Suid-Afrikaners staar van vandag af (Woensdag 1 April 2026) een van die skerpste brandstofprysverhogings nóg in die gesig. Wat op papier na ’n Aprilgekgrap lyk, is ongelukkig ’n pynlike realiteit vir Suid-Afrikaanse motoriste.
Die Departement van Minerale en Petroleumhulpbronne het die jongste amptelike aanpassings gister aangekondig nadat die regering op die laaste nippertjie besluit het om die algemene brandstofheffing tydelik met R3 per liter te verlaag as buffer teen die skerp styging.
Hierdie verligting sal van 1 April tot 5 Mei 2026 geld. Sonder hierdie ingryping sou die verhogings selfs meer dramaties gewees het.
JOINT MEDIA STATEMENT:
ANNOUNCEMENT BY MINISTER ENOCH GODONGWANA AND MINISTER GWEDE MANTASHE ON SHORT-TERM RELIEF MEASURES TO ADDRESS FUEL PRICE INCREASES pic.twitter.com/wzyx6flUSU— Department of Mineral and Petroleum Resources (@DMPR_ZA) March 31, 2026
Dit is ’n noodmaatreël wat die finansminister, Enoch Godongwana, aangekondig het, maar kritici noem dit te min en te laat.
#FuelPrice Official: New pump prices for April 2026 will apply from midnight tonight - the new prices include the R3.00 per litre temporary relief on the fuel levy announced earlier today pic.twitter.com/Wv1xBjkRfZ
— TrafficSA (@TrafficSA) March 31, 2026
Die dramatiese styging volg op ’n uiters onstuimige tydperk in Maart, waarin sowel internasionale oliepryse as die rand se waarde teenoor die Amerikaanse dollar skerp verswak het. Die wêreldwye ontwrigting is grootliks aangeblaas deur die VSA se militêre optrede teen Iran sedert 28 Februarie in ’n operasie wat as Operation Epic Fury bekendstaan.
Die konflik het vinnig geëskaleer, met Iran wat vergeldingsaanvalle geloods het en die strategies belangrike Straat van Hormoes gesluit het, ’n deurslaggewende roete vir wêreldwye olieverskepings. Hierdie verwikkelings het internasionale markte in chaos gedompel en oliepryse tot bo $100 per vat laat styg. Terselfdertyd het beleggers hul kapitaal uit sogenaamde risikomarkte onttrek, wat die rand verder verswak het.
Die dubbele druk van hoër oliepryse en ’n swakker rand het gelei tot groot onderverhalings in die plaaslike brandstofprysstruktuur, wat uiteindelik uitgeloop het op buitengewone prysverhogings.
Op 1 April sal petrolpryse met R3,06 per liter styg, terwyl dieselpryse met ’n verstommende R7,37 (0,05%) en R7,51 (0,005%) per liter styg. Paraffienpryse neem met ’n skokkende R15,60 per liter toe, terwyl LPGAS se prys met R1,08 per kilogram styg.
Vir die gemiddelde motoris beteken dit ’n hoër maandelikse koste. ’n Pendelaar wat 50 liter petrol per week gebruik, kan honderde rande ekstra betaal. Taxitariewe, Uber-pryse en vragvervoer gaan duurder word, wat direk deurgegee sal word na voedselpryse, groente en alledaagse goedere.
Klein besighede, boere en die logistieke sektor word besonder hard getref. Diesel is die lewensaar van die ekonomie en hoër koste kan lei tot duurder vervoer van goedere. Inflasie, wat reeds onder druk is, kan verder styg.
Die tydelike R3-verlaging bied korttermynverligting, maar dit kos die staat miljarde in verlore inkomste.
South Africa will reduce a tax imposed on fuel to offset the impact of surging oil prices on domestic gasoline, Finance Minister Enoch Godongwana said https://t.co/XsCZqTlJwL
— Bloomberg (@business) March 31, 2026
Ander belastingverhogings tree in werking. Die brandstofheffing op petrol en diesel styg met onderskeidelik 9 sent en 8 sent per liter, terwyl die koolstofheffing met 5 sent vir petrol en 6 sent vir diesel verhoog word. Die Padongelukkefonds se heffing neem ook met 7 sent per liter toe.
Die impak op verbruikers is reeds duidelik in die nuwe pomppryse. In die binneland styg 95-oktaan-petrol van R20,30 tot R23,36 per liter, terwyl diesel (0,05%) van R18,53 tot R25,90 spring. Aan die kus neem 95-oktaan-petrol se prys toe van R19,47 tot R22,53, en diesel (0,05%) van R17,70 tot R25,07.
Veral kommerwekkend is die skerp styging in die prys van paraffien, wat dikwels deur laerinkomstehuishoudings gebruik word vir kook en verhitting. Die toename plaas verdere druk op reeds kwesbare gemeenskappe wat swaarkry onder die breër ekonomiese uitdagings.
Hoewel die pryse van propaan en butaan internasionaal betreklik stabiel gebly het weens laer vraag in die Noordelike Halfrond se naderende somer, het verhoogde verskepingskoste as gevolg van die konflik steeds bygedra tot hoër plaaslike LPGAS-pryse.
Met die geopolitieke situasie in die Midde-Ooste wat steeds gespanne bly en min tekens van vinnige stabilisering toon, is daar groot onsekerheid oor die pad vorentoe. Vir nou lyk dit asof Suid-Afrikaanse motoriste en huishoudings hulle vir ’n duur en uitdagende tydperk moet staal.
