Daar is uiteindelik begin met bouwerk aan ’n tydelike struktuur om Suid-Afrika se parlement te huisves terwyl daar steeds teen ’n slakkepas gevorder word om die parlementsgebou, wat byna drie jaar gelede afgebrand het, te herbou.
Die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur sê die koepel sal vir die volgende twee jaar as die bymekaarkomplek vir LP’s dien. Dit word vergelyk met die struktuur wat tydens Nelson Mandela se begrafnis in 2013 gebruik is.
Die departement het die afgelope Dinsdag amptelik die konstruksieterrein oorhandig vir bouwerk om te begin, aangesien herboupogings op die brandbeskadigde hoofgeboue steeds vertragings ondervind, sê hulle in ’n verklaring.
Dit gaan glo R13 miljoen kos om die koepel op ’n parkeerterrein langs die parlement op te rig.
— South African Government (@GovernmentZA) December 18, 2024
Sifiso Mdakane, direkteur-generaal van die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur, sê die projek sal na verwagting 24 dae duur en betyds wees vir die 2025-opening van die parlement en die staatsrede.
Volgens die verklaring het die projek die seën van beide die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, LP, en die minister van openbare werke en infrastruktuur, Dean Macpherson.
“Die oprigting van hierdie struktuur gaan die staat baie geld bespaar in terme van die akkommodering van die parlement in die volgende twee jaar,” lui die verklaring.
Macpherson het die afgelope Sondag in Rapport sy frustrasie uitgespreek met die gesloer om die parlement te herbou. Hy het aan Hanlie Retief gesê die aanvanklike teikendatum waarop die herbouing van die parlement voltooi sou wees, was 25 September volgende jaar, maar hy vermoed dit gaan nog minstens twee jaar neem.
Daar is die afgelope week agt houers van 12 meter elk met al die nodige bykomstighede en onderdele wat vanaf die weermagbergingsfasiliteit in Pretoria na Kaapstad vervoer is, oorhandig.
Die projek geskied onder toesig van die hoof- professionele argitek van die prestige-eenheid van die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur en konstruksiekundiges.
Die departement sal gereelde nuus oor vordering met die projek verskaf.
Macpherson het vroeër vanjaar die parlement toegespreek oor die vertragings wat die groei en ontwikkeling van die land se infrastruktuur belemmer. Hy het gesê dit lei tot halfvoltooide geboue, ledige konstruksieterreine en bowenal, vermorste openbare fondse wat gebruik sou kon word om die lewens van die land se mense te verbeter.
Die herbou van die parlementsgebou, waarvan dele in 2022 deur ’n brand verwoes is, sal na raming R3 miljard kos.
Die sekretaris van die parlement het onlangs die jongste nuus oor die herbouprojek bekend gemaak. Planne sluit in om die Nasionale Vergadering-gebou te sloop en dit te vervang met ’n struktuur wat soos ’n protea, Suid-Afrika se nasionale blom en simbool van die parlement, lyk.
Die aanvanklike geraamde koste van R2 miljard vir herstelwerk en opgraderings is ook opwaarts aangepas na R2,1 miljard.
’n Verdere R943 miljoen is toegewys vir die vervanging van infrastruktuur en algehele modernisering van geriewe, wat die totaal op R3 miljard te staan sal bring.
Die projektydlyne is ook hersien. Die finale voltooiing en oorhandiging is van Desember 2025 na 20 April 2026 geskuif. Die finale rekening en afsluiting is geoormerk vir Julie 2026 (vanaf Februarie 2026 aangepas).
Die parlement het ’n webwerf bekendgestel om die projek se vordering na te spoor en ’n WhatsApp-kletsbot geskep wat Suid-Afrikaners kan gebruik om hul insigte te deel.
Hulle het ook ’n virtuele toer van die ontwerp vrygestel: