Die verhaal van Afrikaans het ’n steeds omvangryker en meer inklusiewe geskiedenis as wat algemeen aanvaar word en as wat wyd opgeteken is tot nog toe. Dit blyk uit ’n gesprek wat die Belgiese literator Yves T’Sjoen met die akademikus, navorser en skrywer Anastasia de Vries gevoer het. Willem de Vries berig oor hul Bruggenhoofden-gesprek wat onlangs in die Suid-Afrikaanse Sentrum in Kaapstad plaasgevind het.
Kennismakings
T’Sjoen het De Vries in die negentigerjare ontmoet toe sy ’n gasdosent aan die Universiteit van Gent was. Reeds voor dit, toe sy in die 1980’s aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) gestudeer het, het haar ervaring van Nederlands en die vergelykende bestudering van sowel letterkundes as tale kennisvelde vir navorsing in en oor Afrikaans begin uitwaaier tot ’n groter fokus op kritiese vergelyking.
Sy het aan die UWK Nederlands tot in haar derde jaar as een van haar hoofvakke gevolg en ná haar nagraadse studies aan die UWK is sy na Nederland waar sy aan die Vrije Universiteit (VU) verder gestudeer het, toé reeds mede omdat sy belanggestel het in die Afrikaanse taalgeskiedenis en opvattings daaroor.
“Daar is sekere goed wat my ongemaklik gemaak het en wat ek bevraagteken het. Ek het eintlik Nederlands gaan studeer om die Afrikaanse taalgeskiedenis beter te verstaan.”
Die bestudering van Nederlandse letterkunde in ’n koloniale konteks in daardie tyd het haar verryk en haar eie ervarings binne ’n ruimer konteks geplaas deur “hierdie besef van ons sit hier met ons eie pyn van die verlede maar in die res van die wêreld is daar mense wat soos ons lyk en hulle het daardie selfde pyn, dis eenders maar dit is ook anders”.
In ’n tyd toe komparatisme bekend gestaan het as vergelykende studies het De Vries en Steward van Wyk, voorsitter van die departement Afrikaans en Nederlands aan die UWK, hul toe nog as studente reeds verdiep in die verryking wat Nederlandse voorbeelde hulle bied in navorsing, waaronder die Nederlandstalige Karibiese letterkunde. Hulle was dus nie beperk tot Engelstalige postkoloniale voorbeelde nie.
Hoewel sy die VU se keuringseksamen vir Nederlands geslaag het, is sy wel toegelaat om (op ’n enkele uitsondering na) haar dosente se werkstukke in Afrikaans te skryf. Sy was die enigste student van die Leidense literator Olf Praamstra wat haar vir sowel koloniale as postkoloniale en Indiese letterkunde ingeskryf het.
Vergelykend lees
Sy ontgin vandag Afrikaanse en Nederlandse werk in vergelykende verband “om vir studente te wys hoe dit wat in die Nederlandse letterkunde is, sommige kere teruggespeel word in Afrikaans. Nie net om hulle bewus te maak van die verbintenisse nie, maar ook empatie te hê met iemand soos Cola Debrot (skrywer van Mijn zuster, de negerin, 1935) byvoorbeeld wat met dieselfde goed geworstel het waarmee ons studente vandag worstel”.
Sy sonder ook skrywers uit soos die Nederlandse Antilliaanse skrywers Tip Marugg en Boeli van Leeuwen. In Amsterdam is in haar ervaring feitlik net mans se werke behandel, en dus in ’n mindere mate werke van skrywers soos Hella Haasse en Astrid Roemer. Die skryfwerk van die Antilliaan Debrot bly haar by mede vir hoedat dit, al dateer dit van die 1930’s, struktureel, skryftegnies ’n werk is waarby ’n Afrikaanse skrywer soos haar kollega Valda Jansen aansluit.
Vandag behandel De Vries werk van Roemer met die derdejaars en ook Marion Bloem se deurbraakwerk, Geen gewoon Indisch meisje (1983), as skryfwerk waarna sy gereeld terugkeer of verwys.
Sy ag dit belangrik dat studente kennis maak met die werke van ouer skrywers sowel as meer onlangse werke. Wanneer hulle kortverhale bespreek, is deel daarvan werk (rubrieke) van ’n Nederlandse skrywer soos Simon Carmiggelt, tesame met letterkunde uit voormalige Nederlandse kolonies. Hierdeur slyp sy aan kritiese studievaardighede soos om ’n vergelykende, empatiese blik by studente tuis te bring.
Saam met Wium van Zyl het sy aan die UWK se departement Nederlands ook al Renaissance-letterkunde en 17de-eeuse taalkunde aangebied en dit is nog altyd haar belangstelling, so ook Middelnederlandse letterkunde en taalkunde, het sy gesê.
Op dieselfde manier waarop sy aanklank gevind het by Nederlands en Nederlandse bronne, ontsluit sy vandag letterkunde en kennisvelde op maniere waarby ook haar studente aanklank vind en sy het verwys na die belangstelling onder hulle om Nederlands te leer en om die taal te kan praat. Studente wat die gesprek die oggend bygewoon het, is dit met haar eens.
Kerke en taalgeskiedenis
In een van haar navorsingsfokusse stel sy ondersoek in na die rol van Afrikaans as kerktaal in die Rooms-Katolieke Kerk in Suid-Afrika.
Haar studies in Nederland het haar baie krities en bewus gemaak van die noodsaak om anders te kyk en so ook na die geskiedenis van Afrikaans, het sy gesê. Waar dit gaan oor kleur, ras, geloof, veral dan die Moslemgeloof, is al baie goeie vordering gemaak ten opsigte van die navorsing oor die geskiedenis van Afrikaans, maar nog te weinig is op die gebied van (Afrikaanse) kerktaalgeskiedenis in byvoorbeeld die Rooms-Katolieke Kerk gedoen.
“Daar is ’n opvatting in Afrikaans dat alles wat Nederlands is, is Afrikaans se geskiedenis. My argument is dat as dit so is dan moet die geskiedenis van die kerstening van Nederland en België wat sedert die vierde eeu plaasgevind het, en die geskiedenis van Afrikaans as kerktaal mos dáár begin.
“In Nederland byvoorbeeld het daardie ding van ‘die geloof van die heerser is die geloof van die land’ nie gegeld nie. So hoe kan mense daai vat en sê dit is die norm vir almal?
“Is dit nie ironies dat Afrikaans as kerktaal eers tussen 1914 en 1916 in die Gereformeerde kerke as die kerk- en Bybeltaal en so meer aanvaar is nie?” het sy gesê. Telkens word Afrikaans dan as ’n 20ste-eeuse verskynsel in die Gereformeerde kerke beskou “maar dit sê niks van wat met Afrikaans as spreektaal toe geruime tyd reeds in ander kerke aan die gang was nie”.
“In Afrikaanse taalgeskiedenis is Afrikaans as kerktaal ’n 20ste-eeuse verskynsel. In my kerk (Rooms-Katoliek) se geskiedenis is dit ’n 20ste-eeuse verskynsel. Ek sê nee, dit kan nie wéés nie, want as hier (in Suid-Afrika) Katolieke was in die 17de eeu dan het hulle deel gehad in die vorming van Afrikaans. En dan moet ons die kerktaalgeskiedenis herbekyk. Nie almal was Gereformeerd nie.
“Rooms-Katolieke het in 1824 in die Oos-Kaap Afrikaans as kerktaal gebruik toe dit nog gestigmatiseerd was, toe dit nog nie ‘gekultiveerd’ was nie. So alles wat buite die skryftaalgeskiedenis van Afrikaans lê, bestaan nie, want dis nie opgeskryf nie. Daar bestaan wel studies wat dit bewys.”
NP Van Wyk Louw en die Rooms-Katolieke verbintenis
Dit val T’Sjoen op dat in haar wetenskaplike publikasies veral van korreksies, van herverbeelding gepraat word.
“In 2020 het jy ’n artikel gepubliseer in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe waarin jy dit het oor die herverbeelding van NP Van Wyk Louw in Katolieke verband. Jy wil laat reg geskied aan die geskiedenis deur dit nie alleen te herverbeel nie maar op grond van bronneondersoek.”
“Die eerste doktorale studie oor Afrikaans in Katolieke verband is onder die begeleiding van NP Van Wyk Louw aan die Universiteit van die Witwatersrand gedoen deur ’n priester, Dirk (Jan) Gomes,” het sy gesê.
Sy noem dat Gomes behoort het tot die Dominikane en verwys na Louw se gedig “Die hond van God” (in Gestaltes en diere, 1942) oor die geskiedenis van die Inkwisisie waaragter die Dominikane die dryfkrag was.
Louw het dan ook saam met Karel Schoeman die handboek van die Legioen van Maria in Afrikaans vertaal en sy het gesê dit is die bloudruk vir (Afrikaanse) vertalings daarvan sedertdien.
’n Ander verhaal oor Afrikaans
“Wanneer ons praat van samewerking tussen mense van verskillende (taal- en) kerkverbande dan vertel die Katolieke kerk se geskiedenis ’n baie interessante verhaal. Die eerste woordeboek, die eerste woordelys van Afrikaans, het gekom uit Stellenbosch. (JJ) Smith was die eerste taalversorger van die woordelys wat uitgegee is deur ’n Engelse priester. Die samewerking tussen Protestante en Katolieke was baie meer innig en was baie meer werklik as wat die geskiedenis (in Suid-Afrika) voorgee,” het De Vries op gewys.
T’Sjoen het genoem dat dit belangrik is dat daar ’n korreksie op die bestaande storie van Afrikaans is en waarvoor sy ’n belangrike ondersoek gedoen het. “Wanneer jy dan veral die Katolieke kerk ondersoek en Afrikaans binne die Katolieke kerk, dan bied dit jou ’n toegangsweg wat daardie korrektief en ander verhaal vertel oor Afrikaans,” het hy gesê.
Die geskiedenis van die Katolieke kerk in Suid-Afrika het leemtes wat geskiedskrywing nie afdoende verduidelik nie, het sy te kenne gegee.
Tot 1838 was daar geen Katolieke biskop in die land nie. Dit laat by haar die vraag ontstaan: Waar het al die Katolieke dan skielik vandaan gekom om in 1838 ’n biskop te kon aanstel? Die aanvaarde siening was dat daar net Gereformeerdes was. “Of in 1820 toe ’n biskop aangekondig is, maar hy mag nie sy voete hier gesit het nie, want die Katolieke kerk was saam met die Baptistekerk verbied.”
Sy noem dat die Anglikaanse kerk wel Afrikaans as spreektaal al in 1850 in kerkverband gebruik het.
“Die enigste kerkverband wat toegelaat was, is die Gereformeerde kerke. So ek probeer daardie geskiedenis ook regstel, want die toevallighede is vir my te veel.”
T’Sjoen het gevra of haar navorsing ook ’n dekoloniale blik op die geskiedenis inhou; in Tydskrif vir Nederlands & Afrikaans het sy dit in ’n artikel oor “Afrikaans se verborge Katolieke geskiedenis in die Noord-Kaap”.
“Dit het vir my daarmee te doen gehad dat in die geskiedenis veral van my kerk word Nederlands en Afrikaans sommer net gekoppel. En omdat daar nie Nederlandse priesters was nie, nou was daar dan ook nie Afrikaanses nie. Maar die geskiedenis van Afrikaans in die Katolieke kerk lê nié by Nederlands nie, dit lê juis by Engels en dit lê by Frans.
“In die Noord-Kaap, byvoorbeeld, was die eerste biskop, biskop Simon, ’n Fransman. Hy vertel in sy dagboek wat in Engels vertaal is, hoe hy saans aan tafel sit en Afrikaans leer en hy noem dit ‘the Dutch of Africa’ wat hy moeiliker as die Nederlands van Nederland ag.”
Veelsydige stem
T’Sjoen ag De Vries ’n besonderse, betrokke dosent, aktief as rubriekskrywer, bekend as meermaal bekroonde joernalis en ook vir haar maatskaplike stem met haar betrokkenheid onder meer in haar gereelde rubriek in Vrye Weekblad. Hy het ook met haar gesels oor haar rubrieke in Rapport, waarvan vroeër ’n keur as Baie melk en twie sykers (2010) gebundel is.
Sy beskou haar rubrieke as maniere van oplossings vind vir probleme, ’n manier om ’n groter publiek te bereik en daarmee saam om hopelik mense se denke te verander. Deur middel van haar rubrieke skenk sy bewustelik aandag aan die soort verhale wat nié die voorblaaie haal nie. Sy het dit oor die eweneens belangrike verhale van sorg en sorgsaamheid in gemeenskappe wat grotendeels buite om die nuusblaaie bestaan.
Uit hoofde van haar daaglikse betrokkenheid by Afrikaanse studente in ’n veeltalige land, is dit belangrik dat genuanseerde en ondervertelde verhale oor Afrikaans ook tot hul reg kom. T’Sjoen ag haar bydraes veral belangrik as ’n stem vir en uit ’n gemeenskap en noem hoedat Afrikaans tans ontwikkel as literêre idiolek, as literêre skryftaal en spesifiek as taal van gemeenskappe wat dit vandag hul eie gemaak het.
Op ’n manier wat iets bevat van Carmiggelt se Kronkel-rubrieke waarin destyds hy die buurtlewe in Amsterdam op wyd herkenbare wyse opgeteken het, bring sy die lewe in Ravensmead in haar gebundelde rubrieke in kaart. Dit gaan vir haar veral steeds daaroor om aandag te skenk aan die bestaande interafhanklikheid tussen mense oor sosio-ekonomiese verdelings heen wat ook al daar dalk mag bestaan. “Mense lees nie noodwendig die Bybel of mense haal nie gewoonlik daaruit aan nie, maar (hulle) leef dit. Daardie ding van ek moet sorg vir mense, jy weet vir wie jy kan gaan vra.”
Nuwe stemme
Onder haar talle rolle en betrokkenhede tel haar deelname as medesamesteller aan die uitreiking van die eerste uitgawe van Nuwe stemme, ’n reeks waarin voorste Afrikaanse digters gedebuteer het en waarvan sy saam met die Afrikaanse skrywer George Weideman die eerste, rigtende uitgawe saamgestel het. Haar kernbeginsel in die beoordeling van letterkunde was en bly dat dit gaan om die gehalte van die skryfwerk. Sy en Weideman het gereeld byeengekom om uit die talle inskrywings wat ingestuur is, die beste gedigte te kies. Vandag is dit steeds haar lees daarvan: “Ons moet die beste uitgee. Ek gee nie om wátter kleur jy is nie.”
In haar joernalistieke werk is dit vir haar hoofsaak dat die mense oor wie sy skryf hul stories kan eien en daarmee saam dat dit mense se denke oor mekaar en mekaar se gemeenskappe verander.
Sy sê baie vir haar studente dat die sentrum van mag nie meer by die dosent lê nie. “Ek kom uit die joernalistiek uit en ek sien waar ek gehelp het met die opleiding van jonger joernaliste, hulle is te bang om te verskil van jou. Hulle is te bang om jou uit te daag. Ek hou daarvan as ’n student my uitdaag, dan moet ek dink oor goed.
“Ek sê altyd vir my studente (Chimamanda Ngozi) Adichie het gepraat van die ‘danger of a single narrative’. As daar ’n klomp stemme is oor dieselfde onderwerp, luister na almal.
“Dit gaan soms verskriklik roesbolling in my klasse en dit gaan soms verskriklik deurmekaar in my kantoor, maar dít is waar ons met mekaar práát.
“Ek hou daarvan om Nederlandse letterkunde aan te bied omdat dit iets vreemd is vir die studente, daar moet wisselwerking wees. Hulle moet vir my kan vra, hulle moet kan sê maar ek verstaan dit nie so nie,” het sy gesê.
Gee en aangee in ’n groeiende departement
T’Sjoen wou graag meer weet oor die UWK se departement Afrikaans en Nederlands wat in die uitsonderlike posisie is dat dit ’n groeiende departement is, met baie en betrokke studente wat entoesiasties en gesteld is op hul studies.
“Ek dink dit het daarmee te doen dat ons baie deeglik bewus is daarvan ons kom uit daardie selfde omstandighede van ons studente. En ons gee terug. Ek sê altyd as ek nie iemand soos Wium van Zyl gehad het nie, waar was ek vandag?”
Wat hy as mentor vir haar beteken, gee sy vandag terug aan die studente, sy sien dit ook by iemand soos hul departementshoof wat altyd sê as hy na hulle (die studente) kyk, dan sien hy homself.
T’Sjoen het haar gevra oor Van Wyk as ’n belangrike verbindende figuur binne die huidige departement en wat een van die dae die tuig gaan neerlê.
Hy het die departementshoof geword in ’n tydperk van die geskiedenis van die UWK – sy was al elders betrokke voordat sy sou terugkeer na die departement – toe afleggings plaasgevind en min mense oorgebly het. En omdat die nuus oor en uit die akademie so negatief was, het al hoe minder ouers hul kinders na UWK gestuur om Afrikaans en Nederlands te studeer. Uiteindelik was daar iets soos 30 studente, het sy gesê.
“Steward het daardie departement laat groei. Hoe hy dit gedoen het, weet ek nie. Ons het in ’n jaar sowat 100 swart studente uit die Oos-Kaap (ontvang) wat Afrikaanse taalverwerwing gedoen het. En ek dink dit het ook baie te doen met die dosent, Annemarie Swartz, ’n uitstekende taalverwerwingsdosent.
“Dit was die eerste keer in die geskiedenis van UWK dat swart studente op die kantoor van die dekaan afgestorm het en geëis het dat hulle vir ’n tweede jaar Afrikaans wil doen. Dit was nogal ’n moment gewees. Dit het alles onder Steward se leierskap gebeur. Hy het die departement van verskraling opgebou tot wat dit vandag is.”
Nederlands aan UWK
Alfred Schaffer, ’n veelbekroonde Nederlandse digter en poësiedosent aan die UWK en US, het gevra na wat sy vir haarself in die vooruitsig stel wanneer sy sou aftree en sê dat, soos Van Wyk ook, sy ’n groot leemte sal laat.
“Ek voel dít is my taak om te volbring: (om) ’n jonger geslag gereed te maak om hul plek te kan inneem.
“Nederlands aan UWK is swart en dit is vir studente iets as iemand soos Alfred voor die klas kom staan.”
Sy het beklemtoon dat dit ook belangrik is dat ’n ander narratief ten opsigte van Nederlands daargestel en uitgebou word. “Want Nederlands is vir hulle (die studente) wit. Ek dink in hulle koppe dink hulle dit is die domein van wit mense. Ons probeer daardie narratief verander.”
Die aftrede wat sy in die vooruitsig stel, lyk nou reeds of dit opnuut ’n onverminderd besige tyd vir haar gaan inlei.
“Ek wou altyd ’n ontwerper gewees het. Ek het verlede jaar al vir my ’n kursus betaal wat ek so gou moontlik wil volg. Maar ek wil nie klere maak vir vroue wat lyk soos ek nie. Ek wil klere maak vir vrouens wat groot is, wat groot gebou is, want ek dink dit is nogal afgeskeep. My vriende is almal groter gebou as ek. En ek glo nie ’n mens moet naywer stimuleer nie. So ek wil ook dit verander.”
Aan haar skryfwerk gaan sy ook meer tyd bestee, asook aan navorsing oor die sosiolinguistiese beskrywing van Afrikaans in die Katolieke kerk.
“Die letterkunde is eintlik die taalkunde op baie verskillende maniere vooruit.”