In die onseker tyd van die uitdyende pandemie het Breytenbach in die opeenvolging van grendeltye aanhou skep – die skildery en gedigte het in Katalonië, Parys en Seepunt ontstaan ... Breytenbach verwys in die flapteks van Hokhokaai Fragmente na die nuwe boek as “volksboekie of traktaat” en skryf dit bevat geen wysheid nie, slegs ’n gedeeltelike en soms donker weerspieëling van ingeperkte tyd. Maar ook hierdie woorde staan op karton geskryf.
Breyten Breytenbach was onlangs op Wellington om oor sy onlangs voltooide skilderye en nuwe bundel gedigte te gesels. Die uitstalling heet Skeursels en die bundel, wat benewens gedigte, afdrukke van werke op die uitstalling bevat, heet Hokhokaai Fragmente. Willem de Vries berig oor die virtuele bekendstelling daarvan.
Wellington en die Breytenbach Sentrum op die dorp lê Breytenbach na aan die hart. Die digter en skilder het hier vroeër saam met sy ouers, jongste broer en suster gewoon en vandag is dit ’n volwaardige kunste- en gemeenskapsentrum en ’n voorbeeld van wat betrokke, kundige bestuur vir kunste op ’n dorp kan beteken. Breytenbach beskou die nuwe werke en waar hy dit bekendstel as “die bevestiging van ’n verbintenis aan die streek se mense en geskiedenisse en aan die soeke wat ons onderling verbind”.
Breytenbach bied die werke in Skeursels waarin hy saam met die visuele kunstenaar Kobus Coetzee uitstal en die bundel Hokhokaai Fragmente aan as ’n manier om die Woordmakersvallei-projek van die sentrum te versterk. Hy doen dit ook ten bate van die Grevilleas-steunfonds waarmee geld ingesamel word vir ’n bestendige voortbestaan van die sentrum.
Ruimte vir aangee
Vir Breytenbach is die sentrum ’n kruispunt van wedersydse omvorming en skeppende diensbaarheid. “Dit is nooit ‘ons’ s’n nie, al bly dit ook herinnering aan behoort. Dis ’n ruimte van aangee waar ervarings en insigte en vaardighede gedeel en waar van mekaar geleer kan word,” het Breytenbach geskryf.
Die kurator van Skeursels, die skilder en digter Anne-Ghrett Erasmus, het te kenne gegee dat sy nie kon droom dat hulle in hierdie tyd andersins só ’n uitstalling sou kon bymekaar kry en ten toon stel nie.
“Al is daar ook nie noodwendig die meeste aanklank of die meeste begrip van wat mens probeer doen in hierdie omgewing nie – ek praat in die algemeen – dan nogtans is daar baie spesifieke redes hoekom ’n mens dit wat jy doen en dit wat vir jou die moeite werd is om te doen wil terugbring om te wys vir jou eie mense. Dit is nou die geval hier,” het Breytenbach gesê.
Voortsetting van betrokkenheid
In die onseker tyd van die uitdyende pandemie het Breytenbach in die opeenvolging van grendeltye aanhou skep – die skildery en gedigte het in Katalonië, Parys en Seepunt ontstaan.
Vir Breytenbach skakel die uitstalling en nuwe bundel, asook Woordmakersvallei in by allerlei ander projekte waarmee hy oor die jare besig was, waaronder die Gorée-instituut, verskeie internasionale digtersfeeste soos die Dansende Digtersfees op Spier naby Stellenbosch, en ander georganiseerde aktiwiteite waaraan hy kon deelneem. Op kreatiewe wyse sluit sy benadering van die uitstalling en boek aan by NP Van Wyk Louw se gedagte aan voortbestaan in geregtigheid.
“Oor die jare het hierdie idee by my al hoe sterker geword dat as daar ’n staanplek is vorentoe, as daar ’n rasioneel is wat dit vir jou maklik maak of vir jou moontlik maak om te kan bly voortbestaan hier in die Wes-Kaap, hoe ons dit ook al wil noem – want ek dink dit sluit in die Noord-Kaap, Namakwaland, Bokkeveld en al die wonderlike plekke – dan kan dit alleen wees omdat ons bereid is om hierdie hele ongelooflik pynlike en gekompliseerde begrippe rondom bestaansreg, identiteit en verantwoordelikheid vir ander – al hierdie goed – daadwerklik deel van te wees en deel te neem daaraan.”
Hy het die belangrikheid beklemtoon van die soort organiese manier van aangee wat die sentrum voorstaan. Hy wil graag sien dat dit bestaande grense en beperkende persepsies oorstyg.
“Die enigste manier van oorlewe, is as ons by ’n punt kan kom waar hierdie plekke, hierdie sentrums – hy gaan verskillend wees van dorp tot dorp, en plek tot plek, van plaas tot plaas – gaan bou op wat werklikwaar inherent en intiem deel daarvan is. En wat gedeel word en wat gebruik word, wat beskikbaar gemaak word vir almal wat in daardie area aktief is.”
Sy klem op aangee deur die aktiwiteite, opleiding en geleenthede wat daar by die sentrum is, ag hy “’n metode en ’n noodsááklike manier” in hierdie verband. “Dis ’n etos van aangee dat ander mense ook daaraan kan deel; jy kan net soveel leer van die ander mense as wat hulle van jou kan leer.
“Ons het iets om aan te gee. Dis nie altyd mooi nie. Dis nie altyd lekker nie. En dikwels is dit met verwysings van vreemde plekke wat mens nog nooit aan gedink het of ooit van gehoor het nie. Ek het ’n stukkie Goya hierin en ek het ook ’n stukkie Dürer – die goggas (hy verwys na besonderhede in van die skilderye) is natuurlik van Dürer. Of wat ook al. Dit maak nie saak nie. Dit behoort nie uitheems te wees nie. Dis alles déél van ons.
“Ons enigste werklike voorvereiste om deel te kan word en gesien te wees as deel te wees – aktief, veranderend en omvormend deel te wees van wat om ons aangaan – is dat ons beweeg van die lokale, met ander woorde dit wat ons werklikwaar hiér het, na die globale of na die universele.”
Dit help nie ons dink aan burgerskap of die nasiestaat of self die hele kontinent van Afrika nie, het hy gesê. “Dit begin nie van bo nie. Daar kan nie eenvormigheid wees nie. En as ons dit kan uitwerk, as ons daardie spanningsveld kan uitwerk tussen die lokale en die universele, tussen wat eie is en dit wat gedeel word op ’n groter vlak, dán ...”
Belegging in groei
Erasmus het genoem dat Breytenbach die sentrum se visie en missie geskryf het. Die sentrum word bedryf volgens die insig dat kultuur dien as bousteen vir volledige menswees, en dit sluit alle kulture en kultuurgoedere in. Vryheid van spraak word vooropgestel en uitnemendheid dien as bemagtigingsinstrument. Sy het haar dank teenoor Breytenbach uitgespreek vir die wyse waarop hy aangee. (“Hierdie is nie ’n plek van opgee of afgee of weggee nie; dit gaan oor aangee,” lees ’n mens hier.) Sy beskou die uitstalling van sy werk en dié van Coetzee as “’n aangee, aanmoediging” en “die begin van groei”.
Sy het genoem dat iets soortgelyks beoog word vir jong digters as deel van die Woordmakersvallei. Dit blyk iets te wees waaraan Breytenbach aandag skenk as een van verskeie projekte waarmee hy besig is. Hy het gedagtes gedeel oor die soort vrae wat deurentyd ter sprake is vir hierdie en dergelike kultuurprojekte.
“Gebeur dit op die vlak van munisipale denke? Gebeur dit op die vlak van gemeenskapsdenke? Gebeur dit op die vlak van die mense wat aktief betrokke is by so ’n plek soos die sentrum hier? Waar word die besluite gemaak? Waar word die oriëntasie gegee? Waar word die strategie uitgewerk en so aan?
“Maar goed, dit kan gebeur en dit behoort te gebeur. En dit behoort miskien op ’n beter manier te gebeur. Maar een van die bestanddele van daardie besluitnemingproses moet wees: Wat is dit wat eie is hier, aan hierdie plek?”
Hy het die gedagte aan die Woordmakersvallei aan die hand van ’n gegewe uit die geskiedenis toegelig. “Nou goed, Wagenmakersvallei, die eerste groot ... hoe sal mens sê? ... die eerste groot vasmaakplek buite die Kaap, as jy nou dieper die binneland in wil beweeg. Waar word jou goeie waens gemaak en so? En daaruit voortvloeiend, waar is jou goeie, wonderlike opleidingsinstansies? En as ’n mens hierdie sentrum sou kon laat gebruik as ’n vanselfsprekende – sonder enige aansitterigheid, sonder enige bybedoelings – ontmoeting- en uitreikingsplek, dan nóg, natuurlik, moet mens ’n struktuur hê. Dan nóg moet jy mense hê wat die ding aan die gang kan hou. Wat hom op die spoor kan hou. En dit gebeur nie vanself nie.
“Dan kom jy by die minder aangename gedeeltes van waar moet die fondse vandaan kom. Wie moet dit doen? Ek dink as ’n mens iets doen soos ons nou hier doen – soos wat ons nou gelukkig is om nou hier te kan doen – dan behoort dit al ’n aantal mense attent te maak of sensitief te maak vir die feit dis nie ’n kwessie van liefdadigheid nie ... As jy nie bereid is om te gee nie en neer te sit wat jy het nie, nou waarvoor is jy dan hier?”
Erasmus was nuuskierig oor die werke op die uitstalling, dalk veral omdat Breytenbach gesê het hy praat nie oor sy kuns nie. Hy gee dan ook nie toe aan ’n subtiele versoek om iets van sy werk te verduidelik nie (en het later vir Coetzee raad gegee oor werkwyse en bedoeling in skilderkuns).
Op die vraag of die kakkerlak in van die werke ’n Franse een is, het hy gesê dis die Katalaanse kakkerlak. “En ek dink hy sit ook aan die agterkant. Hoekom het hy daar beland en hoekom? Oorspronklik organies, nè? Die feit dat sy pootjies gevou is. Terselfdertyd is dit ook nie net meer ’n insek nie. Hoe hy dan inpas by die persoon (op die skildery) net soos die blaar daar bo, wel dis ’n lang storie ...
“Die kakkerlak is nog altyd daar. Nog altyd in Katalonië. Hy lewe deesdae min of meer gefikseer met ’n bietjie verf om hom te behou, om te bewaar op ’n klip. Dis waar hy nou is.
“Daarna het daar een opgedaag in Seepunt, sommer so vanself. En hy is ook al weer deel van ’n ander kunswerk. En dan liewerste ’n kakkerlak as die een of ander vreemde effigie of ’n simbool, ’n beer of ’n wolf of ’n hond of wat ook al. Dis al wat ek voorlopig daaroor kan sê.”
’n Uitdagende uitstalling van gehalte
Die werke het in Breytenbach se woorde “’n voorkant en agterkant, ‘kykkant’ en ‘agternakykkant’”. Die uitstalling het Erasmus dus voor bepaalde uitdagings gestel. Dit sou nie deug om al die werke aan mure te hang nie, aangesien die skilderye dan net ten dele gesien kan word.
“Die recto-verso-manier van dinge doen, die voor, die agter, dis werklik uniek,” het Erasmus opgemerk. “En ek moet ook vir jou sê, ek het lanklaas so ’n mooi uitstalling gehad, maar dit was ook een van die moeilikstes.”
Nie net is skilderwerk voor en agter op van die werke aangebring nie, daar is ook skakels tussen die werke te lees. In die bekendstellingsvideo kry ’n mens ’n indruk van die aansienlike moeite wat die uitstalling geverg het.
“Wel, ek het nou die dag daaraan gedink toe hulle kyk so na die dak,” het Breytenbach gesê. “Jy weet, hoe om daai gaatjies te maak om die goed opgehang te kry en hoe om die goed geraam te kry sodat jy alkante kan sien. Op die oomblik toe ek hulle gemaak het, het ek eerlikwaar nie gedink aan uitstal nie. Met ander woorde jy het sommer maar net aangegaan, voorkant en agterkant. Klein, groot.
“Nou begin jy ’n teorie uitwerk; en hoekom is daar ’n voorkant en ’n agterkant? En dan begin jy uitwerk wat gebeur tussen die voorkant en agterkant. As dit nie was vir die vertroue van François (Lötter) en van jou nie, dan sou dit nie gebeur het nie. Ek kan onthou toe ek jou die eerste keer daarvan vertel het, of geskryf het, dat jy baie lief was en entoesiasties gereageer het. As dit nie daarvoor was nie, dan sou ek nie daarmee voortgegaan het nie.”
Skilderkuns en poësie, tegelykertyd
In die tyd waartydens die uitstalling vorm aangeneem het, was Breytenbach aan die werk aan “die gedigte wat tegelykertyd ontstaan het, onvermydelik in daardie periode”.
“Dit was in Katalonië en Parys. Daar is ’n paar gedigte by wat miskien ook binne daardie tydvak val, maar miskien nog in Suid-Afrika geskryf is, destyds. Maar dit gaan nie buite daardie tydvak nie. En dis nooit vantevore publiseer nie. En dit is fragmentaries. Dis nie dat hulle onaf is nie, maar omdat hulle deel is van ’n deurlopende mymering om dit nou maar so te stel.”
Breytenbach het gesê hy weet die werk word in die beste moontlike hande gelaat, soos dié van Erasmus. “En wat meer kan ’n mens sê? Welkom? Geniet. Kyk weer.”
Kuns van betrokkenheid
Ná die gesprek wat Erasmus met Breytenbach gevoer het, was die twee kunstenaars wie se werke uitgestal word, aan die woord. Albei het verkennend en waarderend met mekaar gesels aan die hand van die werke wat hulle in die galery omgeef. Coetzee het sy opregte dank uitgespreek vir die geleentheid om saam met Breytenbach te kan uitstal.
“Jy sê nou dankie, maar dit moet eintlik andersom wees,” het Breytenbach gesê. “’n 150 jaar gelede was ek ook 20 jaar oud gewees. En ek dink dit het met my ook gebeur. Ek kan dit baie beslis onthou dat ’n ouer lektor by die Michaelis-kunsskool aan die Universiteit van Kaapstad my gevra het om deel te wees van ’n groepuitstalling. Ons het mekaar nie baie goed geken nie. Ek weet ook nie of dit ’n voorreg was en of dit ’n geskenk en of dit miskien ’n vergiftigde appel was nie.
“Maar aan die ander kant, dis ’n harde storie. Jy het hierdie goed gemaak, hulle hang hier. Dis wonderlike, mooi dinge. Ons gaan nie te veel daaroor praat nie. Ek gaan nie te veel daaroor praat nie, want ek dink daar is baie kontraste in waarmee jy besig is en waarmee ek besig is. Maar ek het ’n baie sterk gevoel dat jy gaan jou eie pad loop en dat jy besig is met iets wat baie belangrik is.
“En ek voel baie sterk dat ’n jonger persoon, ’n jonger kunstenaar moet so gou moontlik die blootstelling kry aan hierdie manier van uitstal en dan verkieslik in die geselskap van ’n ouer persoon wat die kappe kan vat of die pyn kan vat. En wat waarskynlik ook gaan wegloop met die brood en met die olywe, met die kaas en wat hy ook al kan steel!
“Maar dit is werklikwaar vir my ’n voorreg en dis ’n goeie ding. Of dit ’n goeie ding is vir jou of dit jou op die duur gaan help of nie, dis vir jou om self te besluit. En die bedoeling is nie om ... ek kan nie vir jou iets maak wat jy nie self doen nie. Net soos jy ook nie vir my iets kan maak wat ek self kon doen nie. Maar ek dink dis die blote hand uitstrek en sê: ‘Oukei, kom. Klim op die wa, en dis ’n moerse moeilike wa en dis nie ’n baie lekker rit nie. Maar jy kan nie weer afklim nie.”
“Dis ’n groot hand wat my opgehelp het,” het Coetzee gesê.
Oor vorm en inhoud
“Ek wil jou so ’n bietjie-bietjie vra oor jou werk, tog. Wat my opval, is daar is ’n baie sterk grafiese element, baie sterk lineêr. Maar nie nét lineêr nie. Byvoorbeeld daardie tekening van jou pa wat vir my natuurlik baie, baie diep raak, want jy weet wat die band was tussen jou pa en my. [Breytenbach verwys hier na die letterkundige Ampie Coetzee met wie hy baie jare lank baie goed bevriend was en wat in Oktober verlede jaar oorlede is.]
“En dit is nie hoekom ek vir jou gevra het nie. Dit is absoluut nie hoekom nie; ek sou jou probeer nadertrek het al was jou naam ook nou Piet Pompies. Dit gaan nie daaroor nie. Die feit dat dit wel so is, is vir my natuurlik ’n ekstra wonderlike, diep gevoel van bevrediging. Nie net teenoor jou nie, maar veral ook teenoor Ampie.
“Ek het die voorreg gekry om iets te herken wat hy van geweet het en wat vir hom sou bly gemaak het, ook die feit dat dit deur ander mense herken word.”
Breytenbach het hom gevra hoe hy te werk gegaan het vir die spesifieke werk, ook wat betref sy tegniek in ander werke op die uitstalling. “Jy’t ’n agtergrond – mens kan van die ouer beelde van sê nou maar jou pa daar sien. Is dit ’n steendruk? Is dit ’n ets? Hoe’t jy dit gedruk om daardie agtergrond te kry?”
Coetzee ag dit “eintlik ’n baie eenvoudige proses”. Hy het deur fotoalbums geblaai, die beelde op die rekenaar gelaai en dit toe uitgedruk. Daarna het hy die papier geneem en ’n drukstuk daarvan gemaak met die gedrukte kant na onder gedraai.
“So jy maak ’n collage van dit wat jy nou wou hê. Dit word gesig af op die onderkant neergesit en gefotografeer?”
“Jy smeer thinners bo-oor. En dan sit jy dit deur ’n printing press.”
“En toe daarna ... dis natuurlik die tekening wat daarbo kom. Wat is dit? Houtskool?”
“Ja, dis houtskool. Ek het deur die ou foto's gegaan en dit ge-edit op die foon om soveel as moontlik lig en donker kontras daaruit te kry. En dan teken jy maar net daaroor.”
Breytenbach het niks daarteen dat ’n mens gebruik maak van allerlei hulpmiddele nie, en laat dit blyk toe hy sien dat Coetzee ook nie net daarop staatgemaak het nie. “Jy het iets daarby. Daar gebeur iets. Ek wil nie vir jou vra wat dit is nie, maar daar is iets in daardie tekening. Dis ook in die ander. Ek weet nie wat dit is nie, miskien is dit ’n besluit wat ’n mens maak. Jy wil daardie uitdrukking hê. Hierdie tekeninge, ek noem hulle maar tekeninge, is veel, veel ouer as wat jy is,” het Breytenbach gesê.
“Baie dankie. Ek weet nie wat die proses is ...”
“Ek is bly jy sê so. Ek begin nou bietjie grawe na wat aangaan wanneer jy so iets doen. Hoekom jy dit doen. En hoekom dit donkerder is by die oë en hoekom dit donkerder is by die nek. Die kontraste. Daar’s bloot formele metodes soos die bietjie lig in die kraag teenoor die donker van die baadjie, ensovoorts. Dit verstaan ’n mens. Maar daar is ook meer wat daar aangaan. Daar’s ’n lig op sy gesig wat veel meer sê. Selfs vir mense wat nie weet dis jou pa nie. En selfs mense wat oor tien jaar daarna sou kyk. Hulle gaan iets aanvoel daar. Daar’s ’n baie, baie diep verbintenis, ’n baie diep band wat daar neergelê word. Oukei, ek gaan jou nou nie in die verleentheid bring nie. Wat wou jy nog vir my gevra het?”
“Ek wou vir jou nog gevra het: Ek werk van foto’s af; kan jy dalk bietjie deel oor jou proses? Hierdie ... [Coetzee wys na een van Breytenbach se skilderye] dis ongelooflik.”
“Ek maak nogal gebruik van foto’s, maar dan meer as ’n soort van ’n nota wat ek maak,” het Breytenbach gesê. “Ek sou byvoorbeeld ’n foto neem van ’n werk waarmee ek besig is of miskien klaar gemaak het, soos daardie een. Ek het die bestaande werk in Spanje. Ek het ’n foto daarvan gemaak en ’n afdruk daarvan gemaak en dan geïnkorporeer met die nuwe werk. En dan deur inkorporering, hoe dit deel word van die nuwe werk, hoe dit omvorm word, dis natuurlik heeltemal ’n ander storie. Tot ’n groot mate, dink ek, as ek praat van ‘skeursels’, dan is dit miskien ook ’n verwysing daarna. Met ander woorde, jy skeur ’n stuk van ’n vroeëre werk en jy sit dit in ’n nuwe werk. Jy weet dis nie af gemaak nie. Dis nie volmaak nie, maar dis ’n baie organiese proses eintlik, hoe dit dan daarvandaan verder gaan.”
Breytenbach noem dat hy al ’n tyd lank besig is met ’n kleurverskuiwing in sy werk. “Jy sal sien daar kom baie geel, baie oker en baie, tot ’n mate, goud en ou goud deur, en so aan. Ek glo nie ’n mens moet te veel betekenis daaraan heg nie. Die goed word nie gemaak vir ’n simboliese betekenis nie. Die goed word gemaak vir ’n geheelervaring. Dit gaan nie betekenis hê nie, maar het dit ’n aanklank vir die persoon wat daarna kyk, soveel te beter.
“Dis maar ’n kwessie van aanvoeling. Ek weet mense teoretiseer en mense gaan dit nou toeskryf aan ’n baie weldeurdagte bedoeling om dit so te hê, maar dit is nie hoe dit gebeur nie.”
“So dis amper regtigwaar uit ’n zen-oogpunt uit,” het Coetzee gesê.
“Dit is, ja. Dit het baie ... ja, natuurlik ja. Tot ’n groot mate as gevolg van die tematiek, soos jy af en toe kan optel. Daai persoon wat in die zazen-posisie sit. Hy sit op ’n zafu. Die zafu is die swart kussinkie. Maar nou weer daar, byvoorbeeld. As jy nou kyk na die kop en die hande en dan die figuur wat op die skoot van die zenfiguur sit, dan word jy herlei na die blou koppie (in die skildery daaragter). Ek het ’n foto waarskynlik gemaak van daai werk agter teen die muur, met ander woorde daardie klein portretjie. Shadoweye noem ek dit, en het dit dan hierop oorgedra. Maar omdat die hande toe daar was, vanselfsprekend volg die res dan. Met ander woorde daar’s ’n baie organiese aaneenskakeling.
“Iets gebeur en dan dink ander mense: ‘O, maar dit het baie diep betekenis.’ Dit gaan nie daarom nie. Zen is nie diep nie. Hoegenaamd nie diep nie. Zen is maar net sit op jou gat en laat die goed gebeur. ‘Ek sit op hol en gaan myself te buite.’ Ja, waar is dáárdie skildery trouens. Is hy hier iewerste? Dis een van die grotes gewees.”
“Daai een is vir my fantasties – Veronica, nè?” wou Coetzee weet oor een van Breytenbach se ander werke.
“Ja, die Veronica.”
“Dit lyk soos Rembrandt.”
“Ja, dit het nogal eintlik op ’n baie vreemde manier ook gebeur. Ek dink nie dit was ... dit is nie die historiese verwysing wat vir my van belang is nie. Ek weet nie hoe mense gelyk het in die tyd van Rembrandt nie. Maar die manier waarop hulle aangetrek het, natuurlik. En dan die manier van kyk en die oog wat eintlik nie daar is nie. Kom ons staan ’n bietjie terug.”
Inperkingstyd
Breytenbach het die aandag gevestig op die feit dat die kunswerke ontstaan het in die tyd van inperking. “Inperking beteken tot ’n groot mate dat ’n mens intens bewus is van wat om jou aangaan, met ander woorde, die beperkings wat jou opgelê word. Byvoorbeeld die feit dat mens moet maskers dra en dan begin dit ’n gegewe word. Dit word ’n element binne jou denkwêrelde. En terselfdertyd is daar nie eintlik ’n publiek nie, daar’s nie ’n figuur na buite toe nie. Jy kan dit nie deel met ander mense nie. Dit kan nie uitgestal word nie. Dit kan nie gedeel word nie, omdat jy ingeperk is. So jy gaan maar voort en jy bou voort. En tot ’n mate word dit dan ’n selfgesprek. Nie net ’n interne gesprek nie, maar dit word ’n selfgesprek. En van daar, tot ’n groot mate, kom ook die idee van recto-verso, voorkant en agterkant.
“In baie van die gevalle weet jy nie wat is voorkant en wat is agterkant nie, dis maar vir jou om te besluit. Maar dan is ’n ou besig met ’n ding en dan dink jy, maar ek wil hierdie gesprek verder voer. Daar kom ’n refleksie op wat ek gedoen het of ’n bygedagte of ’n paadjie wat afdraai en dan gaan jy voortwerk aan die ander kant. Omdat dit die ‘ander kant’ is, begin ander dinge ’n rol speel, soos die tekstuur van waarmee jy werk, en die feit dat jy dit dan probeer aanmekaar sit. Dis maar soos dit gebeur het.”
Die rol van verduideliking
Nog iets wat Breytenbach vir Coetzee aangegee het, was om nie te probeer verduidelik wat dit is wat hy doen nie. “Want jy’s die laaste een wat weet waarmee jy besig is. Die manier waaróp jy daarmee besig is, kan jy nie oordra nie. En wat jy wel kan oordra, is tweedeklas of derdeklas, jy weet, afgewaterde kommentaar. En dan praat jy ander mense na die mond.
“’n Mens kan so aangaan: Dit en daai ... dis nonsens. Los dit! Moenie dat die mense dink jy is sommer misterieus ter wille daarvan nie. Dis nie dít nie. As iemand nie bereid is om ’n ding te aanvaar soos wat jy dit géé nie, waarom doen jy dit dan? Jy gee dit soos die werk daar is. En jy gee die beste wat jy kan op daardie oomblik, wat die meeste, intiemste van jou van belang is vir jou op daardie oomblik. Toe jy daardie tekeninge gemaak het, byvoorbeeld, en jou pa twee keer (daai een in die hoek is ook jou pa eintlik, dink ek), dan gee jy eintlik iets aan wat ander mense nie van hoef te weet nie. Dis baie intiem.
“Ek het ’n skildery op my ateljee in Parys met die titel Selfportret as Ampie John Coetzee. Met ander woorde ek dink daar is iets generies, maar dis nie net dit nie, daar’s dinge wat ooreenkom. Jou pa was besig met naspoor en navorsing van wat dit beteken om in hierdie land te wees op hierdie tyd, onder hierdie maan met hierdie berge. Net soos ou JM Coetzee op sy manier ook besig is.”
Gebundelde skilderye
Breytenbach het die hoogste agting uitgespreek vir die werk van Alida Potgieter, “’n totaal wonderlike mens” en iemand wat hy “2 000 persent vertrou” en aan wie se aanbevelings hy ewe veel waarde heg. Sy was jare lank sy uitgewer by Human & Rousseau en het meegewerk aan hierdie publikasie van die Pretoriase uitgewer Hond.
Benewens Potgieter was ook die akademikus en Frans-kenner Catherine du Toit by die boek betrokke. Breytenbach het ook aan Erasmus vertel dat hy bly is Du Toit was ook by die boek betrokke “om ’n soort van ’n toesig te hou, en ek vertrou haar instinktief; en dan natuurlik Hond se Daniël du Plessis. En ek het vertroue ook gehad met hul werk wat ek vantevore gesien het, dit waarmee hulle besig was. Dit kan nie anders nie, dit moet mooi wees. So ek wil vir hulle dankie sê.”
’n Skeppende onsekerheid
Met die gedig “(om die maan in ’n net van die son te probeer vang)” het Breytenbach sy gesprek ingelei met Du Toit in die Digterstuin van die sentrum waarop die galery uitkyk. Du Toit wou graag by hom hoor oor die tydperk waarin hy die gedigte bymekaar gebring het, maar eers wou sy meer weet oor die titel.
“Die eerste woord, ‘hok’, hierdie soort van stameling van die ‘hokhok’ asof daar ’n onsekerheid is, in elk geval ’n onvoltooiing. Terselfdertyd laat dit my ook dink aan my ouma en die manier wat sy op die plaas in die Boesmanland in die aand die hoenders geroep het ‘Hok-hok-hok-hok-hok-hok!’ So daar is vir my ook ’n idee van ...”
“... geborgenheid,” sê Breytenbach.
“Ja, van geborgenheid, van terugkeer, van huis toe kom, van beskerming.”
Hy het haar gelyk gegee en bygevoeg dat daarin ook vir hom ander verwysings is. “Dis interessant, ek tel op daar word baie verwys na die informele ‘kaia’ soos wat ons in die ou dae sou gesê het, in die sakkieskampe en die blikkiesdorpe as ‘hokke’; iemand bly in sy ‘hok’. ‘Dis my hok.’ Die mense wat regtigwaar – en daar’s miljoene van hulle, nie net hier nie maar orals in Afrika en orals in die wêreld al hoe meer so – wat op ’n manier ook moet inkom by die veranderinge waarvan jy nou gepraat het. Die veranderende omstandighede. Ek dink daai mense het tog baie sterk die gevoel dat elkeen in sy of haar hok bly. Die begrip van onsekerheid. Die begrip van ’n skeppende onsekerheid. Die begrip van laat gaan om anders te word. Wetende dat jy miskien laat gaan van vertroude vashouplekke, vertroude sekerhede van die hok, maar dat jy nou gedwing word om te hokaai binne daardie hok. Jy kan nie nou voorlopig verder beweeg nie.
“Dit is natuurlik die verwysing na die tye wat ons nou belewe, die inperking, die insperring en so aan. Wat baie, baie swaar op ’n mens weeg, veral in Europa. Hier is dit nog nie tot dieselfde mate gevoel en ook nie elders in Afrika nie. Mense is nie so aan bande gelê nie. Maar in Europa was dit baie sterk so gewees.”
Dit het Du Toit laat dink aan onder meer ’n Spaanse aanhaling in die boek, oor ’n voël wat in ’n kou gebore is en wat dink dat dit ’n verlies van vryheid is om te vlieg. (“Los pájaros nacidos en jaula creen que volar es una enfermedad”, ’n aanhaling van Jodorowsky by die gedig “(nou se tyd)”.)
Gesamentlik anders word
Dit val Breytenbach op in hoe ’n mate “hierdie hele periode van Covidianus, die tyd van die virus”, gekenmerk word deur ’n gevoel van “veel meer te weet van mekaar, ons is deel van een mensdom”.
“Daar’s ’n voortlopendheid, ’n voortdurendheid, daar’s ’n deurgang; skielik weet ons dit veel beter as vantevore; die wêreld het baie kleiner geword en terselfdertyd daarom heeltemal afgesonder geword. Miskien heeltemal verenkeld word. En ek weet nou al reeds my nie-saamstem-met-jou-nie maak dat ek alreeds ’n bietjie anders gaan dink oor die saak. Net soos jy waarskynlik ook anders gaan doen.
“Dit beteken nog nie ons gaan saamsmelt nie, dit beteken nog nie ons gaan een word nie, maar dit beteken ons is gesamentlik besig om anders te word,” verduidelik Breytenbach.
“Dis wat ek bedoel met ‘saam mekaar anders maak’. Dit kan alleen geskied in ’n omgewing soos wat ons hopelik hier probeer op die been bring, wat oral in die wêreld behoort te gebeur, ’n omgewing, al is ons hoe tydelik en hoe beperk miskien in die ruimte waarbinne hierdie verdraagsaamheid van mekaar kan bestaan,” het hy gesê.
Du Toit had dit oor “hierdie deel wees van alles, die kompleksiteit van iets wat terselfdertyd ’n weerkaatsing is van die geheel, en ook heeltemal presies homself en hom dan beskikbaar stel om te verbind met alles wat daarbuite is ...” Dit is vir haar “iets wat nogal in hierdie bundel sterk saamvloei en gebind word op ’n manier deur stilte”. “Ek dink van wat jy netnou genoem het, weerklink ook in die aanhaling van John Berger wat die bundel oopmaak en oopsluit: ‘Poetry can repair no loss but it defies the space which separates.’ En dis eintlik presies waarvan ons nou net gepraat het, dat jy die ‘separation’ moet hê om die ‘space’ te hê wat oorbrug kan word.”
“En jy moet bewus wees daarvan dat wat jy eintlik van praat, is ’n proses, is die asemhaling van bewuswording,” het Breytenbach op gewys. “Jy is voortdurend, of dit nou vir jou ’n voorreg is en of dit vir jou ’n vloek is, maar jy’s voortdurend intens bewus van jy gaan deur die geledinge en die versperrings en die ontdekkings en op die sypaadjies en dan weer die hoofpad en weer die N-so en dan weer die stilte van bewuswording.”
Op die keper beskou is “bewuswording” vir hom ’n veel ryker konsep as “bewussyn”; en “gewaarwording” miskien nog meer so as “bewuswording”. “Dit gaan oor die aanvoeling, byna soos deur ’n skerm, soos deur ’n vlies van wat om jou gebeur en waarvan jy deel is. En ek dink dit is miskien ontstellend, want dit beteken onder andere ons moet alles herformuleer, byvoorbeeld die begrip van wat is ‘rede’ nou? Wat is helderheid dan? As ek dan nie meer logies kan redeneer en helder kan dink nie, dan is daar mos geen verskil tussen die onredelike en die sogenaamde waansinnige en wat ons beskou as die redelike mense as mense wat nie mal is nie. Dis arbitrêr, natuurlik.”
’n Kreoolse taal, ’n omvormingstaal
“Ons voëlvrytaal het vir my so verskriklik veel waarde. En dis hoekom ek so verskriklik ongelukkig is oor die sogenaamde taaldebat, want hy word heeltemal uit verband geruk. Dit gaan miskien ook oor die onderliggende argumente wat na vore kom wanneer daaroor gepraat word, maar ons voëlvrytaal is juis ’n intense bewus-wees van die beperking van táál. Van práát. Van begrippe. Ons weet mos. En jy het nie boekgeleerdheid daarvoor nodig nie. Ons hoor dit elke dag om ons. Ons is weer terug by ‘hok’, byvoorbeeld. Of die ‘hokaai’. Hokáái! Hoekom? Waar kom dit vandaan? Wat beteken dit? Praat jy dieretaal? Hoekom sou die diere dit beter verstaan as: ‘Hei! Staan stil!’?” Hoekom word dit ‘hokaai’? En hoe kom dit om vir mekaar te sê om te ‘hokaai’? Jy’s my hokaaiplek. Sien, en dis daai intense ... ons het ’n kreoolse taal, ons het ’n omvormingstaal. Ons sê nie dat nie alle tale so is nie. Natuurlik is dit so. Hulle het miskien ander aspekte wat nog sterker is as hierdie een. Maar hierdie ene wat deel is van ons historiese verdoemenis om ánders te word, as ons wil wees, moet ons voltyds, of ons wil of te not betrokke bly in hierdie proses van verandering.”
Du Toit het “(op soek na ’n plek van opeindigingsbegin)” voorgelees en genoem dat wat vir haar wonderlik is aan die gedig, woorde is soos “oneindedeinende stiltes”, woorde wat sy nog nooit gehoor het nie maar waarvan sy outomaties weet wat dit beteken. Ook die herhalings wat amper soos eggo’s werk. “Amper soos eggo’s in ’n stil huis waarby jy instap en die idee dat dit die stilte is van die mense se afwesigheid, die niéteenwoordigheid, die stilte van die mense wat nie meer daar is nie. Wat die plek en die betekenis daarvan belewe. Sodat ons daarin kan wees.”
Wat ’n gedig kan wees
Breytenbach het gesê terwyl sy die gedig gelees het, het hy gewonder wat uiteindelik die konsep is van wat ons ’n gedig noem.
“Ek wil nie te veel daaraan raak nie, want daar is party dinge wat ’n mens eintlik wil beskerm dat dit nie ook vernietig word nie. Dat dit nie ook misbruik word nie. En dan is die gebruik van dit wat ons ’n gedig noem so wyd soos die Here se genade of die Here se wraak. Hy loop die hele wêreld vol. Ek meen daar is wonderlike en allerlei soorte van gedigte, maar die kern ...? Wat is die kérn? Daar’s iets daar van die enkelstem wat ’n saamvatting is van al die stemme van haar tyd en haar omgewing en haar agtergrond. Veral dié wat in die stiltes verdwyn het. Daai stem wat uiting probeer gee aan gewaarwordinge binne hierdie omgewing, binne hierdie moment, hierdie tyd en omgewing soos dit nou bestaan – wetende dat dit dit nie kan besweer nie, maar wetende ook daar’s geen manier om binne dit te bestaan sonder om te probeer om dit te besweer nie.”
Hy verduidelik die krag van poësie oor taalgrense heen aan die hand van ’n digter soos Magmoed Darwisj, of Ko Un, ’n Koreaanse digter. Laasgenoemde noem hy “’n wonderlike, wonderlike vergestalting daarvan”. “Ek ken nie ’n enkele woord Koreaans nie, maar hy kon ’n gedig lees en jy sou sweer jy weet waarvan hy praat. Jy beweeg saam met hom. Jy is daai mens wat deur hom gedra word, die stem. Skielik is jy deel van die mensdom om dit so te sê. Dis net die gedig wat dit moontlik gemaak het.”
Sin vir die konkrete
Oor sy skilderye, soos oor die poësie, het hy gesê ’n mens bestaan nie in ’n lugleegte nie. “Jy sal oplet baie daarvan het te doen met ’n in gesprek tree met baie konkrete, lukrake elemente wat jy sommer daar byderhand gehad het. Die een kleur lei na ’n ander kleur. Daar is nie teorie daarágter nie. Daar’s nie ’n bedoeling nie. Dit gaan nie ’n boodskap oordra nie. Indien dit ’n boodskap oordra, dan is dit omdat die hele mens en sy hele doen ’n boodskap op sigself is.
“Maar dit is konkréte goed – daardie kakkerlakkie wat vanoggend weer sy opwagting gemaak het – hy was letterlik net op ’n sekere stadium daar gewees. En hy lê daar in my ateljee in Katalonië en dan kyk ek na hom en ek sê: Wat wil jy nou eintlik vir my sê? Moet ek nou gaan soek na jou maats? Moet ek julle almal doodmaak? Want dis wat veronderstel is om te gebeur. Ek is nie veronderstel om oorgegee te word aan die kakkerlakke nie. Daar is ook nie baie kakkerlakke nie. Nou waar het hy of sy dan nou vandaan gekom? Beteken dit sy’s ’n boodskapper? Ek dink nie so nie. Of miskien tog wel.
“So die gedig is dít: die uitdrukking, die tot stand bring van stilte wat ’n onmoontlike konsep is en ’n onmoontlike onderneming is en waarsonder jy nie kan bestaan nie. Dis wat ek dink Berger tot ’n mate sê. Die gedig los niks op nie. Hy los nie die teenstrydighede op nie. Hy maak jou intens bewus van dit wat tussen jou en daai onoplosbaarheid lê. En dit op sigself is dan om deel te word van die onoplosbare of ’n benadering om kennis te neem van die struktuur, iets wat ’n mens baie sterk geleer word in sê nou maar Oosterse vorme van meditasie.
“Jy word intens bewus van die konkrete teksture om jou, of dit nou asemhaling is – in jou en om jou – juis dit. Dit wat in jou is, is om jou. As jy ophou asemhaal, dan’s jy in jou moer. Maar jy kan ook nie net asemhaal sonder om te weet wat dit is wat jy inneem nie, wat jy ook weer uitblaas nie.”
Breytenbach en Du Toit het saam uit die gedig “(die maandans)” voorgelees en daarna het Breytenbach afgesluit met “(om die ek te vang)”, verdere gedigte uit Hokhokaai Fragmente.
Jare gelede in die Vereniging vir Visuele Kunste in Kaapstad was daar ook ’n uitstalling van Breytenbach se kunswerke te sien. Werke daar wat die meeste opgeval het, was die sorgvuldige skilderkuns wat op karton aangebring was. Breytenbach verwys in die flapteks van Hokhokaai Fragmente na die nuwe boek as “volksboekie of traktaat” en skryf dit bevat geen wysheid nie, slegs ’n gedeeltelike en soms donker weerspieëling van ingeperkte tyd. Maar ook hierdie woorde staan op karton geskryf.
- Skeursels duur tot 8 Augustus in die Breytenbach-galery. Besigtig die werke en pryse hier. Bestel Hokhokaai Fragmente by François Lötter by francois@breytenbachsentrum.co.za teen R450 per eksemplaar, asook R85 vir posgeld in Suid-Afrika.