Broedertwis in NG Kerk na "lafhartige verraad"

  • 0

Broedertwis het in die NG Kerk uitgebreek oor ’n sogenaamde sondebelydenis waarop een van die kerk se senior dominees by die kerk se leiers aandring.

Een van die kerk se mees uitgesproke teenstanders van gayverbintenisse, Chris van Wyk, beskuldig sy medebroers in die kerk van lafhartige verraad omdat hulle hom glo in die steek gelaat het. Van Wyk was tot onlangs self ’n senior leier in die kerk en moderator van die Oos-Kaap-sinode, asook lid van die algemene sinode se moderatuur.

Van Wyk, wat die afgelope jare ’n verbete stryd in die NG Kerk voer teen selfdegeslagverhoudings, is vies omdat die kerk se leiers hom glo nie bygestaan het toe hy by die Menseregtekommissie (MRK) van haatspraak aangekla is nie.

Die klag het gevolg na ’n uitspraak van hom oor pedofilie. Hy het gesê indien alle seksuele oriëntasies ’n geskenk van God is, soos die NG Kerk se moderator, Nelis Janse van Rensburg, volhou, hy alle seksuele oriëntasies, soos pedofilie, sou moes insluit om konsekwent in sy argument te wees.

’n Klag van haatspraak is verlede jaar deur die drukgroep Queers without Borders (QWB) teen Van Wyk by die MRK ingedien en deur dié na die Gelykheidshof geneem, maar daar het niks van gekom nie.

Van Wyk beweer die klag is teruggetrek, maar Rapport het Sondag berig die saak is nog nie afgehandel nie en die MRK wil eers met die klaers konsulteer.

Van Wyk beweer nou die NG Kerk het hom, net soos vir Beyers Naudé, in die steek gelaat. Volgens ’n verklaring wat hy aan verskeie koerante gestuur het, onder andere aan die NG Kerk se mondstuk Kerkbode, beweer Van Wyk dat Janse Van Rensburg en ander leiers en akademici in die kerk hom op lafhartige wyse verraai het. Hulle het glo versuim om ’n broer in Christus en ’n jare lange kollega te help wat vir 30 jaar “alles vir die kerk gegee het”.

Janse van Rensburg het water op die vuur probeer gooi en volgens Kerkbode ’n versoenende rol probeer speel. “Chris is my broer in Christus en ek moet verantwoordelikheid aanvaar vir die beskerming van sy karakter. Ek teken daarom hiermee verskoning aan dat ek nie meer gedoen het om Chris se karakter te beskerm nie,” het die moderator volgens Kerkbode gesê.

Janse van Rensburg stem egter nie saam met Van Wyk dat die kerkleiers kop in een mus is met die gay aktiviste of dat hy soos Beyers Naudé vermoedelik deur die kerk in die steek gelaat is nie. Hy het aan Kerkbode gesê Van Wyk en Naudé se posisies is op geen manier vergelykbaar nie.

Wat Van Wyk se beskuldiging betref dat die kerkleiers kop in een mus is met die gaygemeenskap soos verteenwoordig deur die organisasie Queers without Borders, het Janse van Rensburg aan Kerkbode gesê: “Die NG Kerk se leierskap deel beslis nie ’n narratief met die genoemde entiteit (Queers without Borders) nie. Hierdie opmerking openbaar weinig insig in die besluite en prosesse van die NG Kerk. Die enigste amptelike standpunt van die NG Kerk is dié van die Algemene Sinode 2019, naamlik dat daar ruimte gemaak word vir die, in hoofsaak, twee standpunte in die kerk. Binne die leierskap van die kerk is daar mense wat heelhartig met Chris se standpunt saamstem en ander wat die ander standpunt huldig. Dit maak gewoon net nie sin om te beweer dat die leierskap van die NG Kerk sodanige narratief sou ondersteun of ’n aksie teen Chris sou onderneem nie.”

Die Sielkundige Vereniging van Suid-Afrika se Afdeling vir Seksualiteit en Gender het destyds in ’n omvattende verklaring skerp gereageer op Van Wyk se stellings wat vertolk kon word as dat pedofilie en homoseksualiteit oor dieselfde kan geskeer moet word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top