Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) te boikot net soos wat hulle die e-tol-stelsel geboikot het en glad nie van hulle diens gebruik te maak nie.
Dit volg nadat die minister van finansies, Tito Mboweni, Woensdag in sy mediumtermynbegroting ’n verdere reddingsboei van R10,5 miljard aan die bankrot SAL toegeken het.
Outa, wat groot sukses gehad het met hulle beroep om die ongewilde e-tol-stelsel in Gauteng te boikot, sê Suid-Afrikaners het met e-tol bewys as almal saamstaan kan dit ’n verskil maak. “Ons doen ’n beroep op elke Suid-Afrikaner om vas te staan en ’n boikot op SAL te ondersteun,” sê Outa in ’n mediaverklaring.
#OUTA calls for public boycott against #SAA in disapproval of the bailout of the #SOE SA definitely doesn’t need.
Higher Education, NPA, policing, housing etc should be prioritised, not SAA!
Mid-Term Budget robs the poor to save SAA vanity project. https://t.co/827jJlYD35— OUTA (@OUTASA) October 28, 2020
Volgens Outa beroof die mediumtermynbegroting die armes van lewensbelangrike noodsaaklikhede in ’n poging om ’n ydelheidsprojek soos die SAL te probeer red. Outa sê in ’n verklaring hulle het verskeie verslae aan die regering oorhandig om te bewys dat SAL nie lewensvatbaar is nie.
“Die regering vee hom af aan die burgers van hierdie land deur nog R10,5 miljard aan hierdie ‘vanity projek’ te allokeer terwyl hierdie geld van broodnodige projekte in ’n tyd van nood weggeneem word,” sê Outa.
“Outa is uitermate bekommerd oor die toekenning van R10,5 miljard om wat ons betref ’n onwerksame sakereddingsplan te implementeer om SAL te red en glo dit is uiters onverantwoordelik. Ons begryp dat skuld vereffen moet word, maar kan nie toekyk hoedat nog kosbare belastinginkomste gemors word om lewe te probeer inblaas in ’n sterwende entiteit nie. Suid-Afrikaners het ’n stem, en net soos wat ons eendragtig was teen e-tol, doen ons nou ’n beroep op Suid-Afrikaners om die staatsbeheerde lugdiens te boikot,” sê Outa se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage.
Outa glo SAL behoort gelikwideer te word op ’n manier wat die minste impak op die land sal hê. Die personeel behoort volgens Outa redelike afleggingspakkette te kry, maar die lugdiens kan nie langer ondersteun word nie. Die land het veel groter prioriteite as ’n staatsbeheerde lugdiens om na om te sien.
Hoewel Mboweni in sy begroting erkenning gee aan die probleem van korrupsie, verskuif hy dit volgens Outa tot ’n groot mate na die sylyn en lê die blaam vir die land se haglike ekonomiese situasie voor die deur van COVID-19.
“Die impak van COVID-19 op die ekonomie en die gemeenskap is inderdaad groot. Maar dit volg op die vernietigende impak van staatskaping wat gerieflikheidshalwe vergeet word. Die mislukking van hierdie semistaatsinstellings is ’n direkte gevolg van staatskaping en swak regering.”
Outa sê die aanhoudende reddingsboeie na hierdie ondernemings is ’n belediging vir die publiek, veral as daar in dieselfde toespraak erken word dat daar miljoene rand weens COVID-19-tenderkorrupsie verlore gegaan het.
Luister hier na Julius Kleynhans van Outa se kommentaar oor die reddingsboei aan die SAL en Outa se beroep om die lugdiens te boikot.
Die burgerregte-organisasie Solidariteit het ook die Minister se reddingsboeibesluit ten sterkste veroordeel.
Solidariteit het fel kritiek gelewer op Mboweni se begroting en toespraak; volgens hulle het hy meer soos ʼn toorkunstenaar as ʼn minister opgetree.
“Ons regering bestee vanjaar 50 keer meer aan die SAL as aan die totale noodbefondsing vir die toerismesektor. Verder besnoei ons nou op broodnodige fondse vir sukkelende bedrywe net sodat die regering hierdie ydelheidsprojek aan die gang kan hou. Hoewel dit waar is dat die lugvaartbedryf van kardinale belang is vir die Suid-Afrikaanse ekonomie, is dit hoegenaamd nie waar vir hierdie lugredery nie,” sê Morné Malan, ʼn strategiese spesialis by Solidariteit.
“Die syfers en aannames is gewoon absurd. Die eenvoudige waarheid is dat ons vanjaar sowat R700 miljard meer as ons belastingopbrengs wil spandeer en dat ons vir die volgende drie jaar telkens meer as R500 miljard bó opbrengs vir elke jaar wil spandeer. Wat stabilisering van skuld betref, moet ons maar net glo dat dit teen 2026 magies gaan begin gebeur waar dit oor die afgelope dekade bykans jaarliks selfs bo pessimistiese verwagtinge verswak het,” het Malan gesê.
Solidariteit sê in ’n verklaring die Minister se aannames is op ʼn naïewe en misplaaste vertroue in die doeltreffendheid en eerlikheid van sy eie party gebaseer.