondersoek sal word met die oog op moontlike vervolging.

Een van die boere wat geraak word, Carel van der Merwe van die plaas Stofbakkies op Van Wyksvlei, het in ’n ope brief op sosiale media gesê die krisis waarin Land Bank hom bevind, verskil in net een opsig van sy eie krisis. “Die verskil is dat ek nie tegnies insolvent soos Land Bank is nie, want my bates is steeds meer as dubbel die waarde van my laste.”

Van der Merwe sê in sy brief Land Bank probeer hom as boer lam litigeer om te verhoed dat sy boerdery in sakeredding kan gaan. Hy beweer al sy boerdery se kontantvloei word afgesny sodat Land Bank teen hom met sy eie geld kan litigeer.

“Dit terwyl Land Bank al my boerdery se bakkies wat ek nodig het om 80 000 hektaar te bestuur, sonder ’n lasbrief verwyder het en wetende watter kritieke rol dit tot bestuur vervul.”

Daar is wel ruimte vir Land Bank, sê Van der Merwe, maar nie onder die omstandighede waar die bank se optrede teen boere wantroue skep en die bank geen ruimte skep of begrip het vir boere wat nes Land Bank dieselfde omstandighede moes trotseer nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top