Broodnodige teater: ’n amper-resensie van Contested bodies or Doctor James Barry, Lord Charles Somerset, and I

  • 0

Marcel Meyer as Lord Charles Somerset en Matthew Baldwin as Dr James Barry; insetsel Lungile Lallie as John Nobody

...
Hierdie stuk moet ervaar word. Elke paar minute is daar ’n nuwe, totaal onverwagse vlak wat ingebou word; die storie neem die hele tyd ’n nuwe draai.
...

Contested bodies or Doctor James Barry, Lord Charles Somerset, and I
Geskep deur Fred Abrahamse en Marcel Meyer
Spelers: Matthew Baldwin, Marcel Meyer and Lungile Lallie
Beligting: Faheem Bardien
Kostuums: Marcel Meyer
Kunstekaap-arena, Kaapstad: 16 Maart – 2 April 2022
Kaartjies by Computicket, Artscape Dial-a-Seat 021 421 7695

Lungile Lallie as Josephine Bonaparte en Marcel Meyer as Elizabeth de Vaudey

“Jy is gewaarsku”

Toe die stuk klaarmaak, sê my vriendin: “Necessary theatre.”

Op pad motor toe het ons egter besluit dat ’n grondige resensie hiervan nie moontlik gaan wees nie, juis omdat dit nie regverdig sou wees om die ware gegewens te verklap nie. Hierdie stuk moet ervaar word. Elke paar minute is daar ’n nuwe, totaal onverwagse vlak wat ingebou word; die storie neem die hele tyd ’n nuwe draai.

Moenie tradisionele teater verwag nie, beslis ook geen stigtelike oomblik nie. Tog: Die kostuums is beeldskoon. Die spel is verstommend. Hoewel jy van een historiese oomblik na die ander gegooi word, is die lyn maklik om te volg.

Wees net bewus van die skokwaarde: Die stuk is nie vir mense wat maklik aanstoot neem nie.

Aan die begin waarsku die een karakter almal dat daar seks, naaktheid, kru taal en erge vooroordeel op die verhoog gaan wees. Die teaterdeur staan dán nog oop en hy nooi enige een om liewer nou te loop. Wanneer hy dan die deur gaan toe maak, sê hy: “Jy is gewaarsku!”

An outrage for the stage

In die promosiemateriaal, en op die verhoog, word die stuk beskryf as “an outrage for the stage”.

Mooi woordspel, want “an outrage” kan natuurlik na ’n woede-uitbarsting verwys, of na diepe verontwaardiging, of iets wat so uitwaans is dat ’n mens nie anders kan as om verontwaardig te wees daaroor nie.

Contested bodies is al bogenoemde.

Poef ...

In Maart 2015 het Chumani Maxwele mense woedend gemaak toe hy ’n slopemmer oor die standbeeld van Cecil John Rhodes uitgegooi het. Mag ons dit ’n “outrage” noem?

Daar is ’n makabere verwysing na daardie dag in Contested bodies, maar ek gaan nie sê hoe nie. As jy bereid is om te ervaar, gaan kyk self. As jy nie wil weet wat die ontlasting op die verhoog doen nie, bly liewers weg.

Niks is heilig in hierdie stuk nie.

Die punt is dat Maxwele se protes – hoe grotesk ook al – mense laat vrae vra het. #RhodesMustFall is gevolg deur #FeesMustFall. Debat is gesond en belangrik. Verkieslik sonder stank, maar soms ...

Lyflikheid

Die lyf word op oneindig baie maniere ondersoek. Dr James Barry was ’n briljante mediese brein. Hy het die eerste keisersnit in Afrika uitgevoer en het afgetree as inspekteur-generaal in die Britse weermag.

Die seuntjie wat weens daardie keisersnit gebore is, is James Barry Munnik gedoop.

Munnik sou ’n landdros in die Kaap word. Toe die agtste kind van ene Johannes Albertus Munnik Hertzog gebore is, is die landdros gevra om die peetpa te word en die baba is James Barry Munnik Hertzog gedoop. JBM Hertzog sou ’n bekende in Afrikaanse politiek word – en ongelukkig ook ’n groot rassis.

Terug na die goeie dokter aan die Kaap.

Toe hy sterf, het die wêreld met skok agtergekom daar was al die jare ’n vrou se lyf onder daardie uniform.

Die beroemde dr James Barry was Margaret Ann by geboorte en is so skool toe.

As vrou was daar geen manier om medies te studeer nie.

James Barry, die mooi, verwyfde(!) jong man het toe sy plek begin vol staan in die anale van ons geskiedenis.

Barry het sy lewe gewaag om suksesvol te wees in ’n manswêreld. Barry het ook ‘n verhouding gehad met lord Charles Somerset en sy naaste vertroueling was John Danson, ’n swart man.

Alles gaan oor lyflikheid ...

Was Barry dalk trans? In sy dae het daardie woorde en begrippe nie bestaan nie.

Was dit bloot sy biologiese vloek om nie as vrou te kon studeer nie, dat hy dus as man moes leef bloot om sy drome na te jaag?

En John, die swart man? Was hy die enigste wat Barry se ware lyf geken het? In die toneelstuk word John Danson herdoop na John Nobody. Bewustelik.

Die lyf – manlik en vroulik, swart en wit – word ’n ruimte waaroor baklei word.

Drie spelers, baie karakters

In die baie mooi program wat die toneelstuk toelig, word verskeie historiese figure genoem: James Barry, Lord Charles Somerset, John Danson, die Marquise de Sade, Napoleon Bonaparte en sy eggenote, Elisabeth de Vaudey, Toussaint Louverture (wat bekend was as die swart Napoleon), Marie Antoinette, Shaka, Richard III, George III, Richard Sheridan, William Shakespeare en nog meer. My vriendin het so oor haar bril geloer en gesê: “Hoe gaan hulle al hierdie karakters betrek?”

Hulle het. Ek gaan nie sê hoe nie.

Gaan kyk self. Fiona MacPherson se mooi foto’s, wat ek hier met toestemming gebruik, lig die rokkies so effens.

Maar wees gewaarsku. Moenie as jy bang is vir naaktheid, seks en kru taal nie.

Matthew Baldwin as Napoleon Bonaparte en Lungile Lallie as Josephine Bonaparte

Internasionaal

Fred Abrahamse en Marcel Meyer se stukke word regoor Europa en die VSA opgevoer.

Contested bodies is puik teater.

Gaan kyk dit. Maar net as jy nie bang is nie.

Jy is gewaarsku.

 

  • Alle fotografie deur Fiona MacPherson, hier met toestemming gebruik.
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top