Boykie vir Afrika deur Pieter de Poortere: ’n lesersindruk

  • 0

...
Net soos Bitterkomix ’n angel bevat en die samelewing bevraagteken, so laat De Poortere geen moontlike steen des aanstoot onaangeroer nie, en geen heilige koei ongeslag nie.
...

Titel: Boykie vir Afrika
Skrywer: Pieter de Poortere

Uitgewer: Flare Books
ISBN: 9781963511161

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Pieter de Poortere is ’n Belgiese kunstenaar wat naam gemaak het met sy kru, maar onhebbelik snaakse strokies genaamd Boerke. In Engels verskyn Boerke al ’n geruime tyd as Dickie. Nou is die grootliks woordelose strokies ook in Afrikaans vertaal en byeengebring deur Fourie Botha. Boerke staan nou ter plaatse bekend as Boykie.

Die krag van De Poortere se werk lê in die eenvoudige lynsketse. Hulle trek, dalk bewustelik, op Dick Bruna se ontsettend gewilde Nijntje, wat in Engels onder die ongelukkige titel Miffy bekend geword het.

Moet egter asseblief nie Boykie in Afrika verwar met kinderboeke nie. Hierdie Boykie is ’n stoutgat wat prostitute besoek en soms ’n taamlik interessante sekslewe het. Naaktheid, hoewel erg verbloem deur die tekeninge en smaakvol aangebied, is oral te sien.

Boykie in Afrika se humor is donker. Baie donker. Die strokies is oneerbiedig. Jy is gewaarsku.

Nou mag jy maar jou skoene uitskop, ’n dop skink en begin blaai. Doen dit ná werk, want hierdie boek is verslawend. As jy eers die humor begin verstaan, is dit deksels moeilik om op te hou.

Hoe vertaal ’n mens woordelose boeke?

Die meeste strokies bevat geen woorde nie, maar hier en daar is woorde tog belangrik, al is dit net om by te dra tot die humor.

Die tweede strokie in die boek is ’n goeie voorbeeld. Boykie is die grootbaas van ’n groot maatskappy. Sy sekretaresse bring ’n oorhoofse projektor met ’n transparant. (Wie onthou hulle nog?) Die arme vrou plaas egter die transparant onderstebo, wat die wins na benede laat tuimel, volgens die grafiek. Boykie spring by die venster uit en val hom te pletter. Dan sien die sekretaresse die fout raak en plaas die transparant korrek neer. Die wins is fantasties, maar Boykie is dood.

Die woord wins moet korrek vertaal en aangebring word in die sketse – ook vir die onderstebo weergawe. Ons praat van bitter klein detail, maar om ’n getekende boek te vertaal het uitdagings. Alles moet nagegaan word en aan die setters verduidelik word.

Ook die volgende strokie, waar Boykie uitgeskop word by die werk én uit die huis, staan of val by die vertaling van ’n enkele woord soos vertraag. As daardie woord verkeerd was, sou die hele strokie nie werk nie. Opvallend het die Engelse vertalers strike gebruik. Maar in Afrika, waar Boykie hom nou bevind, kan vertraag werk. By ons beteken vertraag maklik nooit. En dis belangrik om te onthou, anders werk die hele strokie nie.

Let ook op dat die biblioteek op bladsy 29 mooi Afrikaanse opskrifte het, maar die belangrikste boektitel bewustelik nie vertaal is nie. Op bladsy 37 is die vertaling op die sigaretboksie weer die alfa en die omega.

So kan ons aangaan. Die vertalings is baie goed, regdeur die boek, hoewel ek hier en daar enkele woorde anders sou vertaal, ’n woord soos grol sou ek byvoorbeeld vertaal het na grom. Hulle maak egter glad nie afbreuk aan die geheel nie.

Let egter ook op dat daar talle plekke is waar die woord Boerke vervang moes word met Boytjie – dikwels in die sketse self. Hoede af dus aan die vertaler en die setters.

Boykie is vir Afrika, maar nie net in Afrika nie

Die karakter is ’n alleman, ’n local boykie in enige situasie. Hy word soms ’n swart bokser, genaamd Boykie Ali; ander kere gaan hy maan toe om onder ’n Amerikaanse vlag daar te land. Wat hy op bladsy 17 met die VSA se vlag maak, gaan ek nie sê nie. Ek wens egter ek kon die strokie vir Donald Trump stuur.

Op bladsy 42 word weer met Nederland se vlag die spot gedryf.

Fidel Castro loop deur op bladsy 20.

Dan, op bladsy 24 besoek Boykie ’n volstruisplaas. Oudtshoorn sal nooit weer dieselfde wees nie!

Onse home boy is ’n universele karakter. Grense hou hom nie vas nie.

Stout

Soms is De Poortere heerlik stout.

Die strokie oor die ontkleedanser tydens Covid is baie pret, maar daar is ook ’n heerlike gespot met groen energie op bladsye 66 en 68. Selfs Green Peace se rol in dié boek is twyfelagtig (bladsy 71).

Meer gruwelike stoutighede volg: meerminne word geslag, skape word geslag, voëls, wat in ’n bekende oliestorting besoedel word, kry skielik ’n totaal ander rol as wat verwag sou word ... Tog kan geen mens die enorme impak van klimaatsverandering miskyk as Boykie in Groenland afkom op ’n iglo wat gebou is van rommel nie. (Sien bladsy 72.) Of wat van lugbesoedeling op die volgende bladsy?

Vir De Poortere is geen heilige objek veilig nie; links en regs word ewe hardhandig met karwatse getakel. Dis gruwelik genotvol om jou daarin te verkneukel.

Intertekste

Om hierdie boek ten volle te geniet is ’n bietjie kuns- en musiekgeskiedenis, asook ’n redelike lees- en algemene kennis nodig. Ek glo nie een persoon sal al die verwysings snap nie, maar let byvoorbeeld op dat die vuurpyle tydens Boykie se sendings maan toe, ontleen is aan Hergé se Kuifie-reeks.

Bladsy 50 is ’n homage aan Martin Handford se Where’s Wally?-reeks.

Later loop Da Vinci (bladsy 145), Van Gogh (bladsy 146), Rodin (bladsy 148) en talle ander deur.

Op bladsy 80 beland Disney se The Little Mermaid in James Cameron se film Titanic, maar sy word deur Steven Spielberg se haai uit Jaws aangeval. In ’n ander gemengde verhaal byt arme Pinocchio die spit af in Jona se walvis (bladsy 97).

Op bladsy 103 moet ’n mens iets weet van Josephine Baker se piesangrompie om die groteske vermenging met King Kong se storie te verstaan. En sonder om veel te weet van Gene Kelly se Singing in the rain, sou die strokie op bladsy 104 veel minder sin maak. Moenie Julie Andrews se karakter uit The sound of music op die volgende bladsy mis nie! Wes Craven se Scream word ook verpletter op bladsy 106.

Daar is meer. Kyk maar self wat gebeur met Hopper as Roger Rabbit instap, of Andy Warhol wanneer Boykie begin warm kry.

Met talle ander films word ook heerlik die spot gedryf en musikante word nie gespaar nie. As jy jou albumvoorblaaie ken, gaan die laaste deel van die boek jou uitermate genot verskaf.

Ek vermoed mense sal die Winehouse spoof op bladsy 160 ontstellend vind, maar dan, as jy reeds so ver gevorder het, sal jy weet dit is hoe Pieter de Poortere werk.

Tot slot

Strokiesprente is helaas nie altyd onskuldig nie.

Alex J Coyne het by geleentheid vertel hoe fotoverhale soos Ruiter in swart deur die ooms in die kerk aangeval is. Well, they ain’t seen nothing yet. Net soos Bitterkomix ’n angel bevat en die samelewing bevraagteken, so laat De Poortere geen moontlike steen des aanstoot onaangeroer nie, en geen heilige koei ongeslag nie.

Boykie vir Afrika is bitter en bitter lekker.

Koop dit as jy uitgedaag wil word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top