Insiggewende beskouings oor vertaling en die vertaalbaarheid van Breyten Breytenbach se gedigte het die botoon gevoer in ’n bespreking waaraan hy by die Tuin van Digters-fees op Wellington deelgeneem het, berig Willem de Vries.
Die fees wat op 13 en 14 September aangebied is, was vanjaar ’n baie spesiale geleentheid: Breytenbach se 80ste verjaardag is gevier en hy het self aan die program deelgeneem. Die fees is by die Breytenbach Sentrum aangebied. Die Tuin van Digters vind jaarliks hier plaas en onder andere digters en ander betrokkenes by die letterkunde in die Lae Lande is gereeld op die feesprogram. Benewens poësie, sluit die fees jaarliks ook verskeie ander kunsvorme in, waaronder musiek en visuele kuns.
Internasionale paneel
Vir die gesprek oor vertaling het ’n paneel van kenners met die digter gesels. Catherine du Toit, hoof van die Departement Moderne Vreemde Tale aan die Universiteit Stellenbosch (US) het die gesprek gelei met Breytenbach, Yves T’Sjoen, hoofdosent verbonde aan die Afdeling Nederlands van die Vakgroep Letterkunde van die Universiteit van Gent, Jerzy Koch, hoof van die Departement Nederlandse en Suid-Afrikaans in die Fakulteit Engels van die Adam Mickiewicz-universiteit in Poznań, Pole, en Ampie Coetzee, ’n jare lange vriend van Breytenbach wat benewens letterkundige aan verskeie universiteite ook mede-oprigter van die destydse Taurus-uitgewery is. André van der Hoven, ’n honneursstudent aan die US-departement, het ook aan die gesprek deelgeneem. Hy werk tans aan ’n verhandeling oor Breytenbach en Frans.
Skryfwerk in verskeie taalgebiede
Die funksie van vertaling in die interkulturele gesprek tussen Afrikaans en Nederlands, die manier waarop onder andere die poësie van Breytenbach funksioneer, sirkuleer en ontvang word in die Nederlandse taalgebied en hoe dit uitbrei na ander taalgebiede, is die onderwerp van T’Sjoen se ondersoek na Breytenbach se skryfwerk. “My idee is dat ’n beeld van Breyten Breytenbach in ’n ander taal of kultuurgebied ’n heel ander beeld kan wees as die gebied waar die produksie van die literatuur tot stand kom; ’n soort metamorfose en transformasie. Dus kry jy ’n ander beeldvorming en dié ondersoek na interkulturele beeldvorming is vir my besonder interessant; die twee tale Afrikaans en Nederlands is goed verwant.”
Dit beteken geensins die beeld van Breytenbach, Antjie Krog of ander Afrikaanstalige skrywers is net dieselfde beeld wat in Suid-Afrika bestaan nie, het hy gesê. “Presies die dialoog tussen kulture, tussen taal en tussen literature, is die onderwerp en deel van die akademiese ondersoek.” Daarin sluit hom aan by die Stellenbosse literator Louise Viljoen, wat navorsing oor transnasionale verbande tussen letterkundes, asook kleinere letterkundes, doen.
Vertaal is vervel
“Breyten sê hy hou nie van vertalings nie, want dit verander die teks. Toe het hy later in op weg na kû geskryf: vertaal is vervel,” het Coetzee gesê. “Vervel weet ons wat dit beteken, maar as jy in die woordeboek kyk, het vervel soms ’n negatiewe betekenis. En dis my probleem met hierdie vertalings. Die teks verander wel. Maar jou strewe is om so ver moontlik by die teks te bly. Die woordeboek help, maar dit help ook nie. Dit gee nie altyd die betekenis wat jy soek nie. Veral met Breyten se metafore.” Na sy gevoel kan Breytenbach se gedigte egter wél vertaal word.
Van Pools na Afrikaans
Koch het werke van Breytenbach in Pools vertaal. Hy is opgelei as Germanis en Nederlands het sy hoofvak geword. In 1992 het hy die eerste keer na Suid-Afrika gereis.
“Omdat ek my ook met die Nederlandse koloniale letterkunde besig hou, het ek besluit hiér gaan die wêreld vir my oop. Ek het by die eerste kongres op Potchefstroom nie baie van Afrikaans verstaan nie. Die ergste was ‘het’. Dit was vir my die Nederlandse lidwoord. Het boek! Ek was heeltemal hoenderkop!”
Die meeste van Koch se sowat 30 vertalings het hy in die jare negentigs en die 2000’s gedoen. Die laaste ruk het hy werk van Stefan Hertmans, ’n bekende Vlaamse digter en romanskrywer, en Antjie Krog vertaal.
Koch het interessant vertel van die Poolse vertaling van op weg na kû, Breytenbach se mees onlangse bundel. Die omslag van die boek het eers op die Poolse vertaling verskyn en is verlede jaar ook op die oorspronklike Afrikaanse boek se voorblad afgedruk, het hy gesê.
“In die Pools is trouens nog twee gedigte wat danksy die medewerking van die digter eers in die Poolse vertaling gepubliseer is en later in die oorspronklike Afrikaanse weergawe. Daarmee kan mens iets sê oor wat eerste is: Wat is die bykans eksistensiële posisie van die vertaling?”
Terwyl die bespreking in die vol feeslokaal aan die gang was, is gedigte en voorblaaie van uitgawes van Breytenbach se werk in verskillende tale op groot skerms aan weerskante van die gehoor vertoon.
Skrywers as vertalers
“Ek dink alle skrywers vertaal,” het Breytenbach gesê. “Sodra jy begin werk aan ’n gedig, dan is dit onmiddellik vertaling.” Elke digter is ’n vertaler of behoort ’n vertaler te wees, het hy benadruk.
As jy woordeliks van die een taal in die ander vertaal, kry woorde ’n heeltemal ander lading. “As jy byvoorbeeld in Frans sou sê: ‘Ek het nou so baie misbruik gemaak van my voorregte’, is die Frans (letterlik vertaal) ‘ek het nou so baie geëet, maar dis nou nie om ’n kaas van te maak nie’. As ’n mens dit nou in Afrikaans sou sê: ‘Maak nou nie ’n kaas van die storie nie’, dan word dit heeltemal ’n ander storie. In Frans sal dit ’n heeltemal banale uitdrukking wees. En natuurlik andersom ook. Ek weet nie hoe sommige dinge in Frans sou kon vertaal word sonder dat dit absurd en onmiddellik spontane vitale absurditeite word nie. Dis lieflik dat dit so moet wees.”
Gelyklopende werklikhede
Breytenbach het vertaling op eksistensiële lyne bekyk, in terme van werklikhede, mimesis en groot vrae wat dit tot gevolg het. ’n Mens vertaal syns insiens “met die bewussyn van die onhaalbaarheid of die onvoldoendheid van dit wat jy probeer oordra”.
“Jy is bewus van verskillende gelyklopende werklikhede. Dit waaruit jy vertaal miskien en sonder dat jy dit weet met die eggo’s wat daarmee saamkom. Dit word bepaal deur omgewing, die manier waarop jy grootgeword het, wanneer jy waar is en hoe ook al. Daar is ook die gelyklopendheid van sê maar wat ons die werklikheid noem en wat nooit totaal sou vertaal kon word nie. Maar tog probeer jy dit heeltyd doen.”
Jou taal, die woorde wat jy gebruik en die gedig wat jy probeer skryf, is op sigself outonome werklikheid, het hy gesê. “En dan vra jy: ‘Maar waaruit bestaan daardie werklikheid?’ En dan begin jy kyk en jy begin dit agterkom. Jy stel jouself die vraag, bykans instinktief.
“Dit het te doen met ruimte, ritme, tekstuur en dinge soos herinnering wat óók ruimte is, so ook verbeelding – beweging wat ontstaan. En dan vra jy jouself af: ‘Maar is dit dan nie logies as ek dink aan die werklikheid en hoe om dit te benader nie?’ Dán moet ’n mens versigtig wees, want dan gaan jy terugbeweeg om die werklikheid te probeer verstaan in terme van taal. Dan word dit ’n nabootsing. En daar is niks verkeerd daarmee nie. Ons leer deur nabootsing. Alles wat ons weet, is nabootsing. Ons herhaal wat ons hoor en sien. Ons probeer dit miskien op ’n bietjie gewysigde manier herhaal.
“Jy kom in ’n area waar jy besef dat jou manier van die werklikheid benader – wat nie in woorde gesê kan word nie – eintlik net stilte is; dat jy dit wat jy nie in taal geleer het nie probeer oordra, of dat jy nie die werklikheid sien in terme van taal nie. Is taal ’n beperking, of is dit ’n verruiming? Dis nou groot vrae hierdie: Hoekom het ons tale nodig? Vir wat doen ons dit? Is dit ons manier om ons af te skerm van die werklikheid of is dit ’n manier om toegang te kry tót die werklikheid, as ons dan werk met die begrip van werklikheid?”
“Veel mooier as dêmmit”
Oor die gedagte dat die gedig ’n spieëlbeeld in hom omdra, meen Breytenbach daar is ’n ander opmerking wat ’n mens hieroor moet maak: “Die meeste van die werke wat ons ken wat in ander tale bestaan, ken ons alleen in vertaling. Daar is niks verkeerd daarmee nie, inteendeel. Ek sou skat omdat dit in jou taal na jou toe kom, gaan jy dit ervaar as ’n meer volkome, vollediger ervaring as wat die oorspronklike miskien sou wees. Wat weet ons op stuk van sake van die ou klassieke Chinese tekste? Wat weet ons van Rūmī? Wat weet ons van Afrika-tekste as dit nie was dat dit na ons toe kom deur vertaling nie?”
Hy het die ideaal van volle ekwivalensie in die doeltaal “bietjie ontluister”; daardie opregte vertaling wat “so na as vloek aan dêmmit moet wees”. “Dit is nie noodwendig so nie; dis miskien veel mooier as dêmmit, dit word veel ryker in jou eie taal as ’n mens die sogenaamde vertalings, verwerkings of voortdigtings van Ezra Pound lees wat uit die Chinees kom ... en ek glo amper hy het nie Chinees geken nie. Ons moenie daaraan dink in morele terme nie.
“Vertaling is anders maak, maar wat is dit wat ons soek? Omdat ons ook daardie anders maak wil belewe, ons wil dít kan ervaar. Ek dink wel nie ons is bewus daarvan nie. Ons wil wakker gemaak word deur vertaling. En vertaling is ’n anders maak van dieselfde, oorspronklike of wat dit ook al sou kon wees in die oorspronklike teks. Dit behels onder andere dat ’n mens daarmee kan aangaan of dat jy hom veel korter kan maak.”
Wat dan van wat mense miskien beskou as die hele struktuur van ’n taal waarin poësie heeltemal anders is as wat ons sou kon vertaal het, al is dit dan net selfs die verwysingswêreld? het hy gevra.
“Die lengte van die reëls, die ritme, die skrif waarin dit gedoen is, die feit dat dit baie visueel is van, sê nou maar, die Oosterse tale. Ek het Chinees genoem, maar in Japannees is dit ewe so. Hoe gaan ons dit vertaal?
“Kyk na ’n gedig van Bashō: ‘Kyk maan / eet pampoen / poep’. Maar dan kyk jy na die skrif van hierdie karakters. Nou ja, ek het nie die poep gesien nie en ook nie sodanig die maan nie en die pampoen ook nie. Nou waar kom dit vandaan? Miskien was dit net één karakter. Dan vra jy jouself af hoe die vertaler by die maan, die pampoen en die poep uitgekom het? Dis nie te sê dat dit die oorspronklike getrou is nie.”
Verskille in hoe vertalers sy werk benader, het hy ook geïllustreer. “Een keer moes ’n klompie mense van my goed vertaal, en daar was ’n omie by met ’n vreeslike lang baard, nie meer so jonk nie. Hy het lank gesit met die ding. Ek probeer toe vir hom woord vir woord ’n vertaling te doen van wat ek probeer sê het in Afrikaans sodat hy aan die gang kan kom. En sy eindproduk was twee of drie bladsye lank.” En dít van iets van maar liefs drie reëls: “Here I'm sitting / in front of a heap of words / I don't know what to do with them”.
Verskeidenheid in vertaling
Du Toit het gesê Breytenbach is sélf ’n kompulsiewe vertaler en noem dat hy as veeltalige skrywer noodwendig anders skryf. Vir Breytenbach is die wyse waarop die digter-vertaler skryf een waarin, soos reeds genoem, eggo’s meespeel – “al daardie verwysings wat mos soms net in ander tale bestaan, dit is iets wat ’n mens onbewus inneem”.
Moet ’n mens ’n digter wees, iemand wat kreatief met taal besig is, om ’n goeie vertaling te maak? het T’Sjoen gevra. “By universiteite in Nederland en België kan jy akademies opgelei word as vertaler. Sal ’n akademies opgeleide vertaler anders vertaal?”
Koch gee ’n jaar lange kursus vir meestersgraadstudente in Nederlands oor literêre vertaling. Hulle is dan besig met kennisoordrag en vaardighede-ontwikkeling, het hy verduidelik. “Wat die studente wat byvoorbeeld Nederlands studeer later daarmee maak, dit is húlle saak. Wat ons moet doen, is ’n klomp vaardigheid oordra sodat hulle, terwyl ons nog toekyk, dit beoefen en outomatiseer. Ek weet nie of jy ’n literêre vertaler kan oplei nie. Jy kan seker die jong mense konfronteer met die probleme en moeilikhede as jy met konkrete taal werk.
“Ons (Pools) het geen lidwoorde nie, maar ons het sewe naamvalle. So dit is een van ons strukturele probleme. ’n Klassieke voorbeeld is dié van ‘’n vrou kom uit die huis’. Dán is die vrou onbepaald. As die vrou aan die begin van die sin staan, is sy bepaald, maar as sy aan die einde staan, as ek sê ‘uit die huis kom ’n vrou’, is sy minder bepaald. Met ander woorde probeer jy met ander middele in die doeltaal werk, omdat Pools nie lidwoorde het nie.
“Ek sou sê alles is vertaalbaar omdat alles kommunikeerbaar is – op ’n manier. En daar is nie iets soos ’n vasstaande, oorspronklike teks nie. Want vir elkeen van ons, as ons Breytenbach se gedig lees, roep dit ander wêrelde in ons op, ander assosiasies.
“Ons kan dit nog moeiliker maak, met moeiliker woorde. Dan is elke lees van ’n gedig ’n soort interpretasie. Ek eien woorde toe en benut dit in vertaling in my taal. Indien die oorspronklike teks nie ’n vasstaande gegewe is nie, omdat daar soveel lesers en assosiasies is, is dit moontlik? En is daar ’n morele rede, ’n verklaring? Ek kan dit ook in ’n ander taal, ’n ander soort kode en met ander assosiasies laat tril in ander frekwensies.”
Om dit jou eie én anders te maak
’n Mens moet ook kan teruggaan na ’n strenger onderbou om al die nuanses te kan hanteer, het Breytenbach gesê. “Ek dink nie ek kan dit meer met Nederlands doen nie, alhoewel ek die woorde verstaan, en dit tot ’n mate kan nadoen. As ek dit oor twee of drie sinne sou doen, sou mense onmiddellik weet dit is nie ’n Nederlander wat praat nie. Maar ek kom al hoe meer agter daar is so baie goed wat daarmee saamgaan, daar is so baie ongesegde verwysings wat loskom wat nooit eers gesê hoef te word nie, wat vanselfsprekend saambeweeg, saampraat met daardie karige woorde wat op die papier verskyn.”
Vertaling is “sowel eie maak as anders maak”, het Du Toit gesê.
’n Mens kan dinge in Afrikaans doen “wat jy nie maklik vanselfsprekend in ander tale sou kan doen nie”, het Breytenbach gesê. Hy het dit soos volg verduidelik: “As ek nou sê ‘ek maak dit my eie’, is dit wat eie is aan die taal. En as ek dan bietjie verder aanbeweeg na die begrip ‘eieling’ of ek maak dit anders en ek praat van ‘eielinge’ en ‘anderlinge’... Nou, vir Afrikaanssprekendes word dit onmiddellik iets waarmee julle kan beweeg, julle kan iets daarmee doen. Die voorreg van ons taal is juis dat dit uit soveel bronne put. Dis ’n taal en ’n bewussyn in wording. Die saam-mekaar-anders-maak is baie beslis ook dít. Daardie wording is nie ’n afsluitpunt nie.”
Van een taal na ’n ander beweeg
“Vat ’n mens ’n woord soos ‘vertaling’ en jy sit nog ’n a’tjie daarbinne en jy maak dit vertaaling, dan begin jy ’n ander storie dink daar,” het Breytenbach gesê. “Dis iemand wat van die een taal na ’n ander taal beweeg.” Die woord vertaling omvat ’n sekere betekenis, maar as dit vertaaler word, is dit veel taliger, dan teel dit aan, het hy verduidelik.
“Ek dink ook aan klankeffekte. Ons het nog maar net aan die begin gekom van die effek wat woorde, ritme, stemverhoging of -daling, die breuke wat ons aandui of die asem wat daardeur gesuggereer word aan ’n mens doen. Op ’n byna instinktiewe manier reik ’n mens uit na die moontlikhede van evokasie, en dit is kleure. Dit is nie betekenisse nie – betekenisse is ’n toegif daarna van wat die woord in feite sou kon beteken.”
Oor ’n gedig van Fernando Pessoa het José Saramago gesê: Hy vervang die een woord met die ander. Elke gedig wat hy skryf, is asof hy dit vir die eerste keer in sy lewe doen. Nou wat is dit wat jy probeer doen? vra Breytenbach. “Jy probeer iets vasvang. As jy verby daardie moment werk, is dit ook ’n ander manier van dig – om dit te hersien, om dit te verfyn, om bewus te wees van die implikasie van waarmee jy besig is. Ek kan nou nie meer aan my eie goed dink as ek nie hoor dat die wonderlike getoonsette weergawes daarvan saamspeel nie. Daar is iets wonderliks daaromtrent.”
Van der Hoven het op sy beurt vertel van ’n keur uit Breytenbach se gedigte wat saamgestel is deur sy Franse vertaler Georges Lory. Hy vergelyk toe werk van Breytenbach wat in Frans vertaal is en het die gebruik van verskillende woorde daarin verkennend bespreek.
’n Samevatting van die menslike kondisie
“Eksistensieel het vertaling te doen met ons menslike kondisie wat in poësie opgaan. ’n Vertaler is ’n beter digter as wat die oorspronklike vertaler is,” het Breytenbach gesê. “Hy moet ook kennis neem, nominaal, van wat die oorspronklike veronderstel is om te beteken. Hy neem iets wat miskien reeds bestaan in die oorspronklike taal en hy neem dit verder. Hy gaan daarvan iets anders maak.
“Deur al die eeue heen, in alle kulture, in alle tale, sover ons weet, op alle grafskrifte, so ver ons weet teen alle piramides uitgekerf, waar dit ook al mag wees, daar waar ’n teken is, is ons besig met die besinning van die totaal nuttelose. Dit het nog nooit verander nie. Ons het nog nooit die wêreld anders gemaak deur gedigte te skryf nie, maar terselfdertyd kon ons nog nooit oorlewe sonder gedigte nie; dis absoluut essensieel. Dis vir my ’n samevatting van die menslike kondisie – die totale, absolute nutteloosheid wat so essensieel en onontbeerlik is. Dís wat die vertaler oordra.”
Hibriditeit
T’Sjoen het gevra na die mate waarin Breytenbach dit op hom neem om te werk met vertalers van sy werk, byvoorbeeld, in Nederlands.
“Ek is maar net te bly as dit ’n eie lewe aanneem,” het Breytenbach gesê. “Ek wil verras word deur wat ek lees. Dis wonderlik om te sien, ook in ’n taal wat jy dínk jy ken.”
Oor die rol van verskillende tale in sy lewe en werk het hy by Du Toit se stelling dat ’n veeltalige skrywer noodwendig anders skryf verder aangesluit.
In Engels, byvoorbeeld, bestaan baie verskillende weergawes van sy skryfwerk, het hy gesê. “Ek dink meer organies in Afrikaans, ek dink meer basters in Afrikaans – met ander woorde meer hibried.” En hy werk “meer vanselfsprekend in verandering en meer vanselfsprekend in beweging in Afrikaans” as wat hy in enige ander taal sou.
’n Verrykende ontdekking
Die verskille tussen Breytenbach se Afrikaanse tekste en dié in byvoorbeeld Engels het Koch onder die loep geneem na aanleiding van sy eie ervaring as vertaler van Breytenbach in Pools. Drie jaar gelede, na aanleiding van Breytenbach se deelname aan die Miłosz-fees in Kraków, is ’n digbundel saamgestel. Verskeie vertalers het daaraan deelgeneem. Koch was die enigste een wat direk uit Afrikaans vertaal het terwyl die ander met Breytenbach se eie vertalings in Engels gewerk het; sy hertalings of bewerkings.
“Hulle het by my aangeklop om te hoor of hulle dit en dit goed verstaan. En toe kyk ek na die Afrikaans en daar staan ander goeters,” het Koch gesê. Op grond van daardie voorbeelde het hy tot die slotsom gekom dat Breytenbach se Engelse vertalings uit sy eie werk “eenvoudig gestel meer abstrak is; in Afrikaans is hy konkreet”.
Hy beskryf Breytenbach se Afrikaans in terme van ’n bruin vrou wat êrens in die 18de eeu in ’n kombuis staan en daardie taal vat en dit soos deeg knie, of soos groente berei of die taal bewerk soos vleis. Vir Koch was dit ’n besef en ’n baie verrykende ontdekking – hy het toe geweet watter rigting hy moet inslaan met sy eie vertalings, naamlik “om daardie dig by die aarde, dig by die grond van Afrikaans in Pools te bewaar”.
Koch meen Breytenbach laat hom in die Engels dikwels lei deur die klanke; “verlei, nie mislei nie”. Hy verwys ook dan na hoe belangrik die klankstruktuur van die gedig is. “En dan is die oplossings nie in konkrete situasies nie, maar jy weet watter strategieë jy moet toepas om op verskillende maniere te let op die ooreenstemmende klankstrukture in sy vertaling.”
Dit maak ook ’n verskil as ’n mens ’n skrywer vertaal in ’n taal wat hy self ook skryf en praat, het Du Toit bygevoeg.
“Alles van waarde is weerloos”
Breytenbach het terugverwys na T’Sjoen se vraag en gesê hy dink sy werke vertaal waarskynlik ’n bietjie beter in ’n Nederlands van die vyftigerjare. “Ek praat nou nie van die taalgebruik nie, ek praat van die manier waarop mense verse visueel op ’n bladsy georden het. Ek praat van die Vijftiger-beweging wat byvoorbeeld dikwels sonder hoofletters geskryf het. Dis natuurlik ook iets wat ’n mens by EE Cummings sien.
“Dit lyk op die oog af asof dit beter sou kon vertaal in ’n soortgelyke, amper informele praatmanier van doen, amper onbewustelik. Dis nou voorafgaande aan rap – ’n soort bewussynstroom waar die aaneenvoeg van woorde, gedagtes en sinne byna ’n onbewuste niegestruktureerde intellektuele proses is. Maar nou kom mens op iets anders af: As iemand musiek maak en hy wil ook skryf, moet jy dit nie onderskat nie. Jy moet ’n ding ook kan lees asof dit ’n prentjie is. Jy moet dit ook byvoorbeeld kan lees asof dit ’n deuntjie is.”
Breytenbach het verwys na die groot Vijftiger-digterskilder Lucebert se bekende reël: “Alles van waarde is weerloos.”
T’Sjoen interpreteer die “weerloos” nie as negatief as “nie in staat om jou te verset nie”, maar as ’n uitdrukking van “fragiliteit, van kwesbaarheid”. En in dié opsig is dit selfs heel ambivalent, het hy bevind. “En vra ek my af: Hoe sal jy dit in Afrikaans vertaal?”
Breytenbach stel ’n koppelteken tussen die “weer” en “loos” voor “sodat dit die sin kry van jy kan dit nie herhaal nie”.
Vondste van daaglikse vertaling
Vir Breytenbach gaan vertaling oor bewuswording.
“Ek dink dit gaan eintlik oor elke persoon wat werklik te doen het met vrae rondom bewuswording – en dit gaan al hoe meer die geval wees. As jy eers op daardie pad geloop het, kan jy nie terugdraai nie. Alles van waarde is ook onomkeerbaar.
“Ons wêreld word al hoe meer kompleks, meer chaoties op baie maniere. Dan gaan dit beteken dat ons waarskynlik ook ’n sekere aantal dissiplines ook ’n bietjie meer gereeld gaan moet toepas en een van hulle sou moes wees, dink ek, dat beide vertalers en digters, en die digters wat nie vertalers is nie en wat behoort te wees, elke dag minstens ’n stukkie vertaalwerk moet doen. Dis ’n morele higiëne en ’n bewussynshigiëne om elke dag – al is dit ’n kwartyn of ’n driereëlige gediggie – te vertaal. Om dit te kan doen, is ’n geweldige goeie ding.”
Hy sou graag wou sien dat hierdie praktyk in skole gevestig word, want dit bring ’n mens nader aan taal, “ongeag of jy later van tyd dan ’n wetenskaplike of ’n Fellini gaan word”.
“Dis ’n konkrete voorbeeld van naderkom aan taal, die implikasies van woorde, die geskiedenis van woorde, hoe ander mense dit ervaar én hoe dit seermaak. Dit kan wondere verrig vir ’n groter bewuswording van die omgewing, van hoe klanke meespeel om ’n omgewing te vorm, van wat verbeelding behels, van waarom herinnering belangrik is en hoekom dit ook vals is, en tegelykertyd, watter waarde dit het en watter waarde dit op die ou end miskien nie het nie.”
Buro: MvH