Brande en hitte rig groot skade aan in Wes-Kaap

  • 0

Brandbestryders in die Wes-Kaap moes die afgelope week stoei om verskeie brande te probeer blus terwyl groot dele van die provinsie onder skroeiende hitte gebuk gaan.

In verskeie dele het die kwik tot bokant 40°C gestyg. Die bloedige warm weer wat Kapenaars onverhoeds gevang het, het ook groot skade aangerig aan die koringoes in die Suid-Kaap en Swartland.

Die hittegolf sal na verwagting tot Sondag duur aan die kus van die Noord-Kaap, die Weskus-streek, Kaapse Wynland en Tuinroete in die Wes-Kaap. In Stellenbosch het inwoners foto’s op Twitter geplaas van hul motors se termometers wat die hitte op 45° C aangedui het. 

Agri Wes-Kaap vrees dat die koringoes swaar getref kan word as gevolg van die versengende hitte.

Op verskeie plekke in die provinsie moes brandbestryders alles in die stryd werp om die vlamme te blus terwyl die weerburo gewaarsku het teen uiters hoë brandgevare as gevolg van die hitte.

Die nooddiens ER24 het die publiek, veral kinders en bejaardes, ook gewaarsku om versigtig te wees vir hitte-uitputting en ontwatering weens die hittegolf.

Brande het onder andere in Tulbagh, Stellenbosch en ook in die Outeniquaberge by George uitgebreek.

Brandbestryders van George het gehelp om die brand by Vermaaklikheid naby Heidelberg onder beheer te bring toe hulle moes terugjaag om boeregemeenskappe by Herold te help beskerm. Die brand is later onder beheer gebring, maar brandbestryders het Donderdag steeds die gebied gemonitor.

Duisende hektaar se plantegroei en nege huise is vernietig in die brand wat verlede naweek by Vermaaklikheid uitgebreek het. Die brandbestryders se taak is bemoeilik deur sterk wind en hoë temperature. Bykomende brandweerspanne en hulpbronne uit ander munisipaliteite is ingespan om brandbestryders by te staan. ’n Vlieënier is dood toe die helikopter waarmee hy brandbestryding gedoen het, Dinsdag geval het.

Netwerk24 berig dat assessore en ’n brandkundige aangestel is om die oorsaak van die brand in die pakhuis by Stellenbosch Vineyards op die plaas Welgemoed te bepaal.

Volgens die plaas se woordvoerder, Chantelle Boucher, is al hul wyne wat klaar gebottel en verpak was in die brand vernietig. Die Burger het vroeër die week berig dat die skade moontlik etlike miljoene rand kan beloop. Die wyn wat in die slag gebly het, was vir plaaslike en internasionale markte bestem.

Dit was ook nie net Stellenbosch Vineyards se wyn wat in die brand vernietig is nie. Die wynlandgoed Kleine Zalze in Stellenbosch se wyn wat ook daar gebottel en verpak word, het ook in die slag gebly.

In Tulbagh moes die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit die hulp van helikopters inroep nadat die brand aan die linkerkant van die berge buite Tulbagh opgevlam het.

Nog ’n brand wat tussen Sir Lowryspas en Grabouw gewoed het, is onder beheer gebring voordat dit verder kon versprei, maar het wel groot skade aangerig.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top