Breedekloof bekoor die reisiger

  • 0

Die Breedekloofvallei is ’n onderskatte deel van Suid-Afrika se talle toerismebestemmings.

Dalk is dit omdat die “hoofdorp” van die streek, Rawsonville, wat maar iets oor die 3 000 inwoners het, nie baie bekend is nie.

Ek vermoed min mense sal Rawsonville op ’n kaart kry, maar die juwele wat om die dorp versamel is, bied iets vir byna alle kategorieë vakansiegangers.

Besoek gerus die webruimte https://breedekloof.com om meer te wete te kom van als wat ’n reisiger kan beleef. En dit alles is net ongeveer 120 km van Kaapstad af op die N1.

Rawsonville self is slegs 16 km van Worcester geleë, daarom sal jy geen groot winkels of blink liggies daar aantref nie, want Worcester het winkelsentrums, en ook uitstekende mediese dienste.

In die 1850’s, toe Rawsonville ontstaan het, was 10 myl (16 km) te perd nog ’n deeglike rit. Met ’n ossewa het dit baie langer geneem, en wanneer die Breederivier in die winter afgekom het, was Worcester glad nie bereikbaar nie.

Vandag is hierdie juweel 90 minute se rustige ry van Kaapstad af op die N1. Jy kan ’n daguitstappie maak soheentoe, maar kry ’n niedrinker as ’n bestuurder, want hierdie vallei het puik wyne.

Nog beter, bespreek akkommodasie en vertoef ’n rukkie – daar is baie om te doen.

Die mobiele biblioteek wat deur plaaswerkers bedryf word

Kort ná jy deur die Du Toitskloofpas is, verskyn die afdraai na Rawsonville.

Ry dadelik stadiger, want die verkeerspolisie sit graag onder daardie bord. Sit jou flikkerlig aan en neem die kleiner R101 na regs. Binne ’n paar kilometer gaan jy Du Toitskloof Wyne aan regterkant kry. Dit is die moeite werd om te stop, want hier is ’n storie wat vertel moet word.

In 2005 het Du Toitskloof een van die eerste kelders in die land geword wat akkreditasie by Fair Trade te gekry het. Dit beteken twee dinge: Elkeen van die plase wat druiwe aan hierdie kelder lewer, word jaarliks geïnspekteer om seker te maak hulle werkers word goed versorg. Tweedens word ’n gedeelte van elke bottel wyn se prys uitbetaal aan ’n fonds wat deur die plaaswerkers self bestuur word. Hierdie fonds maak ’n geweldige verskil aan talle mense se lewens.

Abraham Oerson, self ’n plaaswerker en ’n voormalige voorsitter van die projek, verduidelik dit so: “Vir elke bottel rooiwyn wat verkoop word, ontvang ons 85 sent en vir elke bottel witwyn wat verkoop word ontvang ons 95 sent.”

Die laerskool wat deur hierdie fonds ondersteun word, se toerusting is ewe goed soos, indien nie beter nie, as die privaat skool waar my seun bevoorreg was om te kon klasloop.

Daar is wifi en dataprojektors in die klasse, asook ’n enorme rekenaarsentrum met allerlei sagteware wat gereeld bygewerk word.

Drie kleuterskole word ook deur die administrateurs van hierdie fonds bestuur en onderhou.

Elke kind wat ingeskryf is by die kleuterskole en die laerskool, kry elke skooldag ’n volledige maaltyd.

Sodra die kinders klaar is met die laerskool, betaal die fonds om leerders na die regte hoërskool te stuur en daarna word diegene wat steeds aanhou presteer, die geleentheid gegun om technikon of universiteit toe te gaan.

’n Plaaswerker wat druiwe lewer aan Du Toitskloof Wyne, se kinders het dus dieselfde toekomsmoontlikhede as my kinders.

Tog is dit nie waar die mooi storie stop nie.

Marius Swart, die hoof- uitvoerende beampte van Du Toitskloof Wyne, is ’n kranige fietsryer. Aangesien hy gereeld ver deur die vallei ry, het hy talle skoolkinders ontmoet wat nie so bevoorreg is soos dié van die werkers op Du Toitskloof se plase nie.

Aanvanklik wou hy help om ’n biblioteek te begin by elkeen van die skole in die vallei, maar dit sou baie geld gekos het en daar sou geen waarborg wees dat die biblioteke in stand gehou sou word nie. Dis tóé dat ’n ander idee by hom opkom: Skep ’n mobiele biblioteek en neem dit na die ander skole in die vallei.

Dié droom is in 2015 bewaarheid toe Douglas Green-wyne, wat ook akkreditasie by Fair Trade het, ’n vragmotor geskenk het. Du Toitskloof het die vragmotor toegerus met boeke en rekenaars en twee voltydse personeellede is aangestel om die projek te bedryf.

Dit was so ’n groot oomblik dat selfs die destydse premier van die Wes-Kaap, Helen Zille, die geleentheid bygewoon het. Annelien Syfers, ’n boorling van die Breedevallei, is aangestel as bibliotekaris wat saam met die biblioteek reis. Hier wys Syfers vir Zille hoe die internettoegang in die mobiele biblioteek werk.

Sedertdien neem die Du Toitskloof-Douglas Green mobiele biblioteek en mediasentrum leesmateriaal en rekenaartegnologie na die plaaswerkers en hulle kinders regdeur die Breedevallei. Dit bedien nege laerskole en meer as 1 200 skoolkinders. Du Toitskloof se eie laerskool is een van dié skole.

Die plaaswerkers self betaal die salarisse van Syfers en die bestuurder van die lorrie. Hierdie werkers reik dus uit na agt ander skole in die Breedevallei sodat die mobiele biblioteek ook in die behoeftes van kinders en ouers kan voorsien wat niks met Du Toitskloof te doen het nie en wat minder bevoorreg is as hulle. Wanneer die bus by ’n skool staan, kan ook volwasse plaaswerkers boeke uitneem, en daardie skool se kinders kry toegang tot die boeke, die internet en die sagteware wat in die biblioteek beskikbaar is.

In 2019 is die ATKV-Woordveertjie vir leesbevordering toegeken aan hierdie projek. Marius Swart het dit ontvangs geneem.

Du Toitskloof is egter ’n wynkelder, en dit is waarom die meeste mense, met reg, daar sal wil stop. In 2018 het Du Toitskloof vier Michelangelo-toekennings gekry. In 2019 het hulle 10 Michelangelo-toekennings gewen.

Val dus in by hulle proelokaal! Vir die jongspan verkoop hulle druiwesap.

Onder hulle eie naam maak Du Toitskloof uiters bekostigbare wyne. Armand Aucamp, die akteur en “kaal kok”, is ’n ambassadeur vir hulle uitstekende sauvignon blanc. Hier is hy saam met Ed Beukes, Du Toitskloof se bemarker.

Hulle Cape Ruby het in 2019 ’n platinummedalje gewen. Dié sonderlinge wyn word met brandewyn gefortifiseer en word dan tot 18 maande in vate van Franse eikehout verouder. Drie wynkultivars, tinta barocca, souzåo en touriga naçional word gebruik.

Land’s End is een van Du Toitskloof se premium-handelsmerke.

Quest is die ander premium handelsmerk in hulle stal. Quest se MCC is uitstekend.

Vir die beginner maak Du Toitskloof die Tunnel-reeks, vernoem na die ikoniese tonnel. Dit is ’n baie bekostigbare reeks wyne wat vir my soos koeldrank smaak, maar uiters gewild is onder die jonger klomp. My dogter en haar universiteitsvriende het ’n paar kaste van hierdie toeganklike reeks wyne kafgedraf terwyl hulle studeer het.

Daar is ook ’n restaurant met baie plek vir kinders om te speel.

Besoek hulle webruimte hier: https://www.dutoitskloof.co.za.

Ander wynkelders in Breedevallei

Daar is altesaam 22 wynkelders in die Breedevallei. Party is klein, boetiekkelders, ander voer wêreldwyd uit. Klik hier en begin proe: https://breedekloof.com/cat/wineries.

Nie almal se stories is so sonderling soos dié van Du Toitskloof nie, maar die wyn is goed.

Restaurante

Daar is ’n aantal goeie, bekostigbare restaurante in die Breedevallei.

Klik hier om jou mond te laat water: https://breedekloof.com/cat/restaurants.

Die vallei is beeldskoon, dus skep selfs daardie kosbare oomblikke wanneer ’n mens wag vir die kos om voorberei te word, ’n geleentheid om stil te word en jou eie batterye te laai.

Baie van hierdie restaurante is kindervriendelik. By Die Opstal sal die plaaswerkers waarskynlik kom vra of hulle nie die jongklomp vir ’n trekkerrit deur die wingerde kan neem nie. Die ouer garde kan dan ontspan.

Aangesien ’n mens in die natuur is, is jou bure baie anders as in die stad. Hierdie jong Jangroentjie het ek afgeneem terwyl ons saam met die skoonfamilie ’n luilekker maaltyd geniet het.

Akkommodasie

Daar is baie geleenthede om in hierdie mooi vallei rustig te oornag.

Klik hier om te begin ondersoek instel: https://breedekloof.com/cat/accommodation.

Die bekendste bestemming in hierdie vallei is waarskynlik die ATKV Goudini Spa.

Hier kan ’n mens luuks bly, bekostigbaar in pragtige rondawels, of kampeer. Dit maak nie saak waar jy bly nie, die reuseswembaddens is warm en laat ’n mens ontspan. Selfs in die middel van die winter kan ’n mens heerlik swem in water wat natuurlik en warm uit die berg vloei.

Moet egter nie die talle ander kampeerterreine en gastehuise in die vallei vergeet nie.

Hier is baie geleentheid om te gaan stap, of om net rustig agteroor te sit en die son op jou lyf te voel. In die somer is ’n gereelde natmaak in ’n koel swembad, ’n loom rivier, of koue bergpoel ’n moet.

Konferensies of troues

Aangesien die vallei naby Kaapstad is, kan gaste vinnig en maklik daar kom vir troues of konferensies.

Klik hier vir ’n lys van die gewildste plekke om te bespreek: https://breedekloof.com/cat/weddingsconferences.

Vir baie groot konferensies is die ATKV se oord waarskynlik die beste toegerus. Hulle bied in ’n eenstopdiens: kos, klank, verblyf, verskeie sale en uitstekende toerusting.

Vir kleiner groepe kan enige een van die ander ruimtes, soos Merwida Lodge, werk.

Daar is baie te doen

Die roete tussen Rawsonville en Ceres is beeldskoon. Selfs al ry jy net rustig deur die vallei, sal jy al genot daaruit put.

Vir die avontuursoekers is daar egter te veel om in een naweek in te pas. Jy sal maar meer gereeld moet gaan kuier.

Hierdie skermgreep van ’n interaktiewe kaart begin so ’n ietsie verduidelik van dit wat ek nie als hier kon sê nie.

Klik op die kaart, of besoek https://breedekloof.com/map-3 en maak dit groter. Begin met elkeen van die vlaggies speel.

Lekker snuffel, en geniet die beplanning van ’n reis na een van Suid-Afrika se weggesteekte juwele.

Moenie die kamera vergeet wanneer jy gaan nie!

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top