Brics-beraad jaag Suid-Afrikaanse belastingbetalers miljoene uit die sak 

  • 0

Die onlangse Brics-beraad, wat gedurende Augustus in Suid-Afrika gehou is, het die Suid-Afrikaanse belastingbetalers byna R200 miljoen uit die sak gejaag.

’n Parlementêre vraag wat deur die Demokratiese Alliansie (DA) aan Naledi Pandor gestel is, het aan die lig gebring dat haar Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (Dirco) ’n verbysterende R104 350 405 bestee het om as gasheer vir die driedaagse Brics-beraad op te tree. Die DA sê in ’n verklaring dit is bykomend tot die R75 miljoen wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bestee het om deelnemers by die beraad te beskerm, ten spyte daarvan dat die meeste internasionale afvaardigings deur hul onderskeie nasionale veiligheidsagentskappe vergesel is.

Die DA-parlementslid Emma Powel wou van Pandor weet of haar departement nie in staat was om ’n besliste antwoord te verskaf aangaande die totale koste vir die aanbieding van die beraad nie. Dit was na aanleiding van ’n vorige vraag waarin Pandor verklaar het dat haar departement nie in staat is om die nodige inligting te verskaf nie, omdat die fakture van die verskaffers wat aangestel is, nog uitstaande was.

Powel sê hierdie groteske uitgawe van nagenoeg R180 miljoen is ’n skop in die tande vir gewone Suid-Afrikaners wat hul in ’n land met een van die hoogste misdaad- en werkloosheidsyfers ter wêreld bevind.

“Ons weet nou hierdie miljoene wat aan ’n gesprekswinkel bestee is, kon eerder bestee gewees het om die verlammende lewenskostekrisis waarmee Suid-Afrikaners tans worstel, aan te spreek.”

Die DA sê gegewe die afwesigheid van ’n enkele Brics-handelsooreenkoms, is dit twyfelagtig of Suid-Afrika enige tasbare ekonomiese voordeel uit “hierdie toenemend onheilige alliansie” kan trek.

Volgens Powel kan Suid-Afrika se voortgesette verbintenis met die groeiende Brics-blok groter nadele as voordele vir die land inhou.

Sy het onder meer verwys na die feit dat die groter Brics-blok nou ook teokratiese diktature soos Iran gaan insluit. Die DA vrees dit kan bestaande verhoudings met van Suid-Afrika se grootste handelsvennote in die Weste in gevaar stel.

Sowat die helfte van die wêreld se bevolking sal van volgende jaar in die internasionale Brics-forum verteenwoordig word. Dit volg nadat leiers van die Brics-groep besluit het om nog ses lande uit te nooi om by hul alliansie aan te sluit.

Argentinië, Egipte, Ethiopië, Iran, Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate is almal genooi om lede van Brics te word

In die afgelope jare het ongeveer 77% van direkte buitelandse investering (FDI) in Suid-Afrika van drie hoofsaaklik Westerse markte gekom. Powel sê die ANC sal dit nie erken nie, omdat dit nie in hul politieke belang is om dit te doen nie.

“Gegewe dat die ANC deur Russiese oligarge gefinansier word, word dit duidelik dat Suid-Afrika aanhou om aan Brics geloofwaardigheid te gee, nie omdat dit in ons belang as ’n nasie is nie, maar omdat dit in die belang is van die regerende elite en hul partypolitieke ambisies is met die 2024-verkiesing wat voorlê,” sê Powel.

Die DA gaan nou ’n versoek indien om ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, of die sogenaamde Paia-wet, te vra vir ’n volledige uiteensetting van elke faktuurkoste, die diensverskaffers en verkrygingsprosesse wat gevolg is om die beraad aan te bied.

Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het op nog ’n vraag van die DA gesê hulle het nie finansieel bygedra tot die aanbied van die Brics Parlementêre Forum wat in September gehou is nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top